‘Fishcor-bestuur saboteer ons rol’
Skote klap op die Fishcor-slagveld tussen die raad en bestuur.
Ronelle Rademeyer – Spanning bou op tussen die raadslede van die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor) en die bestuur en aandeelhouers van dié staatsbeheerde maatskappy se Seaflower-filiale en -vennote op Lüderitz en Walvisbaai.
Mnr. Mihe Gaomab II, voorsitter van Fishcor, en die ander raadslede, mee. Ruth Herunga, Milka Mungunda en dr. Penny Hiwilepo, word daarvan beskuldig dat hulle hul plig versuim en dat die onderskeie Seaflower-filiale gevolglik kan ondergaan.
Dié raad is op 27 Julie as tussentydse direksie vir ’n tydperk van ses maande aangestel nadat die vorige raad se termyn verstryk het. Fishcor was die episentrum van die Fishrot-korrupsiebom wat in November verlede jaar gebars en tot die inhegtenisneming van die vorige raadsvoorsitter, mnr. James Hatuikulipi, en die hoof uitvoerende beampte van Fishcor, mnr. Mike Nghipunya, gelei het.
Laasgenoemde se pos is nog nie gevul nie.
Sewe van Fishcor se senior bestuurslede het Gaomab en die ander raadslede op 23 Oktober in ’n lang brief versoek om dringend aandag te gee aan die kontantvloeikrisis en ander faktore wat die groep se winsgewendheid onder druk plaas en kan meebring dat salarisse nie op 25 November betaal word nie. Dié brief is vandeesweek aan die media gelek.
LÜDERITZ-OPERASIE LAMGELÊ
Fishcor besit 100% van die aandele in Seaflower Lobster Corporation en 78% in Seaflower WhiteFish Corporation op Lüderitz.
Hoewel die stokvisseisoen reeds op 1 November geopen het, vang nie een van Seaflower WhiteFish se bote tans vis nie.
Dit blyk uit die bestuurders se brief aan die raad dat die direktoraat vir maritieme aangeleenthede in die ministerie van werke en vervoer nie veiligheidsklaringsertifikate kon uitreik nie, aangesien die vissersbote nie gediens is nie.
Daar is vyf bote wat vis vir aanlandige verwerking vang en een vir gevriesde uitvoere.
Verder, sê hulle in die brief, is nie aandag gegee aan die versoek dat die jaarlikse kontrakte vir die verhuring van Seaflower Lobster se kreefbote aan skippers hernu word nie. Die vangseisoen het ook op 1 November begin.
Volgens ’n ingeligte bron in die visbedryf skuld Fishcor die ministerie van visserye en mariene hulpbronne sowat N$9 miljoen aan heffings. Voor dit nie betaal word nie, kan visvanglisensies nie uitgereik word nie en is die bote gehok.
Gaomab het gister in ’n sterk bewoorde verklaring teruggekap na die bestuur van Fishcor en gesê dit is juis omdat hulle nie hul werk doen nie, dat sake so beroerd is.
Verder het hy aan Republikein gesê Nghipunye, wat verskeie kere onsuksesvol probeer het om borgtog te kry, “beïnvloed” steeds die bestuur vanuit die tronk. Volgens hom is daar “anekdotiese bewyse” dat dit gebeur.
“Die raad se taak word soms belemmer deur bestuurders wat nie hul volle samewerking aan die raad gee nie, of inligting weerhou.”
Verder beskuldig Gaomab “sommige bestuurders” van “’n duidelike konflik van belange” en sê hulle “saboteer Fishcor saam met diegene wat met die Fishrot-skandaal verbind word”.
Mnr. Paulus Ngilangi, die Fishcor-groep se hoofbestuurder: finansies, wou gister by navraag geen kommentaar lewer op die brief wat deur hom en ander senior bestuurslui aan die raad, asook aan ministers Leon Jooste (van staatsondernemings) en Albert Kawana (van visserye en mariene hulpbronne) gestuur is nie.
SEAFLOWER PELAGIC PROCESSING
Op Walvisbaai het betrekkinge tussen African Selection Trust (AST) en Fishcor, wat onderskeidelik 60% en 40% van die aandele in die maasbankeraanleg Seaflower Pelagic Processing (SPP) besit, ook verder versleg.
Dit blyk Fishcor se raad dien sedert SPP se direksievergadering en algemene jaarvergadering wat op 30 Oktober plaasgevind het, nie meer op die direksie van enige van die SPP-entiteite nie.
Die Fishcor-raadslede het op 24 Augustus as lede van SPP se direksie bedank toe ’n dringende direksievergadering belê is om AST se dringende hofaansoek teen die beplande viskwotaveiling van die regering te bespreek.
’n Konflik van belange is as rede vir die bedanking aangevoer. Op 30 Oktober is met ’n meerderheidstem besluit om hulle ook van die direksie van SPProperties verwyder. SSP besit 100% van die aandele in dié eiendomsfiliaal.
Dié verwikkelinge is deur mnr. AJ Louw, voorsitter van SPP, bevestig.
Jooste het gister by navraag só op gebeure reageer: “Die Fishcor-situasie is uiters kompleks vanweë die Fishrot-ondersoek en ons primêre doel is om enige verdere skade te voorkom. Ons moet altyd in die beste belang van die publiek optree, en in dié geval dus in die beste belang van die besigheid en sy werkers.
“Ons het te doen met ’n groot hoeveelheid groepe en/of individue wat inherente belange het en natuurlik daardie belange wil beskerm. Die tussentydse raad wat ek aangestel het, het my volle ondersteuning en ek is geensins verbaas om te sien dat hulle weerstand beleef nie,” sê hy.
Jooste sê komplekse regskwessies vertraag tans sekere prosesse, maar dit sal oorkom word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie