Fonetiese vermaak laat rugbyflaters verflou
Fonetiese vermaak laat rugbyflaters verflou

Fonetiese vermaak laat rugbyflaters verflou

Andrew Poolman
Ná die aanvanklike gesukkel begin kyk ek toe eergistermiddag halfpad deur die eerste helfte die rugbywedstryd tussen die Namibiese Welwitschias en die o.20-span van Argentinië. Op die skoolveld van Paarl Gimnasium.

Die YouTube-kanaal waarop dit vooraf geadverteer was (School Sport Live), het ’n paar minute voor die afskoptyd reeds regstreeks begin uitsaai. Met professionele, ingeligte kommentators en alles. Wonderlik.

Skielik hou die video op. Hier is probleme. Probeer herlaai die bladsy? Nee, dit help nie.

Bietjie later op die swart skerm verskyn die boodskap: Hierdie video is op versoek van SuperSport geblokkeer om hul kopiereg te beskerm.

Storm na die televisie in ons kantoor en gryp die afstandbeheer. Blaai deur al die SuperSport-kanale. Nêrens word ons wedstryd gewys nie. Ontstokenheid kry oor my beheer. Maar bly kalm en vloek redelik saggies.

’n Paar minute verloop voordat ’n teksboodskap by die video gevoeg word – die wedstryd verskyn steeds regstreeks op YouTube. Soek net SuperSport se kanaal op YouTube.

Oukei, reg. Daar is dit. Namibië is klaar 17-3 agter ná 19 minute.

Nou, die snaakse ding van my YouTube by die kantoor die laaste tyd (en ek weet nie hoe dit gebeur het of sien nêrens waar om te kliek om dit te verwyder nie), is dat geskrewe teks onderaan die skerm verskyn van alle hoorbare woorde deur enige spreker.

Dit is seker ’n baie vernuftige hulpmiddel vir dowes of iets. Maar ek verkies om dit nie te sien nie, en as ek geweet het hoe om dit te laat verdwyn, sou dit nie daar gewees het nie.

Ek probeer fokus om die spel te volg, maar algaande merk ek op hoedat YouTube se geoutomatiseerde tekshulpmiddel die uitspraak van die Namibiese spelers se name verfomfaai.

Dit staan glo bekend as Closed Captions, sê ’n kollega, want intussen het dit op dié spesifieke video weer verdwyn en noudat dit weg is, sukkel ek weer vergeefs om dit terug te bring.

Want die teksweergawe van die fonetiese Afrikaanse en ander name van die Namibiese spelers is nogal snaaks.

Ek kan my voorstel dat sommige van hierdie uitsprake kan bly kleef en properse erkende byname word, soos rugbyspelers mos lief voor is.

15 Chrysander Botha (Chris and Roberto / Bootsup / Crescendo Puerto)

14 Johann Tromp (Your Hand Trump)

13 JC Greyling (Trailing / Craving / Craven)

12 Darryl de la Harpe (Terrell of Terrill Taylor Hop)

11 Janry du Toit (Young Rider Toy / Ian Dray the Toy)

10 Cliven Loubser (Clyburn Lobe Sure of Lobe Shirt . . . uitgewys as die belowende opvolger vir sy rekordmaker voorganger, Theuns “Quarter” Kotzé)

9 Eugene Jantjies (Yankees / Yank His)

8 Adriaan (Poison) Booysen

7 Prince !Gaoseb (sy naam en van was gruwelik verkeerd gespel op die spanlys wat op die skerm gewys is – Price Goesbg. En deurgaans noem die kommentators hom The Prince)

6 Leneve Damens (Demands)

5 Ruan Ludick (Lyric / Lunatic)

4 Mahepisa Tjeriko (Jericho / Cherry Cope)

3 AJ de Klerk (’n stil wedstryd, wat vir vaskopstutte normaal is)

2 Obert (Nokia) Nortjé (“strong carry by hooker Or Kia”).

1 André Rademeyer (nie genoem nie, sover ek weet).

Van die reserwes is PW Steenkamp (Stan Come / Stand Camp) darem ’n paar maal genoem, soos gewoonlik die geval sal wees met ’n losskakel wat darem ’n klompie minute gespeel het.

Die een kommentator, Justin Middleton, wou darem ook soms hoor of sy vennoot Andries (On Trees) Strauss, enige wyshede wil byvoeg?

Oukei, so Namibië (The Mafia / The Maybe) met sy “pack of four words” het toe nou nie hul eerste wedstryd van die seisoen gewen nie.

Maar nou ja, hier is darem nog ’n rede om uit te sien na ons mense se verskyning by die Wêreldbeker in Japan in Septembermaand.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!