Florida volgende vir jong breker Connor
Florida volgende vir jong breker Connor

Florida volgende vir jong breker Connor

Tennis
Andrew Poolman
Andrew Poolman

Dis ’n harde, uitmergelende, eensame pad boontoe in individuele sportsoorte, waar deursettingsvermoë ewe veel as talent getoets word.

In dié opsig staan die jong Connor van Schalkwyk van Windhoek reeds uit, deurdat hy onlangs die topgekeurde onder 14-tennisspeler in Afrika geword het.

Van Schalkwyk het as kampioen uit die stryd getree toe die Afrika-kampioenskap vir spelers 14 jaar en jonger in Tunisië gespeel is. Net die agt topgekeurde seuns en meisies op die kontinentale ranglys was daar vir die toernooi onder die vaandel van die Konfederasie van Afrika-tennis (CAT).

Die jong Windhoeker het al sy wedstryde gewen om tot die eindstryd teen die topgekeurde speler in Afrika in hul ouderdomsgroep te staan te kom. Van Schalkwyk het die wedstryd teen El Amine Hamza van Marokko egter oortuigend met 6-1, 6-2 beklink.

Dié twee spelers bly gerieflik boaan die Afrikapuntelys vir onder 14’s , maar na dese is Van Schalkwyk (6745 punte) verby Hamza (6487), met die speler in die derde posisie, Ethan Sibanda van Zimbabwe, ’n hele ent terug op 4757.

Die prestasie het vir Van Schalkwyk reeds gelei tot uitnodigings deur die Internasionale Tennisfederasie (ITF) en die Grand Slam Ontwikkelingsfonds om deel te wees van die span wat gekies is om aan die Eddie Herr en Orange Bowl toernooie in Amerika deel te neem.

Dit is twee van die grootste en mees gesogte junior toernooie ter wêreld met meer as ’n duisend (o.12 en o.14) spelers van 76 lande wat genooi is.

Oor die laaste 57 jaar het deelnemers aan dié toernooie gevorder om die sport se huishoudelike name soos Jimmy Connors, André Agassi, Steffi Graf, Roger Federer, Maria Sharapova, Andy Murray, Juan-Martin Del Potro, Caroline Wozniacki, Alexander Zverev en vele ander te word.

Die Eddie Herr Internasionale kampioenskap (26 November tot 2 Desember) word by die gewilde IMG tennisakademie in Florida aangebied. Hierna volg die Junior Orange Bowl vanaf 12 tot 18 Desember, ook in Florida.

Connor vertrek vroeg dus komende Maandag na Amerika en sal dan eers weer in die week voor Kersfees huiswaarts keer.

Van Schalkwyk en sy ouer broer Codie se talent het hul ouers, Johan en Ronel, genoop om na Marokko te verhuis waar die twee seuns aan ’n ITF-tennisakademie verbonde is.

Uit die plaaslike geledere het die Janine & Suzelle Davin Sporttrust reeds in die verlede toegetree om beide Connor en Codie met die reiskostes van hul internasionale deelnames by te staan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!