Fokus: Museum hou groot makietie

Die klipkerk wat in Tseiblaagte geleë is, is nou 123 jaar oud en dien al die afgelope 40 jaar as museum.
Gerine Hoff
Gerine Hoff - Die Rynse Sendingkerk op Keetmanshoop, wat in 1895 opgerig is, het onlangs sy 40ste jaar herdenk ná dit op 17 Junie 1978 tot monument verklaar is.

GESKIEDENIS

Die behoefte aan ’n kerk op Keetmanshoop het in die laat 1800’s ontstaan. Die eerste sendeling in die area was Johan Schröder, wat vanaf Barmen daarheen gestuur is. In 1869 het kaptein Hendrik Tseib, na wie die Keetmanshoopse woonbuurt Tseiblaagte vernoem is, en wat reeds in 1810 daar aangekom het, grond vir ’n kerk geskenk.

In dieselfde tyd het Johan Keetman 2 000 Duitse mark vir die oprigting van ’n kerk geskenk, en as blyk van waardering is die nedersetting, wat voorheen as Nugoeis (“swart modder”) bekend gestaan het, tot Keetmanshoop herdoop.

In daardie stadium het ongeveer 30 mense daar gewoon.

In 1877 het eerw. Tobias Fenschel daar aangekom om die klein gemeente vir die volgende 33 jaar te bedien.

Maar ’n ramp het die kerk in 1890 getref – ’n groot storm het dit weggespoel.

Dit is toe wat Fenschel besluit het om die kerk te bou soos dit vandag daar uitsien, maar dié keer op hoër grond.

Die klipkerk is toe onder sy toesig deur inwoners van die dorp gebou, asook ’n pastorie wat reeds in 1892 voltooi is.

Hoewel die kerk se mure gemessel is, is die boonste gedeelte van die toring se klippe slegs op mekaar gestapel en geen sement of klei is hiervoor gebruik nie.

Bouwerk is uiteindelik in 1895 voltooi en die nuwe kerkgebou kon 1 000 mense huisves.

MONUMENTVERKLARING

Een man wie se lewe hand aan hand met die gebou loop, is ’n boorling en oudburgemeester van Keetmanshoop, asook ’n voormalige uitvoerende hoof van die Kankervereniging van Namibië, mnr. Kurt Johannessen.

Hy vertel omdat die klipkerk jare lank nie gebruik is nie, het die gebou, wat in Tseiblaagte geleë is, mettertyd verval. Daar is ook by die kerk ingebreek, boemelaars het hul intrek daar geneem, vuur is daarbinne gemaak en die houtbanke is verniel.

Nog voor die kerkie tot monument verklaar is, het Johannessen saam met mnr. Hendrik Conradie besluit om die gebou van ondergang te red.

“Ons het ingespring en begin werk. Hendrik was ’n regte houtwurm – dit was sy stokperdjie – en hy het al die vensterrame, die deur en preekstoel gerestoureer,” vertel Johannessen.

As raadslid het Johannessen saam met munisipale werkers die klei van die mure af gekap en die klipmure binne met sement bedek. Ongelukkig was daar weinig van die houtvloer oor. Maar toe die dorp se randklippe met sementrandstene vervang is, het Johannessen en sy gedugte span die ou randklippe gebruik om ’n nuwe vloer vir die kerk te bou.

“Sodoende is dele van ons dorp ook in die kerkie bewaar,” sê hy.

Daarná is ’n altaar uit klip gebou omdat die oorspronklike altaar vuurhout geword het. Die bostuk van die altaar is uit oorblywende vloerplanke gemaak.

“Maar die grootste skat is beslis die preekstoel,” vertel Johannessen. “Toe Hendrik dit uitmekaar wou bou om te herstel, het ons besef dit sou onmoontlik wees, omdat dit lewe! Fenschel het destyds ’n kameeldoringboom afgekap om dit te maak. Ten spyte daarvan dat hy gedink het die boom is dood – dit is immers met ou olie deurdrenk – was die boom eintlik nog aan die lewe.

“Wat sê dit nie vir ons nie! Die Woord van God – die preekstoel se wortels – lê vandag baie meters onder die grond en die wortels hou die preekstoel vas.”

MUSEUMINHOUD

Johannessen en Conradie het 11 jaar lank, naweek ná naweek gewerk, en geld en ander items ingesamel om die gebou te herstel. Die vloer is soos van ouds met lampolie en kerswas gepoleer, elektriese krag is aangelê, toilette is in die agterste vleuel ingebou en ’n tuin is aangelê.

“Ek het die ingangshek by die Joodse sinagoge op die dorp gaan ‘steel’ en voor die klipkerk aangebring. Só het ’n deel van die sinagoge ook behoue gebly,” vertel Johannessen.

Hy sê voorts die twee bankies wat vandag voor staan, is letterlik al wat oor was van die oorspronklikes.

“Nog ’n pragstuk is die klavier. Dit het destyds aan Fenschel se vrou behoort. Haar agterkleinkind, me. Emmi Sohrada, het dit egter aan die museum geskenk. Nog iets besonders is die traporrel wat sr. Minna Sachs destyds gespeel het,” sê hy.

Verskeie ander items is toe ook aan die museum geskenk, onder meer toerusting van die skoenmaker Otto Böhme, ’n botteleringsmasjien van die eerste lemonade- en weisbier-aanleg, ’n brötchen-bakker van die Klitzke-bakkery, en toerusting van Sam Paulton en Max Brandenburg se smedery.

“Ongelukkig het baie van dié waardevolle items oor die jare weggeraak of is uitgeleen en nooit teruggebring nie,” vertel Johannessen.

“Dit mag nie gebeur nie! Items wat aan die museum geskenk is, moet hier bly. Dit is veral sleg as iemand iets geskenk het en jare later weer die museum besoek, net om te ontdek dit is nou weg.”

VROUE GRYP IN

Daarmee saam het tyd ook weer sy tol geëis en het die museum van sy glans verloor.

Dit was egter juis omdat die kerk vanjaar sy 40ste bestaansjaar as museum herdenk, dat die Keetmansoop-tak van die Namibiese Vrouevereniging (NVV) die afgelope 18 maande gewoeker het om die monument tot sy volle glorie te herstel.

Met die tema “Red ons erfenis” as aansporing en met die goedkeuring van die munisipaliteit, het die vroue aan die werk gespring.

Eerste aan die beurt was die tuine, iets waaraan die vroue op ’n vakansiedag in April 2017 begin werk het. Elkeen het ’n paar vetplante en aalwyne saamgebring en die hele dag aan die tuin gewerk. Hulle het die res van die jaar geplant en gesaai.

Op die volgende vakansiedag pak hulle toe die implemente buite die gebou aan en verf dit weer mooi.

Laaste, maar nie die minste nie, moes die gebou binne nuwe glans kry. Ná ’n groot skoonmaak-aksie, het hulle items uit store gaan haal en selfs ’n paar items ontdek wat Johannessen vermoed het weg was.

Die vroue sê almal wat kon, het kom help om alles skoon te was, koper te poets en meer georganiseerd uit te stal.

Ná ’n groot geskrop het hulle besef die vloer sal herseël moet word. Die munisipaliteit is hieroor genader, en ook oor ’n nuwe omheining.

DIE GROOT DAG BREEK AAN

Met die museum se 40ste bestaansjaarvieringe is groot makietie gehou met gaste wat van heinde en verre daar byeengekom het om saam te kuier.

“As kind was die klipkerk altyd die middelpunt van Keetmanshoop,” het Johannessen in die Museum-feesblad se voorwoord gesê.

“Hier het ek saam met gemeentelede etlike feestelike geleenthede gevier, soos Nagmaal, Paasfees en Kersfees. Kersfees het ons saam die geboorte van Christus op indrukwekkende wyse met skape, lammers, donkies en lofsange in verskillende tale gevier.

“Veertig jaar gelede het ons op ’n sonnige dag in Junie 1978 die Skepper vir Sy voorsiennigheid, genade en liefde vir die ontstaan van die museum bedank.”

Hy het die NVV bedank dat hulle die museum as hul jaarlikse taak aangepak het.

“Namibië, maar Keetmanshoop veral, kan opreg trots wees oor jul ywer en deursettingsvermoë,” het hy gesê.

Op haar beurt het die presidente van die NVV, dr. Marina Muller, die Keetmanshoop-tak geluk gewens met die museum se opknapwerk.

“Die museum is ’n stuk van ons erfenis wat vir die nageslag bewaar moet bly. Jul arbeid en geld het dit weer in ere herstel.”

By die geleentheid het raadslid Ernst Jash gesê die munisipaliteit is geëerd om die kurator van die wonderlike gebou te wees.

“Die gebou se unieke kombinasie van Gotiese argitektuur wat met klip uit eie bodem geskep is, maak dit een van die land se argitektoniese meesterstukke.

“Een van ons munisipaliteit se belangrikste doelwitte is om Keetmanshoop as ’n top- toeristebestemming te vestig, waarvan hierdie museum een van die geleiers is,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg verskeie opnames en studies het reeds bewys dat kulturele toerisme baie gewild is.

“Ons groot voordeel is dat Keetmanshoop kultureel divers is. Dus moedig ons die ontwikkeling van nuwe toerismeprodukte in hierdie segment op elke platform aan en is ons dankbaar vir die NVV se harde werk om bewustheid hiervan te bevorder.”

Ter afsluiting het Johannessen gesê die museum moet as ’n besigheid bestuur word en dat waardevolle items goed bewaar moet word.

“Ons moet onthou die museum is ’n besienswaardigheid. Hoe dit lyk, hoe beter die uitstallings is en hoe dit vertoon word, is belangrik. Dit verbreed kennis oor ons geskiedenis.

“Dit sal meebring dat meer toeriste op Keetmanshoop en meer spesifiek by die museum sal aandoen. Almal moet onthou jy kan nie die geskiedenis wegdink of uitvee nie. Geskiedenis bly geskiedenis.”

Die museum is gedurende die week van 07:30 tot 12:30 en van 13:30 tot 16:30 oop, behalwe op Vrydae wanneer dit net tot 16:00 oop is.

Oor naweke en op openbare vakansiedae is die museum gesluit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!