Fitbit vir jongspan dalk maatskappy se redding
Fitbit vir jongspan dalk maatskappy se redding

Fitbit vir jongspan dalk maatskappy se redding

Die aandeelmark het positief gereageer op die aankondiging van die Fitbit Ace.
Fitbit het sy visier op ’n jonger generasie ingestel om sy verdienste ’n broodnodige hupstoot te gee.

Die vervaardiger van fiksheidsbandjies het vandeesweek die nuwe Fitbit Ace bekend gestel, spesiaal ontwerp vir kinders ouer as agt.

Nes Fitbit se bandjies vir volwassenes, meet die Ace die jongspan se treë, hoeveel minute hulle per dag aktief is en hul slaappatrone.

As die bloedjie te lank stilsit, sal hy ’n kennisgewing ontvang om hom aan te spoor om sy litte te roer. Die bandjie meet ook hoeveel kalorieë die jongeling verbrand en wat sy persentasie liggaamsvet is.

Hierdie inligting is egter nie vir die jongspan se oë nie en word net met hul ouers op ’n sentrale rekening op Fitbit se webwerf gedeel.

Teen US$100 is die Fitbit Ace betreklik goedkoop en met ’n soortgelyke ontwerp as die Fitbit Alta.

Volgens ’n Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van die maatskappy is dit nog nie bekend wanneer die nuwe toestel hier uitgereik word nie, maar dit sal beslis kom. Die Suid-Afrikaanse prys is ook nog nie bekend nie.

Heel nuwe mark

Hoewel Fitbit nie die eerste vervaardiger van fiksheidsbandjies is wat ’n produk spesifiek vir kinders ontwerp nie, meen kenners dit bied hoop vir dié sukkelende maatskappy om sy verdienste te verbeter. Benewens Fitbit vervaardig Garmin en LeapFrog ook toestelle spesiaal vir kinders.

In sy gloriedae was Fitbit die voorste maatskappy wat die dra van fiksheidsbandjies gewild gemaak het, maar die maatskappy sukkel om mee te ding met Apple wat in 2016 sy eie – en in verskeie opsigte meer gevorderde – fiksheidshorlosie bekend gestel het.

Fitbit het verlede jaar gereageer met Versa, ’n soortgelyke produk. Sy markaandeel hou egter aan met krimp.

Volgens die marknavorser IDC het Fitbit in die vierde kwartaal verlede jaar ’n markaandeel van 14% gehad, ’n 17%-afname op ’n jaargrondslag. Sy inkomste het dienooreenkomstig met 25% gedaal van US$2,17 miljard in 2016 tot US$1,62 miljard verlede jaar.

Apple se markaandeel het terselfdertyd met byna 60% gestyg. Dit is tans die voorste vervaardiger van dié soort fiksheidsbandjies met ’n markaandeel van 21%.

Die aandeelmark het positief gereageer op die aankondiging van die Fitbit Ace. Die maatskappy se aandeelprys het Maandag met byna 15% gestyg tot die beste vlak sedert Fitbit in 2015 genoteer het.

Dié styging kan ook deels toegeskryf word aan gerugte dat Google dalk Fitbit kan koop. Hulle het onlangs ’n vennootskap gesluit.

Fitbit en Google wil in die vennootskap saamwerk om gebruikers se gesondheidsinligting maklik vanaf ’n sentrale punt met dokters en hospitale te deel. –Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!