Fliekvlooie hou steeds van die groot skerm

Op die oog af lyk dit nie of stromings­dienste die loket werklik skade berokken het nie.
Petrus Malherbe



Al is die ­versoeking daar om by die huis te bly en die jongste aflewering van Marvel se Avengers op DStv se Box Office te kyk, stroom Suid-Afrikaners steeds na 'n krimpende aantal rolprentteaters.

Volgens data van Box Office Mojo het die 25 topflieks by die Suid-Afrikaanse loket in 2018 meer as US$57,3 miljoen verdien. Dit is 6,3% meer as in 2017.

Dit is ondanks die feit dat sowel Ster-Kinekor as Nu Metro, die twee grootste rolprentteaters in die land, verskeie van hul teaters oor die laaste paar jaar moes sluit weens gebrekkige bywoning.

Ster-Kinekor het in 2017 sy enigste oorblywende teater in die Oos-Kaap gesluit. Hy bedryf steeds 54 teaters elders, waarvan die meeste in die Wes-Kaap en Gauteng is.

Nu Metro bedryf 23 teaters, waarvan een in die Oos-Kaap is.

Uit die jongste beskikbare syfers blyk dit nie op die oog af of ­stromingsdienste soos Netflix, Showmax of selfs DStv se Box Office die loket werklik skade berokken het nie.

Ongeveer 80 flieks is reeds vanjaar uitgereik, waarvan die top-25 klaar meer as US$23,7 miljoen verdien het. En die jaar is nog nie eens halfpad verby nie.

Verdienste het wel 'n hupstoot gekry met groot uitreikings. Marvel se flieks vaar as 'n reël besonder goed by die Suid-Afrikaanse loket. In 2018 het Black Panther meer as US$8 miljoen op eie bodem verdien.

Avengers: Infinity War het meer as US$5,5 miljoen laat instroom.

Die laaste aflewering in die Avengers-reeks, wat maar 'n paar weke gelede uitgereik is, het nes elders loketrekords laat spat. Dié fliek het klaar meer as US$6,5 miljoen in Suid-Afrika verdien.

Meeste van hierdie inkomste gaan egter aan die vervaardigers van die flieks en nie na die plaaslike verspreiders nie.

Ster-Kinekor en Nu Metro maak die meeste van sy inkomste uit peperduur koeldrank, springmielies en lekkergoed wat deesdae duurder kos as die fliekkaartjie.

Kaartjiepryse neem wel ook elke jaar toe.

'n Gemiddelde fliekkaartjie vir 'n fliek in 2D het in 2015 net meer as R60 gekos en R75 vir 3D.

In 2019 is dié kaartjiepryse onderskeidelik R85 en R107. Boonop sprei Ster-Kinekor nou sy vlerke en kyk na ander ­inkomstestrome.

Dié maatskappy wil nou gereelde ­fliekgangers opraap deur 'n ­spesiale maandelikse aanbod, waarmee jy teen 'n vaste bedrag onbeperk kan gaan fliek.

Teen R349 per maand kan jy vyf flieks per dag, elke dag gaan kyk. Maar jy kan elke fliek net een keer sien.

Jy kry boonop ook afslag op springmielies en koeldrank.

'n Goedkoper pakket kos R249 per maand, maar bied net toegang tot vier flieks. Dit kom neer op 'n gemiddelde kaartjieprys van R62 – 'n prys wat laas in 2015 gesien is.

Dié spesiale pakkette is vir eers net by 'n handvol van Ster-Kinekor se fliekteaters beskikbaar, insluitende Eastgate in Germis­ton, Somerset Mall in Somerset-Wes en die Garden Route-winkelsentrum in George.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!