Fontein van vullis

Die munisipaliteit op Grootfontein moes in die tussentyd alternatiewe planne maak, soos om vullissakke op ‘n bakkie weg te ry.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Grootfontein se vullisverwyderingslorries kon vir ‘n tweede week nie die dorp se rommel verwyder nie. Dit is omdat die voertuie nie oor geldige lisensieskywe en padwaardigheidsertifikate beskik nie.

Volgens foto’s wat deur ‘n anonieme bron aangestuur is, het sommige voertuie in die munisipale vloot se lisensieskywe reeds ses jaar gelede in 2015 verval. Volgens gerugte het owerhede nou ‘n stokkie voor die gebruik van die onpadwaardige voertuie gesteek.

Intussen is die munisipaliteit besig om vullissakke op ‘n bakkie te laai en weg te ry, terwyl die stadsraad ook twee vragmotors van die sakegemeenskap gekry het om met vullisverwydering te help.

Mnr. Luke Salomo, woordvoerder van die Grootfontein-munisipaliteit, het gister gesê, buiten vir die bogenoemde stappe wat die dorpsraad tans neem om die situasie te probeer beredder, het hulle ook verlede Saterdag ‘n skoonmaakveldtog in die dorp van stapel gestuur.

Dit volg ná ‘n kennisgewing op die dorp se Facebook-blad gepubliseer is om te sê hulle ervaar “vertragings” in rommelverwydering wat tot môre sal voortduur. Dit glo weens meganiese probleme met hul rommellorrie.

AGTERSTALLIG

Salomo sê een of twee munisipale voertuie waarvan die lisensieskywe en padwaardigheidsertifikaat verval het, is op die paaie aangetref waar dit besig was om vullis in die dorp te verwyder.

“Dit is deel van ons noodsaaklike dienste. Ons kan nie op vullisverwydering afskeep nie . . . Ons het ‘n ooreenkoms met ander belangegroepe gehad dat, terwyl ons besig is om ons agterstallige rekening te vereffen, ons kan voortgaan om vullis te verwyder,” het hy gesê.

Salomo sê egter die munisipaliteit is sedert verlede week besig om die agterstallige geld vir lisensieskywe en padwaardigheidsertifikate vir hul mees noodsaaklike voertuie te betaal.

“Inteendeel, sommige voertuie se nuwe skyfies is reeds uitgereik en moet net op die voertuie geplak word. Ons verstaan hulle is misplaas deur die vorige persoon wat vir die uitneem van die skyfies verantwoordelik was,” het Salomo gesê.

Hy het nie gerugte bevestig of ontken dat die munisipaliteit NaTIS meer as N$1 miljoen skuld nie, maar gesê die munisipaliteit is spyt daaroor dat hulle agterstallig geraak het en toegelaat het dat die uitstaande bedrae mettertyd gegroei het.

BETAAL REKENINGE

Op die vraag hoekom die munisipaliteit opgehou het om lisensieskywe en padwaardigheidsertifikate vir hul vloot uit te neem, het Salomo gesê daar was ‘n verandering van die persoon wat verantwoordelik was om die vloot by NaTIS te registreer.

“Sedert hy weg is, is hy nie vervang nie. Die saak is intussen onder die aandag van die nuwe leierskap gebring, wat besig is om die verantwoordelikheid aan ‘n nuwe werknemer oor te dra,” het hy gesê.

Salomo kon nie sê presies hoe groot die munisipale vloot is nie, maar het bevestig dat dit “redelik groot” is, met sommige voertuie wat nuut is en ander oud.

“Ek sou sê sowat vyf tot ses van die voertuie se lisensieskyfies het verval en ons is besig om dit te hernu.”

Hy het opnuut ‘n beroep op die dorp se inwoners gedoen om hul rekeninge te betaal omdat dit die enigste manier is hoe die munisipaliteit in hul behoeftes kan voorsien.

“Geld is soos mensbloed in ‘n liggaam, daarsonder sal ‘n mens sterf. Dieselfde geld as inwoners nie vir die dienste betaal wat die stadsraad lewer nie – ons sal nie die dorp kan ontwikkel nie.”

Volgens mediaberigte skuld die dorp se inwoners die munisipaliteit N$140 miljoen.

Salomo het verder gevra dat onwettige rommelstrooiery of die vandalisering van munisipale eiendom by 067 243 100 aangemeld word. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!