Fluit-fluit, dis storietyd
Elvira Hattingh - Ons is op die storieboek lees.
Soos my ouers met my gedoen het, wil-wil dit lyk of ons ook ‘n voorliefde vir boeke by Jakaryntjie kon kweek.
Na regte strek dit nie altyd tot voordeel van boeke en tydskrifte nie. Sy is inderdaad die laaste een wat ‘n tydskrif of koerant “lees”, en as sy ‘n boek in die hande kry, hóóp jy dat dit van ’n harde karton is. Selfs dié boeke het ook al in die slag gebly.
Dis egter nie my enigste bekommernis nie.
Verstaan my reg, ek verdra al die feëverhale en het selfs genade vir die onmoontlikheid daarvan dat ‘n wolf met jou “praat” en jy dit later vir jou ouma aansien. (Wat was in dáái ouma se tee gewees?)
Maar dan kom dit by Doringrosie wat 100 jaar lank slaap en die dapper prins wat tot binne die toegegroeide kasteel indring en verlief raak op die slapende skoonheid. En sowaar, sy soen wek haar – net omdat dit wáre liefde (met die eerste oogopslag) is.
Dis hier waar my grootmensbrein vrae begin stel – skepties, sinies, soos ons maar is.
Gestel Doringrosie en almal in haar kasteel kón so ‘n lang slaap oorleef ná sy op die ouderdom van 16 deur ‘n spinwiel gesteek is - hoe lyk ‘n prinses op 116 jaar? Buiten die ouderdom wat móés intree, was sy seker ook maar toe effens honger en dors.
Of dalk het ons die storie verkeerd: Dalk is dit nie ‘n jong, dapper prins wat haar kom wakker soen het nie, dalk was hy ook bejaard! Ek het groot begrip en waardering vir bejaarde liefde en sal nie omgee om só ‘n storie aan Jakaryntjie voor te lees nie.
Die ander moontlikheid is dat die prinses wél jonk was en ‘n voorliefde vir besonders bejaarde dames gehad het.
Ek moet noem: As die prinses en almal in die paleis tydens hul ontwaking steeds so oud gelyk het soos die dag toe hulle gaan slaap het, is ek bly hulle hoef nie dáái storie aan ons binnelandse sake te verkoop nie.
Maar ek óóranaliseer nou, ek weet. Dis maar net pure verbeeldingstories, mooi fieterjasies wat nie noodwendig in enige waarheid gegrond is nie.
Fantasieverhale het ook ‘n funksie. Dit wakker kreatiwiteit en drome en verbeelding onder kindertjies aan. By my persoonlik het dit ‘n voorliefde vir lees en die geskrewe woord laat ontwaak. Daarsonder sou ek nie wou skryf of in die beroep wees waar ek vandag is nie (ek onthou vir Storieman!).
Heng, ons jonger mense het nodig om weer te lees sodat ons weer kan spel!
Verder is feëverhale vir geslagte lank oorvertel met die doel om soms ook dieper betekenisse en lesse oor te dra – kyk maar na Skoonlief en die Ondier, die Lelike Eendjie en die Keiser Se Nuwe Klere.
Duisende variasies van die feëverhale word onder al die verskillende volke oraloor die wêreld vertel – waarvan sommige dalk nie so net die mooi en die maanskyn behels nie.
Kyk ek na Jakaryntjie, dan wéét ek – ‘n liefde en smagting na stories en verhale lê in die bloudruk van ons DNA. Dit vervul ‘n smagting na kultuur – van die tyd toe ons voorvaders dit kleurryk rondom bosvure aan ons kon oordra, tot vandag waar elke ma of pa hopelik voor slaaptyd vir hul kindertjies slaapstories lees.
Soos ouma altyd aan die einde van ‘n storie gesê het: “Fluit-fluit, my storie is uit.”
Dankie vir al die boeklees-ma's, -pa's, -oumas en -onnies. Dit is nooit verniet nie!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie