Fluit-fluit ná dié boerdery byt

Sedert sy pa vir José op skool 'n eerste voëlhok gebou het, het die boerdery oor ses dekades tot 300 hokke en meer as 200 voëlspesies gegroei.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Die ding het my gebyt en daarmee het die hele storie begin. Tot vandag toe, al groter en groter.

“Jy hou nie op nie, jy bou net nog 'n hok – tot waar ek vandag by 300 hokke is.”

Só gesels José Lopes, waar hy buite Tsumeb op die kleinhoewe Wildlife Paradise maklik een van die land se grootste voëlboere is. Hy het meer as 200 soorte voëls en dit sluit sy kwartels, fisante en ander klein voëltjies uit. Hy is een van die min plaaslike boere wat met die groot voëls – die ara-papegaai (macaw) – boer.

José sê voëlboerdery is vir hom 'n stokperdjie. “Jy maak nie geld hiermee nie, jy moet 'n passie vir voëls hê. Hulle betaal sóms hulle kos.

“Ek het hierdie beplan vir as ek oud is, dan wil ek nog iets doen.”



BEGIN

José het in 1960 met sy voëlboerdery begin toe hy nog op skool was. Sy pa het vir hom 'n hok gebou en alhoewel dit aanvanklik net iets vir die pret was, het hy sedertdien nie weer teruggekyk nie.

Nadat hy getroud is, het hy uitgebrei.

“Van 1978 is ek ook met die groot voëls deurmekaar. Dis 'n passie en 'n liefde. Ek hanteer dit so,” het hy gesê.

José sê die probleem met voëlboerdery is dat jy altyd besig is om méér hokke te bou. “Dit het met my gebeur. Ek het op Tsumeb gebly en ek het hokke om die huis gebou. Toe ek by my vrou se tuin kom, het sy gesê ek mag nie aan haar tuin raak nie.

“Ek moes 'n plot koop om te kon uitbrei,” vertel hy.

José boer vandag met alles van klein suisies tot krombek-papegaaie, Suidwesparakiete, ringnekke en ara-papegaaie van verskillende groottes.



MARK

José sê die toekoms van voëlboerdery in Namibië lyk nie rooskleurig nie, veral nadat die Covid-19-pandemie grense gesluit het en so ook die uitvoer van voëls na 'n groot mark soos Angola.

Hy hoop die mark sal weer tot sy vorige glorie herstel.

“Ons plaaslike mark is baie klein, 'n voëlboerdery in Namibië is nie maklik nie. Ons kan nie na Suid-Afrika toe uitvoer nie, want hulle mark is self groot. Ons mark is dus baie beperk,” het hy verduidelik.

José sê die materiaal om hokke te bou, is baie duur. “Jy sal 'n fout maak as jy dink jy gaan 'n besigheid uit 'n voëlboerdery maak. Jy verkoop nie elke dag voëls nie, maar hulle moet elke dag eet,” het hy gesê.

Hy sê tans staan uitvoere na Angola nog stil. “Dit was 'n groot afsetpunt, maar nou sit ons met die voëls. Plaaslik is ons nog nie groot nie, alhoewel al hoe meer mense in voëls begin belang stel. Dis egter nie genoeg nie, ons moet 'n uitvoermark ook hê.”

José sê hy het voorheen talle groot papegaaie, uitheemse fisante en ook hoenders uitgevoer.

Hy sê voorheen het hulle teelmateriaal uit Suid-Afrika gekry, maar omdat dit baie papierwerk vereis, benut hulle binnelandse bronne en onderhandel met verskillende voëlboere in Namibië.



PLAASLIK

José sê in Windhoek, op Otjiwarongo en in Walvisbaai is daar verskeie groot voëlboere.

“Ons hou gereeld veilings en behoort aan voëlklubs. Een keer per jaar word 'n veiling in Windhoek gehou, asook twee maal per jaar op Otjiwarongo en dan ook aanlyn veilings,” verduidelik hy.

Hy sê nie baie mense boer met groot voëls nie, want dis baie duur.

“Die groot voëls raak al hoe skaarser en al hoe duurder. Die meeste mense gaan dus vir kleiner voëls. Dit is tipies jou verskillende ara-papegaaie wat van Suid-Amerika en Brasilië kom. Hulle het baie aandag en 'n groot hok nodig.”

[email protected]

FOTO'S ELVIRA HATTINGH

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!