Fleck het 40-3 nie sien kom
Fleck het 40-3 nie sien kom

Fleck het 40-3 nie sien kom

Rugby
Cobus Claassen - Daar was Saterdag twee weergawes op Loftus Versfeld:

1. Die Stormers se spanbus het laat by die hotel opgedaag. 2. Daar was 'n verkeersknoop op die snelweg onderweg Loftus toe.

Hoe dit ook al sy, die Stormers het laat opgedaag vir hul Superrugby-ontmoeting met die Bulle en dit het nooit regtig gelyk of die besoekers in 'n bui was om op te ruk Loftus toe nie.

Agterna – nadat die Bulle onverwags 'n puik sege van 40-3 beklink het – het Robbie Fleck, die Stormers se breier, moedig probeer voorgee hy is nie op moedverloor se vlakte nie.

“Ja, dit is taai om so te begin. Ek het dít nie verwag nie en ons sal nou die stukke moet optel,” sê hy.

“Dit was 'n frustrerende vertoning, veral in die lynstane. Jy kan nie op dié vlak sonder besit speel nie en ons het in die eerste helfte niks gehad nie. Dit was min of meer al teen rustyd gedane sake,” sê Fleck.

Daar is ná die loesing groot druk op die Stormers, wat die komende week vir die Leeus se aanslag moet voorberei.

“Dit gaan ons nie onderkry nie. Ons was goed in die voorseisoen en het die wed­stryd met baie selfvertroue benader. Ons was oortuig ons kon hier kom wen, maar ons besef nou daar is werk wat wag. Dit was 'n afdag.”

Fleck meen dit is te vroeg om die spelers die leviete voor te lees.

“Dit was die eerste wedstryd. Ja, ons het dit nie verwag om so te verloor nie en ons sal waarskynlik die week 'n bietjie skadebeheer moet doen.”

Daar is aanvanklik gedink die Stormers-kaptein, Siya Kolisi, het die veld in die eerste helfte vir 'n harsingskuddingtoets verlaat, maar Fleck sê hy het 'n vinger in die oog gekry en kon nie verder speel nie.

“As jy jou inspirerende leier verloor, is dit 'n slag. Hy het goed begin en het toe die vinger in die oog gekry.”

Die aanduiding is dat Kolisi reg sal wees vir Saterdag se ontmoeting met die Leeus op Nuweland.

“Ons sal ons vinnig moet regruk. Ons begin met drie Suid-Afrikaanse derbies, waarvan twee weg is.

“Wanneer laas het enige Suid-Afrikaanse span die Leeus in die kompetisie geklop? Dit is nou ons uitdaging.”

Bulle 40 (21): Drieë: Rosko Specman (2), Johnny Kotze en Jesse Kriel. Strafdoele: Handré Pollard (4). Doelskoppe: Pollard (4).

Stormers 3 (3): Strafdoel: SP Marais. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!