Finale argumente in eis om skadevergoeding
Finale argumente in eis om skadevergoeding

Finale argumente in eis om skadevergoeding

Regslui het Vrydag in die hoërhof hul ­slotargumente begin in die saak van een van die mans wat vrygespreek is in die Caprivi-­verhoor en die regering nou vir meer as N$15,3 miljoen dagvaar.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jacqueline Louw



In die saak van mnr. Richwell Kulisesa Mahupelo,­ wat die staat vir miljoene dollar dagvaar in sy eis om skadevergoe­ding­ vir sy aanhouding vir 4 716 dae, het senior adv. Andrew Corbett Vrydag namens Mahupelo sy slot­argument in die hoërhof voor waarnemende regter Philanda Christiaan gelewer.

Mahupelo eis die bedrag van N$15 321 400 van die regering, die aanklaer-­generaal en die minister­ van veiligheid en sekuriteit nadat hy van al die klagte teen hom in die hoogverraadverhoor in Februarie 2013 vrygespreek is.

Die eiser en ander be­skuldigdes is op 18 Mei 2001 in hegtenis geneem vir hul beweerde aandeel in die aanval deur die Caprivi Bevrydingsmag in Katima Mulilo in die destydse Caprivi­streek. Ná ''n verhoor van bykans 13 jaar is Mahupelo­ deur die hoërhof onskuldig­ bevind en kwytgeskeld, ''n situasie wat Corbet as “uitsonderlik” beskryf omdat dit ''n ongewone lang tydperk vir ''n verhoor is.

Mahupelo eis skadevergoeding vir kwaadwilige vervolging of alternatiewelik die aaneenlopende onreëlmatige en kwaadwillige vervolging teen hom wat neerkom op die skending van sy grondwetlike regte.

Hoewel dit nie ''n eenvoudige saak was nie, voer Corbett aan die staat behoort sy grondwetlike pligte met erns te bejeën. Ofskoon die staat ''n plig het om oortreders te vervolg, moet hierdie plig met beskuldigdes se regte gebalanseer word. “Daar is sekere internasionale standaarde waaraan aanklaers behoort te voldoen en hulle moet die vervolgingsproses bestuur binne die perke van hul grondwetlike verpligtinge,” het Corbett in sy betoog gesê.

Hy het verder genoem dat ''n noodtoestand nie tydens die eiser se inhegtenisneming geheers het nie, maar nogtans is hy vir ''n tydperk van ongeveer vyf weke aangehou voordat hy aangekla is en voor die hof verskyn het. Daar was ''n “wetteloosheid” wat die agtergrond tot die eiser se vervolging gevorm het, het Corbett gesê.

Hy het ook aangevoer indien die aanklaer die verhoor van die Caprivi-­afstigters verdeel het in groepe van dié wat aan meer ernstige en diegene wat aan minder enigste klagte tereg gestaan het, die verhoor regverdiger sou wees en nie langer as tien jaar geduur het nie.

Hy het verder gesê dat logistiek nie swaarder behoort te weeg as ''n be­skuldigde se reg tot ''n regverdige verhoor nie. “As aanklaer kan jy nie sê dat gerief grondwetlike regte troef nie.”

Volgens hom was dit nie billik dat daar in ''n tydperk van ten minste ses jaar geen hersiening van die getuienis in die eiser se lêer was nie.

Senior adv. Ishmael Semenya het Maandag sy betoog namens die verweerders gelewer. Die saak van die verweerders is dat Mahupelo se vervolging wettig was. Semenya het aangevoer die aanklaer-generaal het binne haar grondwetlike magte opgetree om die eiser van hoogverraad te beskuldig. Semenya het verder in sy argument genoem die aanklaer-generaal wou Mahupelo nie vrylaat nie, omdat sy geglo het ''n skuldigbevinding kon teen hom verkry word. Die verdediging se saak is verder dat die eiser se eis vir grondwetlike skadevergoeding nie kan slaag omdat sy vervolging nie onwettig was nie.

Die staat se saak is dat getuieverklarings gelewer was tot die effek dat Mahupelo by die Caprivi-afstigting betrokke was. Hy was ook in hegtenis geneem saam met Bennet Mutuso, ''n bevelvoerder van die Caprivi bevrydingsmag wat aan hoogverraad skuldig bevind is. ''n AK-47-geweer sowel as kos vir die rebelle was ten tyde van hul inhegtenisneming in die motor gevind.

Semenya het betoog die eiser moet bewys die verweerders se ver­volging was sonder rede­like gronde en kwaadwil­lig en het verder gesê dat die eiser nie daarin geslaag het nie. Hy het dus die hof versoek om Mahupe­lo se eis met koste van die hand te wys.

Indien die regter ''n uitspraak in Mahupelo se guns lewer, mag ander vrygespreektes in die Caprivi-­saak waarskynlik ook skadevergoeding van die regering eis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!