'Fitty' wil N$16 m. vir borg betaal
Die Fishrot-beskuldigde, wat sowat N$40 miljoen werd is, sê sou hy op borgtog vrygelaat word, kan hy sy finansiële bronne inspan om sy onskuld te bewys.
Jemima Beukes
Die Fishrot-beskuldigde mnr. Tamson 'Fitty' Hatuikulipi – wat die staat aanvoer was 'n integrale deel van die viskwota-omkoopskandaal – het sy vaste bates ter waarde van N$16 miljoen vir borgtog aangebied.
Die 39-jarige besit 22 vaste bates oraloor die land, wat 'n gesamentlike waarde van N$40 miljoen het.
Sy skoonpa en die voormalige minister van visserye, mnr. Bernhard Esau, het ook Maandag gesê hy sal N$23 miljoen vir borgtog betaal – en 'n bykomende N$50 000 in kontant.
Dit is glo alles wat hy besit.
Hatuikulipi ontken die staat se weergawe dat hy voordeel uit die Fishrot-skema getrek het. Dit is dus in belang van geregtigheid dat hy borgtog kry, wat hom in staat sal stel om sy finansiële hulpbronne te mobiliseer om sy onskuld te bewys, het hy gesê.
ONTKENNING
Hy het mnr. Johannes Stefánsson, die Yslandse hokaairoeper wat hom by die Fishrot-skandaal betrek het, as 'n dwelmverslaafde, wat reeds sy verslawing erken het, beskuldig. Sy weergawe kan dus nie vertrou word nie, sê Hatuikulipi.
Oor finansiële transaksies wat hom met mnr. James Hatuikulipi, sy neef en die voormalige Fischor-voorsitter verbind, sê Tamson dit is niks meer
as familie wat vir mekaar geld 'leen' nie.
Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) staan borgtog vir dié twee teen.
Tydens die voorlegging van bewyse gister in die hof, het senior ondersoekbeampte Willie Olivier gesê die voormalige minister van justisie en Fishrot-beskuldigde mnre. Sacky Shanghala en James Hatuikulipi het na Luanda in Angola gereis.
Dit om met Angolese owerhede te onderhandel oor die stigting van Namgomar Pesca, 'n gesamentlike vissery-onderneming tussen dié twee lande.
Hy sê alhoewel Namgomar 'n regering-tot-regering entiteit was, toon notules dat mnre. Tamson en James Hatuikulipi, wat nie regeringsamptenare is nie, die viskwotavergadering in Angola bygewoon het.
Die vergadering het tot die stigting van Namgomar Pesca gelei.
“Ondersoeke dui daarop dat dit 'n weldeurdagte plan was om Nangomar vir geldwassery te gebruik,” het Olivier aan die hof gesê.
“Die plan het die organisering van sekere ondernemings, entiteite en bankrekeninge behels wat gestig moes word om geld in te win.
“Volgens ons ondersoek, het Namgomar kwotas ontvang wat nie in Angola bestaan het nie.
“In plaas daarvan het nog 'n Namgomar-entiteit (Namgomar Limidada) bestaan en die aandeelhouers was familie van die voormalige Angolese minister van visserye, me. Victoria de Barros Neto.”
Die ACC het Angola besoek en vasgestel dat Nangomar Pesca nie in daardie land bestaan nie, het hy gesê.
Verder voer die ACC aan dat Shanghala dokumente onderteken het met betrekking tot die gesamentlike onderneming (JV)-ooreenkomste, terwyl hy nie by magte was om dit te doen nie.
Slegs die minister van visserye of die prokureur-generaal kan dit namens die Namibiese regering doen, het die ACC gesê.– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie