Fishrot: Hokaairoeper wil verhoor deurvoer
Fishrot: Hokaairoeper wil verhoor deurvoer

Fishrot: Hokaairoeper wil verhoor deurvoer

As die regering nie sy veiligheid kan waarborg nie, sê die Yslandse hokaairoeper, sal hy sy Kongolese lyfwag saambring Namibië toe.
Jemima Beukes
Jemima Beukes – Die hokaairoeper mnr. Johannes Stefánsson het opnuut bevestig hy is beskikbaar om in die Fishrot-korrupsiesaak te getuig.

Hy sal moontlik sy persoonlike lyfwag van die Demokratiese Republiek die Kongo saambring as die staat hom nie kan beskerm nie.

“Soos altyd laat ek my veiligheid en beskerming in sy hande, net soos ek die afgelope vyf jaar doen sedert ek Samherji in 2016 verlaat het,” het die Yslander Woensdag vanuit sy geboorteland aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê voor die voorverhoor van die Fishrot-beskuldigdes gister in die hoërhof afgeskop het.

“Hy het saamgekom om my te beskerm toe ek in Augustus 2018 Namibië toe was om die Fishrot-saak te rapporteer,” het die voormalige bestuurder van dié vismaatskappy gesê.

Stefánsson kan ook aangekla word, omdat hy die omkoperyproses vergemaklik het terwyl hy in Namibië gewerk het.

Hy was gister nie tydens die voorverhoor teenwoordig nie, maar het gesê hy sal beskikbaar wees wanneer die hoofverhoor afskop.



GEEN IMMUNITEIT

Stefánsson beskik glo oor gedetailleerde kennis van die omkoperyskandaal wat die voormalige ministers, mnre. Sacky Shanghala en Bernard Esau, en vyf ander in die tronk laat beland het.

Volgens beweringe kan Stefánsson 'n staatsgetuie word, in ruil vir immuniteit teen vervolging, maar volgens hom is so 'n ooreenkoms nie bereik nie.

“Ek het tot dusver nie enige ooreenkoms met enigiemand nie en ons het nie die besonderhede van my status bespreek nie, maar ek neem aan ek sal 'n staatsgetuie wees.

"Ons sal waarskynlik binnekort hieroor gesels, of sodra dit duidelik is wanneer die hoofverhoor gaan wees en hoe ons sake kan hanteer sodat ek wetlik en fisiek beskerm kan word, maar ek sal ook my eie sekuriteit bring,” het hy gesê en benadruk dat hy dít wat hy begin het, wil deurvoer.

Stefánsson was die besturende direkteur van die Yslandse maatskappy Samherji wat na bewering N$150 miljoen aan Namibiese ministers en hul makkers betaal het in ruil vir visvangkwotas wat Fishcor, die staat se vismaatskappy, aan hulle toegeken het.

Die destydse uitvoerende hoof van Fishcor, mnr. Mike Nghipunya en die gewese raadsvoorsitter, mnr. James Hatuikulipi, is ook in die tronk, en só ook Esau se skoonseun, mnr. Tamson Hatuikulipi, James se voormalige kollega by Investec, mnr. Ricardo Gustavo en mnr. Pius Mwatelulo, wat vir maatskappye gewerk het wat James en Shanghala saam besit het.



GEEN EISE

Stefánsson het aantygings ontken dat hy N$5 miljoen, 'n klomp lyfwagte en immuniteit teen vervolging geëis het as voorwaarde vir sy getuienis in die Fishrot-verhoor.

“Ek het geen eise gestel nie en dit is nuus vir my. Ek het ook 'n paar dae gelede iets soortgelyks gehoor. Dankie vir die inligting,” het hy gesê.

Die direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommissie (ACC), mnr. Paulus Noa, het Woensdag gesê hy is nie bewus van die bewerings nie.

“Laat ek dit net as gerugte beskou. Sommige van hierdie gerugte is interessant. Dit sou nie vir my kantoor iets wees om ernstig op te neem nie, maar tog sou dit die geloofwaardigheid van die getuie in twyfel trek. Om die vraag te beantwoord, ek is nie hiervan bewus nie,” het hy gesê.

Die aanklaer-generaal, me. Martha Imalwa, wou nie kommentaar lewer nie.

Die Fishrot-7 is tussen November 2019 en Februarie 2020 in verband met die omkoperyskandaal in hegtenis geneem en sit sedertdien in die tronk.

Hulle staan tereg op verskeie klagte wat wissel van rampokkery tot bedrog, geldwassery, die misbruik van hul kantoor vir persoonlike gewin, en die oortreding van die land se teenkorrupsiewet.

Oor die afgelope 18 maande het die beskuldigdes verskeie pogings in die landdroshof in Windhoek aangewend om hul vryheid terug te wen, en het beweer die aanklaer het geen idee wanneer die ondersoeke afgehandel sou word nie.

Die beskuldigdes het ook die skending van hul regte en verslegtende persoonlike, gesins- en finansiële situasies as redes aangevoer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!