FlyWestair voeg twee nuwe roetes by vlugrooster
FlyWestair voeg twee nuwe roetes by vlugrooster

FlyWestair voeg twee nuwe roetes by vlugrooster

'Wil noordoostelike streke ’n toerismebestemming maak'
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis op Rundu – Die plaaslike lugredery FlyWestair het onlangs twee nuwe roetes tot hul vlugskedule gevoeg: tussen Windhoek en Rundu, asook Windhoek-Katima Mulilo.

FlyWestair, as deel van die Westair-maatskappygroep, het Dinsdag sy nooiensvlug vanaf Eros-lughawe na die Rundu-lughawe onderneem. Dié lugredery sal ook die eerste wees wat weeklikse vlugte tussen die hoofstad en die Kavango-Oosstreek aanbied.

Volgens die uitvoerende hoof van FlyWestair, mnr. Henri van Schalkwyk, sal die inlywing van hierdie nuwe roete Namibiërs en toeriste tussen die hoofstad en die noordoostelike streke verbind. “Ons hoop hierdie belangrike stap sal ook bydra tot die ekonomiese bemagtiging van dié streek,” het hy gesê.

“Ons verstaan en aanvaar ons plig om by te dra tot die ontwikkeling van die plaaslike lugvaartsektor. Ons is bewus van ons verantwoordelikheid teenoor die Namibiese ekonomie as geheel. Ons bydrae in hierdie opsig is om te help om kanale te skep tussen toerisme, die regering en die sakewêreld, wat sal bydra tot die welvaart van ons land en ons ekonomie,” het Van Schalkwyk bygevoeg.

Hy het gesê Rundu en die Kavangostreke is ’n belangrike bousteen vir die ontwikkeling van die plaaslike landbou- en toerismebedryf. Die bekendstelling van twee weeklikse vlugte na hierdie streek sal sakelui in staat stel om veilig en betyds na hierdie deel van Namibië te reis.

“Hierdie streek is nog altyd beskou as ’n ‘russtop’ vir toeriste op pad na ander bestemmings in Botswana en Namibië. Ons is baie opgewonde om by te dra tot die ontwikkeling van die Kavangostreke as ’n volwaardige toerismebestemming op sy eie.”

Danksy vennootskappe met ander Namibiese ondernemings soos Gondwana Collection kan FlyWestair ook spesiale pakkette vir toeriste en reisigers aanbied.

Die redery werk saam met belanghebbendes in die toerismebedryf, soos die ministerie van die omgewing en toerisme, om die herlewing van die Namibiese toerisme- en reisbedryf in ’n post-Covid-omgewing ’n hupstoot te gee.

Mnr. Benjamin Makyi van die Rundu-dorpsraad wat die inhuldigingseremonie namens die burgemeester mnr. Gabriel Kanyanga behartig het, het gesê die bekendstelling van dié nuwe roete hou “enorme ekonomiese voordele” vir die streke in.

“Aangesien Rundu die ekonomiese middelpunt van hierdie streek is, moet ons verseker dat ons voldoende kapasiteit het om potensiële ekonomiese groei vir ons streek te lok,” het hy gesê.

FlyWestair se binnelandse skedule sal voortaan twee vlugte per week – op Dinsdae en Donderdae – tussen Rundu en Windhoek insluit, asook drie vlugte per week tussen Katima Mulilo en Windhoek.

“Hierdie nuwe roetes is ’n integrale spilpunt vir soveel van ons land se noordoostelike inwoners. Rundu is ’n belangrike skakel na ander SADC-lande, veral Zambië, Zimbabwe, Botswana en die Walvisbaai-hawe,” het Makyi bygevoeg.

Op sy beurt het mnr. Bisey Uirab, uitvoerende hoof van die Namibiese Lughawemaatskappy (NAC), gesê: “Lugvervoer hou die sleutel tot toerismegeleenthede, asook om sake- en beleggingsgeleenthede in ons land te verbeter.

“Verskeie kapitaalprojekte is op ons lughawens beplan, insluitend hierdie lughawe (Rundu), om lugvervoer meer toeganklik te maak en diensgehalte te verbeter. Hierdie geleentheid dien as bewys van ons gesamentlike verbintenis tot wedersydse samewerking, wat bydra tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Namibië.”

FlyWestair sou gister sy nooiensvlug na Katima Mulilo onderneem.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!