Finland vier eeu van onafhanklikheid

Finland het in 1917 van Rusland onafhanklik geword.
Estelle de Bruyn
Die herdenking van Finland se honderdste jaar van onafhanklikheid word vanjaar gevier.

In Windhoek word die viering vanaand by die Nasionale Teater aangebied. Ambassadeur Pirkko-Liisa Kyöstilä en 'n verteenwoordiger van die Namibiese regering sal geleentheidsredes lewer waarna die pianis Laura Mikkola 'n klavieruitvoering sal lewer. Dit word gevolg deur 'n buffet-aandete. Finland en Namibië geniet noue diplomatieke betrekkinge.

Volgens 'n verklaring deur die Finse ambassade in Windhoek berus die 100 jaar oue Finland op waardes wat deur Finne gekoester word, naamlik demokrasie, onderwys, gelykheid en vryheid van spraak.

Die vieringe bereik vandag 'n hoogte­punt met geleenthede oral oor Finland en in meer as 100 lande wêreldwyd.

Finland het op 6 Desember 1917 ná 'n lang stryd 'n onafhanklike staat geword.

“Vir 'n honderd jaar is Finne ­betrokke by die opbou van hul land en gesamentlike besluitneming.

“Die ononderbroke periode van 100 jaar se demokrasie is uitsonderlik en Finland het gereeld die topposisie in verskeie internasionale graderings bereik.

“Die verhaal van die 100 jaar oue Finland is uniek en verdien 'n ­spesiale viering.

“Die eeu van onafhanklikheid is die mees betekenisvolle herdenking in ons leeftyd.

“Hierdie epiese jaar is op 'n unieke en ope manier, in samewerking met die hele samelewing, Finne en vriende van Finland in meer as 100 lande saamgestel,” het Pekka Timonen, hoofsekretaris vir die eeufees-onafhanklikheidsviering in die kantoor van die eerste minister, gesê.

Die feesprogram is ryk aan verskeidenheid en gee 'n oorsig van hoe die land vandag daar uitsien.

Meer as 5 000 projekte is in die vieringe ingesluit en sluit in kultuur, natuur, geskiedenis en hoe om goed teenoor mekaar en tot voordeel van die toekoms van Finland op te tree.

Blou en wit ligte, die kleure van Finland se nasionale vlag, sal oor die land heen brand.

Spesiale monumente en plekke soos Saana in Lapland sal in blou en wit verlig word.

Volgens die verklaring is Finne die wêreld se grootste koffiedrinkers en die hele land sal saam verjaardag-­koffie geniet. Aanhangers van karaoke sal op dieselfde tyd oral in die land in karaoke-restaurante ikoniese Finse liedjies sing.

Die land se nasionale sport, ys­hokkie, sal in 'n buitemuurse stadion in die hart van Helsinki gespeel word, wat spesiaal vir die geleentheid gebou is.



Pad na onafhanklikwording

In die 18de eeu het oorloë tussen Rusland en Finland twee keer tot die besetting van Finland deur Russiese magte gelei. Hierdie tye staan in Finland onderskeidelik bekend as die Groter Toorn (1714–1721) en die Mindere Toorn (1742–1743).

Byna 'n hele generasie jong mans het hulle lewe in die Groot Toorn verloor vanweë die verwoesting van huise en plase en Helsinki wat afgebrand is.

Die twee oorloë tussen Rusland en Swede het die mense van Finland herinner aan die land se onsekere posisie tussen sy twee magtige buurstate.

In die gees van die veronderstelling van Adolf Ivar Arwidsson (1791–1858), “ons is nie Swede nie en ons wil nie Russe word nie, laat ons daarom Finne wees,” is begin om 'n Finse nasionale identiteit tot stand te bring.

Op 29 Maart 1809, nadat die weermag van Alexander I van Rusland in die Finse oorlog die land oorgeneem het, het Finland 'n outonome hertogdom in die Russiese ryk geword, wat eers in 1917 beëindig is. - Bykomende bron Wikipedia

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!