Flynn erken leuen

Dit lyk asof die net om Donald Trump, president van Amerika, al hoe stywer span.
Michael Flynn, sy voormalige veiligheidsraadgewer, het Vrydag skuld beken op aanklag dat hy vir die FBI gelieg het oor sy kontak met Sergei Kislyak, die Russiese ambassadeur na Amerika.

Hy is aangekla as deel van Robert Meuller, ’n gewese FBI-hoof, se ondersoek na bewerings dat die Trump-kamp tydens die 2016-verkiesingsveldtog met die Russe saamgesweer het.

Flynn – wat net 23 dae in die Trump-administrasie gedien het – is die mees senior amptenaar wat tot dusver in die ondersoek aangekla is.

Dit wil voorkom asof Flynn in sy verklaring aan die FBI iemand nog meer senior in Trump se span impliseer – ’n aanduiding van die rigting wat Meuller se ondersoek inslaan.

Talle Amerikaanse mediahuise sê dié senior amptenaar op wie die kollig nou val, is Jared Kushner, Trump se raadgewer en skoonseun.

AFP berig dat Flynn waarskynlik nie meer as ses maande tronkstraf sal uitdien nie.

Die Withuis het in ’n verklaring gesê “die skulderkenning of die aanklag impliseer niemand anders as mnr. Flynn nie”. Trump se verskyning voor joernaliste is hierna gekanselleer.

Flynn het aan die ondersoekspan gesê hy het met Trump se presidensiële oorgangspan gepraat voor en nadat hy in Desember 2016 met Kislyak gepraat het en dat hy instruksies gekry het oor hoe om dié gesprekke te hanteer, berig BBC. Dit stem nie ooreen met Trump se weergawe dat Flynn op sy eie en teenstrydig met opdragte opgetree het nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer