Fitch besorg oor banke in Afrika
Fitch besorg oor banke in Afrika

Fitch besorg oor banke in Afrika

Sowat 34%van die banke se langtermyngradering het nou ’n negatiewe vooruitsig.
Jo-Mare Duddy Booysen
Nellie Brand-Jonker - Banke in Afrika se gradering is onder toenemende druk weens die status van die lande op die vasteland se graderings, het Fitch gewaarsku.

Volgens die internasionale kredietgraderingsagentskap het 34% van die banke se langtermyngradering nou ’n negatiewe vooruitsig. Verlede jaar dieselfde tyd was daar geen hiervan nie.

Die sprong na ’n negatiewe vooruitsig is ’n weerspieëling van wat met die lande se graderings gebeur het, Suid-Afrika en Nigerië ingesluit.

Die afgradering van die lande sal tot ’n afgradering van die banke lei.

Dit word gegrond op die aanname dat die regerings se vermoë afneem om die banke te ondersteun en omdat ’n swakker bedryfsomgewing druk op die banke se gradering plaas.

Banke in Afrika word deur ernstige makroprobleme in die gesig gestaar, insluitende die verlangsaming in die groei van die bruto binnelandse produk (BBP), ’n tekort aan buitelandse valuta en eksterne risiko’s.

“Ons verwag die wind van voor gaan toeneem en druk op banke se finansiële maatstawwe in 2017 plaas,” het Mahin Dissanayake, direkteur van finansiële instellings, gesê.

Die onlangse stabiliteit in hulpbronpryse sal vir sommige ekonomieë verligting bring.

Fitch het gesê in die moeilike omgewing word verwag lenings gaan stadiger in 2017 groei en banke gaan versigtiger wees.

“Dit sal onvermydelik lei na ’n laer inkomste en wins vir banke,” het Dissanayake gesê.

Verdere druk op hul wins kom van die vinnig stygende koste van die lenings wat afgeskryf moet word. Volgens Fitch is dit ’n neiging wat oor die hele streek gesien word.

Die tekort aan buitelandse valuta is ook ’n groot risiko vir die banke.

Veral lande wat afhanklik is van die uitvoer van minerale het ervaar hoe hul poel van buitelandse valuta wesenlik krimp en dit het vrae laat ontstaan oor die regerings se vermoë om banke se buitelandse verpligtinge te help bestuur, indien nodig.

“In so ’n omgewing is die risiko van die herfinansiering van banke se skuldverpligtinge veral belangrik,” het Dissanayake gesê.

“Negatiewe beleggersentiment oor opkomende markte beteken die uitreiking van skuldbriewe in buitelandse valuta gaan baie duur wees en dalk onmoontlik vir sommige banke.”

Fitch glo dit gaan daartoe lei dat die banke meer skuldbriewe in plaaslike geldeenhede uitreik, veral in Suid-Afrika, Kenia en tot ’n mindere mate Nigerië.

Die banke is tans nog genoegsaam gekapitaliseer om hul graderings te behou, maar die buffers wat hulle het, is besig om vinnig te krimp.

Fitch het gesê ’n vinnige styging in niepresterende lenings in sekere lande kan daartoe lei dat die banke nie die verpligte kapitaalvereistes volgens wet nakom nie.

Die meeste banke se gradering in Afrika is op B, wat aandui die gehalte van die krediet is hoogs spekulatief en daar is ’n wesenlike risiko van ’n wanbetaling.

Net banke in Suid-Afrika en Mauritius is op beleggingsgraad. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!