'u00adFishrot-geld nie op my plaas begrawe'
'u00adFishrot-geld nie op my plaas begrawe'

'­Fishrot-geld nie op my plaas begrawe'

Die boer op wie se plaas daar na bewering geld begrawe was, ontken ten sterkste dat dit met die Fishrot-verdagtes verband hou.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



“Daar was definitief nie Fishrot-geld of geld van die Fishrot-beskuldigdes op my plaas begrawe nie. Die polisie en die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het dit ondersoek.

“Die media probeer daardie storielyn skep, maar dit is onwaar,” het mnr. Dawie Moller, boer, eien­domsontwikkelaar en besturende direkteur van D&M Rail Construction, Vrydag in 'n onderhoud gesê.

Moller is op 5 Januarie vanjaar saam met sy plaasvoorman, mnr. Hendrick Rooi, op sy plaas suid van Gobabis in hegtenis geneem.

Hy staan in die landdros­hof op dié dorp tereg op klagte van geldwassery, die besit van onverklaarde geld, die versuim om dié geld te verklaar, diefstal en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Rooi staan tereg op 'n klag wat verband hou met die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca).

“Ek weet presies wat gebeur het, en dit is definitief nie ­naastenby soos die media beweer nie,” het Moller in reaksie op 'n berig in The Namibian dat 'n tas vol geld wat in die veld op sy plaas begrawe was, deur plaaswerkers gevind is.

Die waarheid, sê Moller, sal in die hof “uitkom” en hy wil nie verrigtinge vooruit loop nie.

Volgens dié berig het die Fishrot-beskuldigdes na bewering N$9 miljoen in 'n 25 kg-sak begrawe voor hulle in hegtenis geneem is.

Mnre. James Hatuikulipi en Sacky Shanghala, onderskeidelik die gewese voorsitter van die staat se vismaatskappy, Fishcor, en die voormalige prokureur-generaal en minister van finansies, se plase Dixie en Gunsbewys, is sowat 15 km vanaf sy plaas geleë. Hulle is twee van die sleutelverdagtes in die Fishrot-korrupsieskandaal.

“Ongelukkig is daar van verlede jaar af 'n poging deur die media om mense wat hulle goed geken het, ook met Fishrot te verbind,” het Moller aan Republikein gesê.

“Die geld wat deur stukwerkers gesteel is, was geld wat uit die opbrengs van die boerdery verdien is. Toe die geld einde verlede jaar weggeraak het, het ons dit eers stilgehou. Die storie is besig om 'n hengse veiligheidsrisiko vir ons te word,” sê hy en voeg by hy moes intussen 'n sekuriteitsmaatskappy aanstel om na die veiligheidsitua­sie op sy plaas om te sien.

Moller sê hy sien vreemde voetspore in die veld en merk onbekende voertuie op die distrikspad naby sy plaas op.

Oor sy vriendskapsband met Hatuikulipi, sê Moller hy het hom in 2006 leer ken toe hy vir hom 'n huis in Ludwigsdorf gebou het.

“Hy was toe al 'n wel­gestelde man. Ek kan nie vandag teen die ou draai en sê ons het 'n slegte verhouding gehad nie. Ons het besigheid op 'n oop en skoon manier gedoen.”



AANDEELHOUERS

Hatuikulipi is een van die aandeelhouers van D&M Rail Construction. Moller en Hatuikulipi het ook saam 'n eiendomsontwikkelingsmaatskappy, MH Properties.

Moller sê ­Hatuikulipi het in 2017 'n eenheid in 'n luukse ­leefstylkompleks in Klein-Windhoek gekoop wat hy ­ontwikkel het.

Volgens Moller was bedrae van onderskeidelik N$4,5 miljoen en N$3,5 miljoen wat op 23 Oktober 2017 deur mnr. Marén de Klerk aan MH Properties uit Celax Investments Number One se rekening oorbetaal is, hiervoor bestem.

Dié rekening is na bewering deur De Klerk gebruik om geld namens die Fishrot-beskuldigdes te was.

Moller sê die transaksie was 'n saak tussen Hatuikulipi, sy prokureur, en die eiendomsagentskap, Pam Golding Properties, wat die eenhede bemark het. “Hy het uit sy eie die eiendomsagent genader. Ek het niks met die koop van die eenheid toe doen gehad nie. Net so kon die ACC ook geen ­verbintenis tussen D&M Rail Construction en Fishrot-transaksies vind nie,” het hy die naweek gesê.

Moller en Rooi moet weer op 28 April in die landdroshof op Gobabis verskyn.

Hulle is op 15 Januarie op borgtog vrygelaat.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!