Fishrot-hokaairoeper glo gedreig, vergiftig
Fishrot-hokaairoeper glo gedreig, vergiftig

Fishrot-hokaairoeper glo gedreig, vergiftig

Terwyl die ondersoek na die grootskaalse korrupsie verdiep, moes die fluitjieblaser na bewering fisieke en persoonlike aanvalle verduur.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Mnr. Jóhannes Stefánsson, hokaairoeper in die internasionale korrupsieskandaal, oftewel die Fishrot-sage, het aan Yslandse verslaggewers gesê hy is al verskeie kere vergiftig en het by twee geleenthede minstens 13 lyfwagte nodig gehad.

Stefánsson het dié onthullings laas week tydens ’n onderhoud met Einar Torsteinsson op die Yslandse RÚV’s Kastljós-program gemaak.

Volgens hom het die dreigemente onmiddellik begin ná hy Samherji in Julie 2016 verlaat het, die Yslandse vismaatskappy wat glo honderde miljoene se omkoopgeld uitbetaal het.

Stefánsson het ná hy Samherji verlaat het na Suid-Afrika gegaan waar die aanvanklike dreigemente begin het.

“Ek is al verskeie kere gewaarsku sedert hierdie drie jaar terug begin het. Mense met slegte bedoelings het al verskeie kere by my probeer uitkom, maar ek was gelukkig genoeg om goeie lyfwagte te hê,” het Stefánsson in die onderhoud gesê.

Hy het gesê “vreemde mense” het by hom betrokke geraak kort ná hy by Samherji weg is, en daar was gerugte dat hulle in sy rekenaar en data belang gestel het.

“Ek het goeie mense om my gehad en hulle het tussenbeide getree omdat daar fluisteringe was dat alles nie pluis was nie. Daarna het ek vreemde goed begin opmerk. Ek het gevoel of ek dopgehou word, vriende het vreemd opgetree en daar was baie belangstelling in my rekenaar – daardie soort goed,” het Stefánsson gesê.

Hy het beweer sy kos en drank is al by meer as een geleentheid vergiftig.

“Ek was baie siek en my gesondheidstoestand word sedertdien gemonitor.”

Volgens hom is daar verskeie sake wat deur die Namibiese polisie ondersoek word.

Hy het gesê die Namibiese polisie voel hy het genoeg inligting verskaf om hul ondersoek te kan voortsit.

“Hulle het in Augustus 2018 met hul ondersoek begin, toe ek na hul kantoor toe is en met hulle kon praat. In die lig van al die struikelblokke het dit het baie goed gegaan. Jy kan nie sommer enigiemand vertrou nie. Daar is baie sterk kragte wat die ondersoek teësit. Daar kom selde iets meer van sake soos dié.”

Behalwe vir die persoonlike dreigemente, was daar volgens Stefánsson ook persoonlike aanvalle wat gepoog het om sy reputasie skade te berokken, maar hy sê hy was nooit spyt daaroor dat hy die skandaal oopgevlek het nie.

“Ek was van die begin af oortuig van my saak. Hoewel ek nie uit die staanspoor besluit het om lig op die misdade van Samherji en die ‘haaie’ te werp nie, was die eerste stap om mense bewus te maak van Samherji se misdade teenoor die kwotahouers waarmee hulle gewerk het. Maar die saak het verder ontwikkel toe ek ’n duideliker idee gekry het van wat aan die gang was, en waarvan ek deel geword het. So ek is nie spyt nie,” het hy gesê.

Die “haaie” waarna Stefánsson verwys, is die vorige minister van justisie, mnr. Sacky Shangala, en sy vennote, mnr. James Hatuikulipi, die voormalige visserye-minister, mnr. Bernhard Esau, en sy skoonseun, mnr. Tamson “Fitty” Hatuikulipi – die vermeende meesterbreine agter die omkoperyskandaal.

Oor hoe die saak hier, in Ysland en elders kan verdiep, het Stefánsson gesê: “Wat ek kan sê, is dat die ondersoek in Namibië nie binnekort gestaak gaan word nie. Hulle is op soek na al die geld wat onwettig uit die land is, asook al die opbrengste uit onwettige kwotas. Hulle het die volste reg daarop en dit is groot bedrae. Ondersoeke is nou ook in Noorweë, Ysland en Angola van stapel gestuur, so ek dink dit alles kan op iets uitloop.”

Samherji reageer, interne ondersoek

Samherji het verlede maand aangekondig hul uitvoerende hoof, mnr. Thorsteinn Már Baldvinsson, sal “tydelik opsyskuif” terwyl die onderneming se filiale se beweerde misdade in Namibië ondersoek word ná Stefánsson die groot onthulling gemaak het.

Intussen het mnr. Björgólfur Jóhannsson dié posisie tydelik waargeneem.

Volgens die maatskappy sal die interne ondersoek “met volle intensiteit” aangepak word. Die Noorweegse- en internasionale regsfirma Wikborg Rein gaan met die ondersoek help. Verslag sal aan Samherji se direksie gedoen word.

In Desember het die waarnemende uitvoerende hoof in ’n brief aan Samherji-werknemers geskryf ’n “groot deel” van die beskuldigings teenoor die maatskappy is ongegrond.

Volgens Jóhannsson is 18 479 van Stefánsson se e-posse tussen 2014 en 2016 gepubliseer. Hy beweer Stefánsson het slegs 42% daarvan aan WikiLeaks oorhandig.

Dit is volgens Jóhansson genoeg rede om Stefánsson se bewerings te bevraagteken.

Stefánnsson het dit in sy TV-onderhoud ontken, en het gesê hy het al die e-posse en toepaslike dokumente aan Namibiese ondersoekbeamptes, die distriksaanklaer in Ysland, asook WikiLeaks oorhandig.

“Nog e-posse sal onthul word, en ek dink dit sou goed wees as Samherji die ruggraat gehad het om al my e-posse aan die distriksaanklaer te oorhandig toe ek in 2011 in Namibië begin werk het,” het Stefánsson gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer