Fishrot, Nangomar onafskeibaar

Die Fishrot- en Nangomar-korrupsiesake is gister saamgevoeg, en die twee sake sal gelyktydig voor dieselfde regter aangehoor word.
Kristien Kruger
Kristien Kruger



Die staatsaanklaers se aansoek by die hoërhof in Windhoek om die Fishrot- en Nangomar Pesca-korrupsiesake saam te voeg, is gister toegestaan.

Regter Christie Liebenberg het beslis die twee afsonderlike sake sal in een verhoor, voor een regter, aangehoor word.

Hy het in sy uitspraak gesê al die beskuldigdes het na bewering saamgewerk met een gemeenskaplike doelwit om toegang tot Namibië se viskwotas te verkry.

“Hulle het almal aan dieselfde sindikaat behoort. Die twee sake is onafskeibaar en die duplisering en herhaling van bewyse sal nie in die belang van die beskuldigdes wees nie,” lui sy uitspraak.



AGTERGROND

Die beskuldigdes sluit in oudministers Bernhard Esau en Sacky Shanghala, en mnre. Tamson Hatuikulipi, Mike Nghipunya, James Hatuikulipi, Pius Mwatelulo, Otneel Shuudifonya, Ricardo Gustavo, Nigel van Wyk en Phillipus Mwapopi.

Die Nangomar-saak handel oor korrupte betalings van sowat N$103,6 miljoen wat ontvang is om die Yslandse visonderneming Samherji veilige toegang tot maasbankerkwotas in Namibië te gee.



ARGUMENTE EN UITSPRAAK

Die beskuldigdes wat die aansoek teengestaan het se regsverteenwoordigers het beweer die samevoeging sal die duur van die verhoor verleng en hul reg tot 'n spoedige verhoor sal geskend word.

Hulle het aangevoer dat dit die verhore sal uitrek en dat hulle finansieel daaronder sal ly, omdat hulle vir 'n lang tydperk regskoste sal moet betaal.

Hulle het ook gesê sommige van die beskuldigdes sal deur getuienisse moet sit wat geen betrekking op hul saak het nie.

Regter Liebenberg het die teenkant ook uitgelig.

“Dit sal ook onregverdig wees vir die beskuldigdes wat in albei sake teregstaan, om twee keer hul saak voor twee verskillende regters te moet verdedig.

“Alle bewyse sal relevant wees, want alle beskuldigdes was deel van dieselfde kriminele bedrywighede,” het Liebenberg gesê.

Die staat se argument is gebaseer op artikels 155 en 156 van die Strafprosesreg 51 of 1977. Artikel 156 stel dat persone wat verskillende oortredings op dieselfde tyd en plek gepleeg het, saam verhoor kan word.

Die staatsaanklaer mnr. Ed Marondedze het beweer die twee sake was deel van dieselfde komplot en hoewel een vroeër begin het, was beide terselfdertyd in werking en het op dieselfde plek plaasgevind.

“Die oortredings is in en rondom Windhoek gepleeg op dieselfde tydperk vanaf 2014 tot 2019,” lui die uitspraak.



AFWESIGE PARTYE

Die regter wou vroeg in die ­verrigtinge by Marondedze weet waarom verskeie individue en ondernemings by die staat se klagte ingesluit is, maar nie in die hof teenwoordig was nie.

Volgens Marondedze is drie Yslandse burgers wat na bewering vanweë hul betrokkenheid by vismaatskappye in die Samherji-groep deel van die Fishrot-skandaal was nog nie aangekla nie, aangesien die uitleweringsproses pas begin het. Hulle is mnre. Egil Helgi Arnason, Ingvar Juliusson en Helgason Adelstein.

Die staat se saak teen dié drie kon dus nie die normale geregtelike roete volg deur eers in die landdroshof voor te kom en van daar vir verhoor na die hoërhof verwys te word nie.

Liebenberg het gesê die hof kan hulle daarom nie as beskuldigdes erken nie. Dieselfde geld die vermeende betaalmeester in die Fishrot-sage, mnr. Marén de Klerk. Die proses om Suid-Afrika vir sy uitlewering te versoek, is reeds 'n geruime tyd aan die gang.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!