Finansiering vir boere vanjaar moeiliker
Suid-Afrika se boere se skuld is die hoogste ooit en weens die droogtes moes hulle in hul kapitaal delf om te oorleef.
Vida Booysen - Plaasskuld beloop sowat R160 miljard – die hoogste wat dit nog was. Dit beteken finansiering vir die nuwe plantseisoen moet “realisties en omsigtig” gehanteer word, sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz.
Boere in die somersaaigebiede moet teen 31 Augustus die vorige seisoen se produksielenings terugbetaal en onderhandelings vir nuwe produksiekrediet word tans gevoer.
Purchase wys daarop dat boere se skuldvlakke ook in reële terme, sonder die uitwerking van inflasie, hoog is.
“Weens die uitwerking van drie opeenvolgende droogtes moes boere in hul kapitaal delf om aan die gang te bly, en het die verhouding van laste tot bates verswak,” sê Purchase.
Dit kan beteken dat nuwe skuld vanjaar moeiliker bekombaar sal wees.
“Die risiko raak hoog veral in gebiede met marginale landbougrond en finansiers sowel as produsente moet realisties daaroor wees.”
Die sleutel tot sukses lê volgens Purchase in die voorlegging van ’n goeie sakeplan asook ’n duidelike uiteensetting van hoe kontantvloei bestuur gaan word.
“Marginale produksiegebiede sal ook alternatiewe oplossings moet oorweeg, soos om vanjaar nie te plant as daar realisties gesproke nie ’n wins te make is nie.”
Dié situasie word vererger deur lae plaaslike en internasionale pryse vir graan en oliesade asook ’n groot oordragvoorraad van witmielies.
Suid-Afrika se ekonomiese en politieke probleme skep ook ’n omgewing van onsekerheid en risiko, sê Purchase.
“Aansienlike politieke onsekerheid sal in die aanloop tot die ANC se verkiesingskonferensie heers en die uitslag sal ’n aanduiding gee van waarheen die land vir die volgende dekade op pad is.
Hy sê die hele landbou-waardeketting het baat gevind by die afgelope jaar se rekordoeste vir mielies en sojabone.
Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se sesde produksieskatting van somergrane vir die seisoen word die totale mielie-oes nou op 15 969 300 ton geskat.
Die sojaboonproduksie vir die seisoen word op 1,34 miljoen ton geskat. Dit is slegs die tweede keer in die geskiedenis dat sojaboonproduksie in Suid-Afrika die miljoen ton-kerf verbysteek.
“Dit is veral die verbruiker wat voordeel trek aangesien voedselinflasie reeds afgeneem het, veral waar stapelvoedsel ter sprake is.”
Die huidige risiko-situasie vir die verlening van verdere skuld kom nadat die bedryf aan die begin van dié rekordseisoen steeds in die greep van die ergste droogte in ’n eeu was. Baie boere kon nie hul skuld delg nie.
“Finansiers het boere egter binne die raamwerk van die Nasionale Kredietwet gehelp, al was daar toe groot produksierisiko’s.”
In baie gevalle is boete-rentekoerse nie gehef nie en finansiers het die bykomende risiko gedra.
Purchase sê ondanks die hoë skuldvlakke is daar steeds ruimte vir kredietverlening.
“Skuld is ’n belangrike bron van finansiering vir die landbou en boere se terugbetaalvermoë is oor die algemeen goed.”
Dit is ook verstaanbaar dat skuldvlakke hoog is, aangesien boere ná die droogte meer leen om reserwes op te bou en weer in produksie te kom.
“Boerdery is dikwels ’n geloofsprong, maar deeglike beplanning saam met die finansier of landbou-onderneming is ook van uiterste belang om suksesvol te boer,” sê Purchase. – Volksblad/Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie