Flou antiklimaks vir Vorster

Drie Switserse fietsryers het gister vir 'n historiese oomblik gesorg.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Michelle Vorster se tweede Olimpiese Spele in die vroue-bergfietsresies het gister in Izu, Japan, op 'n teleurstellende noot geëindig.

'n Besering wat die 42-jarige Namibiër tydens 'n val in die voorafgaande dae se oefenrondte opgedoen het, was volgens haar een van die faktore wat tot die flou vertoning bygedra het.

Vorster, wat in die agterste wegspringry begin het, was in geen stadium kompeterend nie en is ná die tweede baanrondte deur die beamptes onttrek toe sy deur die jonger voorlopers ingehaal is.

Vyf jaar gelede by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro was die ma van drie 26ste (uit 29 ryers) toe sy die land se eerste vroulike Olimpiese kwalifiseerder in dié sport geword het.

'n Traumatiese ongeluk in 2019 toe 'n tref-en-trap-motoris die fietsryer raakgery het, het egter haar loopbaan as 'n laat beginner in die sport van stryk gebring. Ná die gebreekte enkel en regterarm het dit etlike maande geduur voordat sy met vertroue kon terugkeer om opnuut haar nasionale topposisie te bevestig.

Ondanks haar moedige stryd om wel die span na Japan in 2021 te haal, sal sy sekerlik nie tevrede met gister se louwarm vertoning wees nie.

Switserland se drietal Jolanda Neff (28), Sina Frei (24) en Linda Indergand (28) het sake oorheers en met oortuiging die goue, silwer- en brons­medaljes ingepalm.

Neff het die 20.55 kilometer (1.3 km plus vyf rondtes van 3.85 km) in 1 uur 15 minute 46 sekondes teen gemiddeld 16.22 km/h afgeblits op die nat en modderige Izu-bergfietsbaan, waar die modder vanaf die eerste rondte die ryers gedwing het om op sekere kort steiltes af te klim en die fietse te stoot.

Frei (1:16:57) en Indergand (1:17:05) was beide effens meer as 'n minuut agter Neff, vir 'n historiese deurbraak vir die Europese nasie.

Vierde was die bloedjong Hongaar Blanka Vas (19) wat talle van die groot name oorskadu het.

Vorster het wel vanaf 2015 tot laasjaar die Namibiese nasionale bergfietskampioenskappe in Windhoek op 'n streep gewen, asook goud by die 2017 Afrika-kampioenskap in Mauritius ingepalm.

Vorster, wat vanjaar met haar gesin na Auckland in Nieu-Seeland geëmigreer het, het agterna sugtend haar vertoning verduidelik: “Die toestande het my net glad nie gepas nie.

“Dit het die hele nag gereën en die baan was baie modderig, wat teen my getel het. Ons het die afgelope week op dieselfde baan geoefen toe dit droog was. Op die tweede oefendag het ek hard geval en my valhelm gebreek. Ek dink my liggaam het nog nie ten volle herstel nie.

“Ieder geval, die kondisie van die baan was glad nie in my guns nie.

“Soos ek gesê het, dit het die hele nag gereën. Toe ons vanoggend by die baan kom, moes ons haastig die bande verander. Daar was ook verskeie veranderinge aan die roete waarop ons geoefen het; die A-rylyne is verwyder sodat ons net die B-lyne gery het.

“Ek is steeds gelukkig om my land te kon verteenwoordig. Ek is nie gelukkig met my vertoning nie, maar ek het onder die omstandighede my beste gelewer.”



NUWE GENERASIE

Neff was in Rio 2016 sesde en Indergard agtste. Die 2016 Olimpiese kampioen, Jenny Rissveds (27) van Swede, kon gister net die 14de posisie behaal. Maja Wloszczowska (37) van Pole wat met silwer in Rio gespog het, eindig 20ste.

Catharine Pendrel (40) van Kanada wat die brons in Rio opgeraap het, het gister straks ook die ouderdom in haar bene gevoel toe sy 18de klaargemaak het.

Pauline Ferrand-Prévot (29) van Frankryk, die 2020-wêreldkampioen, het gister tiende geëindig.

Eva Lechner (36) van Italië en Rebecca McConnell (29) van Australië was tweede en derde by 2020 se wêreldkampioenskap, maar het gister onderskeidelik 25ste en 28ste oor die eindstreep gery.

• Terwyl Vorster nie op die bergfietswêreldranglys van die UCI verskyn nie, word Vera Looser, wat Namibië in die padfietsresies in Japan verteenwoordig het, wel as hul 312ste beste internasionale bergfietsryer gereken. Looser was op 292 totdat sy onlangs met 20 posisies teruggesak het.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!