Fitch het min hoop vir SA se 14-punt-plan

Die kredietgraderingsagentskap Fitch Ratings byt nie aan Suid-Afrika se nuwe 14-punt-plan om die ekonomie aan die gang te kry nie.
Fitch, die kredietgraderingsagentslap, sê dis onwaarskynlik dat die “inklusiewe groei-aksieplan” (Igap) ekonomiese groei wesenlik sal aanwakker, want die meeste van die maatreëls in die plan is al voorheen aangekondig.
Wat wel belangrik is, is die beplande verandering aan die bestuurstandaarde vir staatsondernemings, maar Fitch sê die vernaamste struikelblok om staatsondernemings se prestasie te verbeter, is steeds die toepassing van gewone bestuurstandaarde in dag-tot-dag-bedrywighede.
Malusi Gigaba, minister van finansies, het verlede week die 14-punt-plan bekend gemaak in reaksie op die nuus dat Suid-Afrika in ’n tegniese resessie is weens die 0,7%-inkrimping in die bruto binnelandse produk (BBP) in die eerste kwartaal van vanjaar ná die inkrimping van 0,3% in die vierde kwartaal van verlede jaar.
Die meeste van die inisiatiewe in die plan fokus op die bestuur van staatsondernemings om die druk op staatsfinansies te verlig, om swart ekonomiese bemagtiging aan te vuur en ongelykheid uit te wis. Fitch meen dié kwessies sal net ’n onregstreekse impak op groeivooruitsigte hê.
Talle van die maatreëls is dieselfde as wat pres. Jacob Zuma in 2015 se staatsrede in sy nege-punt-plan aangekondig het, of is deel van reeds bestaande prosesse, soos om volhoubare loonooreenkomste in die staatsdiens te sluit.
Fitch is wel positief dat die nuwe plan vaste spertye aan talle van die maatreëls koppel. Van die spertye is streng en sal straks nie gehaal word nie, maar voeg dringendheid by die beleidmakingsproses.
Goeie bestuur van staatsondernemings is relevant vir sowel groei as staatsfinansies want hul gewaarborgde skuld vorm 7% van die BBP. Hul nie-gewaarborgde skuld vorm 10,5% van die BBP.

Fitch waarsku dat die maatreëls hoogs gepolitiseerd is omdat nie alles reeds goedgekeur is nie en die toepassing daarvan nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie. ’n Groot rede vir die swak prestasie van staatsondernemings is boonop hul onvermoë om bloot bestaande reëls toe te pas.
Hoewel die plan hom verbind tot die goedkoopste kragplan vir Suid-Afrika, wys Fitch daarop dat die regering se boodskappe oor die duur kernkragplan gedurig verander, en die kwessie sal waarskynlik nie opgelos wees tot ná die ANC-konferensie in Desember wanneer ’n nuwe ANC-president gekies word nie.
Die ekonomiese steunpakket wat die tesourie ondersoek, kan beplande besteding herprioritiseer, maar kan die risiko van oorbesteding verhoog as besnoeiings om hoër besteding elders uit te balanseer, nie uitwerk soos beplan nie.
Fitch het sy groeivooruitskatting vir Suid-Afrika vir 2017 in Junie van 1,2% tot 0,6% verlaag en sy 2018-vooruitskatting van 2,1% tot 1,6% verlaag weens die inkrimping in die eerste kwartaal en die politieke onsekerheid wat maatskappye onwillig maak om te belê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!