Flora-vinder van formaat
'n Kranige voetslaner van Windhoek het reeds meer as 30 nuwe plantspesies in Namibië opgespoor.
Francoise Steynberg
'n Siviele ingenieur van Windhoek, mnr. Wessel Swanepoel (62), se naam en sy ontdekkings van plantspesies boer in die wêreld se grootste wetenskaplike vaktydskrif, Phytotaxa.
As kranige voetslaner en voëlkyker het hy al meer as 30 nuwe plantspesies in Namibië ontdek, waarvan sewe as mede-ontdekker.
“Die meeste van die ontdekkings (nie dat die plante altyd klein of onopvallend is nie; van hulle sluit 'n hele paar nuwe boomsoorte in) is reeds in vaktydskrifte soos Phytotaxa opgeteken,” het Swanepoel aan Republikein gesê.
Sy nuutste ontdekking, die kaokobrandbos (Hymenodictyon kaokoensis) is op 7 Julie in dié tydskrif gepubliseer.
“Die kaokobrandbos is 'n boom wat slegs in die berge suid van die Kunenerivier groei,” het Swanepoel gesê.
GROOT DEURBRAAK
Sy groot internasionale deurbraak is egter die ontdekking van die panplant (Tiganophyton karasense) as 'n nuwe plantfamilie, geslag én spesie.
Die nuwe familie is Tyganophytaceae, die nuwe geslag heet Tyganophyton en die nuwe spesie is Tiganophyton karasense.
In wetenskaplike kringe het Swanepoel se ontdekking omtrent 'n opskudding veroorsaak.
Die panplant is 'n verlangse familielid van kool, broccoli en Brusselse spruite en groei slegs in drie seisoenale panne in die Suide.
“Wat dit so besonders maak en wêreldwye belangstelling uitlok, is dat dit deesdae hoogs uitsonderlik is dat 'n nuwe blomplant nog ontdek word wat nie in een van die bestaande 415 blomplantfamilies geklassifiseer kan word nie,” verduidelik Swanepoel.
“Dus is daar nou altesaam 416 blomplantfamilies en natuurlik is die panplant endemies aan Namibië,” sê Swanepoel.
“Ná die versameling van die panplant 'n dekade gelede was ek en prof. Braam van Wyk van die Universiteit van Pretoria lank nie seker hoe om dié plante te klassifiseer nie, want dit het nêrens by die bestaande families ingepas nie.”
Die familie val onder die orde Brassicales, 'n hoërorde groepering wat hoofsaaklik plantfamilies insluit wat mosterdolies bevat.
“Die meeste lede van die Brassicales bevat mosterdolie wat die effense bitter en branderige smaak aan mosterd gee. Dit is die mosterdolie wat maak dat mense byvoorbeeld óf versot is op Brusselse spruite óf die smaak daarvan verafsku.”
Volgens hom val die witgatbome, kappertjie en sprokiesboom ook in die Brassicales-orde.
Swanepoel is die eerste outeur van die artikel wat op 20 April in Phytotaxa gepubliseer is.
Sy mede-outeurs is Van Wyk, asook dr. Felix Forest, Mark Chase, Maarten Christenhusz en Olivier Maurin, verbonde aan die Koninklike Botaniese Tuin Kew in Surrey in Brittanje.
Swanepoel vertel hy het in Januarie 2010 die agterpaaie vanaf Keetmanshoop na Windhoek gery toe hy die panplant ontdek het.
As kranige voëlkyker was hy eintlik op soek na 'n klein vaal lewerikkie.
Dis tóé dat hy so 30 km oos van Tses die meerjarige panplant, 'n houtagtige bossie van sowat 0,8 meter hoog, in 'n droë pan ontdek. Hy het eers gedink dis een van die gannabossies, 'n groep plante wat wydverspreid in die Suide voorkom.
“Die plante was egter in daardie stadium sonder blomme wat dit moeilik gemaak het om die presiese familieverwantskap te bepaal,” sê Swanepoel.
In Desember 2010 is hy weer terug op sy voetspore na die pan waar hy toe blomme aan die panplant gekry het.
“In die Suide-omgewing verwelk die blomme, wat klein en onopvallend is, baie gou weens die versengende hitte.”
Dit is juis die hitte van die Suide en die panhabitat waarop die panplant se wetenskaplike naam gebaseer is: “Tiganophyton beteken braaipanplant in Grieks. Die spesifieke naam karasense verwys na die ||Kharasstreek.”
Swanepoel het toe die Nasionale Botaniese Navorsingsinstituut (NBRI) met sy nuwe plantvonds genader en later ook vir Van Wyk, waarna hulle besluit het om ook kundiges van die Universiteit van Stellenbosch en die Koninklike Botaniese Tuin Kew te betrek.
Daar is dus saam met vooraanstaande plantkundiges soos Forest, Chase, Christenhusz en Maurin gewerk om die panplant korrek te klassifiseer en te beskryf.
As destydse siviele ingenieur by TransNamib het hy in sy vrye tyd oor 'n tydperk van tien jaar lank navorsing oor die panplant gedoen. Kundiges is betrek vir DNS-toetse en die chemiese ontleding van die blare, blomme en vrugte van die plant.
“Nadat ek in 2010 besef het die plant is nuut, het ek deur ou versamelings in die herbarium in Windhoek gewerk en toe afgekom op 'n eksemplaar van die panplant wat prof. Ben Strobach in 1998 versamel het.
“Destyds is nie besef dat dit 'n nuwe spesie verteenwoordig nie, omdat dit oppervlakkig beskou net soos een van die gannabosse lyk.
“Die eksemplaar is steriel (met ander woorde sonder blomme of vrugte),” verduidelik Swanepoel.
“Strohbach, tans verbonde aan die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), is wel die vroegste versamelaar van die panplant. Hy was in daardie stadium 'n werknemer van die NBRI en het die plant seker tydens 'n algemene plantversameltog van die NBRI versamel.”
ANDER ONTDEKKINGS
Swanepoel sê hy het al sowat 35 plante in Namibië en Angola ontdek en benaam.
“Party plante het ek alleen ontdek en benaam en ander saam met Van Wyk en dr. Ernst van Jaarsveld, voorheen verbonde aan die Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad.”
Van die plante wat Swanepoel ontdek het, is onder meer die kortstam-naboom in die Euphorbia-geslag, verskeie van die kanniedoodbome (Commiphora), aalwyne (Aloe), spekbosse (Ceraria) en ook 'n basiliekruid (Ocimum).
Hy sê hy is altyd op soek na nóg nuwe plante.
“Ek en my vrou, Hannelie (née Oberholzer), oorspronklik van die rooi duine in Kalkrand sê wêreld, is lief daarvoor om te reis en in die veld te stap.”
Hulle besluit gewoonlik saam om 'n sekere gebied vir so tussen 10 en 14 dae te besoek as hulle voel hulle het 'n wegbreek nodig “en dan kom die plant (of die voël)”.
Die egpaar stap altyd met 'n kamera en verkyker byderhand en natuurlik word altyd eksemplare van plante vir latere studie versamel.
“Hannelie het ook so drie jaar gelede 'n besondere peulplant op een van ons staptogte ontdek. Die vonds is toe deur plantkenners as een van die belangrikste ontdekkings van die dekade beskou, omdat dit die eerste rekord van 'n vetplant onder die peulplante was.”
Swanepoel doen ook safari's vir internasionale spesialisplantkundiges en voëlkundiges en is betrokke by Nust met die ontwikkeling van die Skedelkus-Iona-oorgrenspark (Sciona) van Namibië en Angola.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie