#Fopnuus
Ons is pens en pootjies in die post-waarheid-era en word as onkritiese inligtingsverbruikers deur waarheidmanipuleerders aan die neus rondgelei. Hoe moet lesers en sosialemediagebruikers die kaf van die koring skei?
Ronelle Rademeyer en Estelle de Bruyn - Dit word toenemend duidelik ons leef in ’n era waar emosionele aansprake eerder as harde feite politieke agendas rig.
Nuusdekking tydens en ná Brexit en die Amerikaanse presidentsverkiesing verlede jaar het die betreding van hierdie ná-waarheidstyd bevestig. Geen wonder die Oxford-woordeboek se woord van die jaar vir 2016 was “post-waarheid” nie.
Lesers voel toenemend hulle het pionne geword op ’n skaakbord waar alternatiewe waarhede die spelreëls bepaal.
In George Orwell se 1984 wat deesdae weer ’n blitsverkoper is, verander die staat daagliks die geskiedkundige rekord van gebeure om sy propagandadoelwitte van die dag te pas.
“Ons samelewing het uit ’n era van massakommunikasie – hoofstroommedia wat massamarkte bedien – gemorfeer in ’n era van netwerkkommunikasie, een waar groepe mense deel is van sosialemedianetwerke en in dié netwerke hul nuus met mekaar deel. Dit gebeur toenemend dat dit tot die ‘eggokamer’-effek lei: Jy hoor net wat jy eintlik self sê (en wil glo),” skryf prof. Lizette Rabe, hoof van die departement joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch.
Daar is talle voorbeelde hoe “nuus” op vals nuuswebwerwe en sosiale mediaplatforms viraal deur die kubergange blits. Feite word verdraai, stertjies word bygelas of “feite” word eenvoudig nuut geskep.
Kort voor lank is die waarheid ’n skisofreniese monster.
Prof. Lahcen Haddad van die Mohamed V Universiteit in Rabat, Morokko, skryf in ’n artikel op Al Jazeera se webblad “die verkiesingslandskap in baie demokratiese lande getuig van ’n nuwe politieke kultuur gegrond op emosies en vrees, pleks van feite en beleid”.
2008 en daarna
Ná die ineenstorting van die markte in 2008 en die ekonomiese en maatskaplike terugslae wat mense werkloos en arm op straat laat beland het, was dit asof ’n kous van verdoeming en somberheid mense verblind het.
Irrasionele vrees het die oorhand gekry.
Dit het ’n teelaarde geskep vir politici om met die koppe te smokkel van veral die werkers- en middelklas. Hulle moedeloosheid oor die migrasiegolf van instromers, hul afsku van die Wall Street-geldwolwe en hul vrese vir buitelandse inmenging, laat hulle halfgebakte waarhede gretig opslurp, verduidelik Haddad.
En terwyl die politici van hul mishope af die emosionele troefkaart uit die mou trek, lê hulle met die ander hand die sweep in na die media.
Die gevestigde en betroubare media word van die verdraaiing van feite beskuldig en skielik staan die Vierde Stand in die beskuldigde bank.
Fopnuus neem oor en vertrap die gevestigde waardes van eerlikheid, etiek en verantwoordelikheid.
Post-waarheid-era
Tydens die nuuskonferensie Maandag by Staatshuis het pres. Hage Geingob na fopnuus verwys met die volgende woorde: “Daar het letterlik nie ’n enkele dag verbygegaan sonder enige vorm van kontak tussen Staatshuis en media-rolspelers nie. Hierdie kontak vorm deel van ons onwankelende verbintenis tot deursigtigheid en om die nasie ingelig te hou in ’n tyd wat deur Matthew D’Ancona as die post-waarheid-era beskryf word. Ons het die era van waarheid agtergelaat en bevind ons in ’n ander era.
“In hierdie era is fopnuus, of eenvoudig gestel, die verspreiding van leuens om disharmonie en spekulasie te skep, aan die orde van die dag.
“Dit is daarom noodsaaklik dat burgers alles wat aan hul gebied word, krities moet ontleed deur die oorspronklike bron te raadpleeg,” het Geingob gesê.
Volgens Wikipedia is fopnuus ’n soort geelpersjoernalistiek wat uit moedswillige waninligting bestaan, en deur tradisionele druk- en uitsaaimedia, of op sosiale media versprei word.
Dit word gepubliseer met die uitsluitlike doel om te mislei ten einde finansiële of politieke munt daaruit te slaan. Dit gaan dikwels met sensasionalisering en oordrewenheid gepaard. Dit verskil ook van satire of parodie, wat daarop gemik is om humoristies te wees, eerder as om ’n gehoor te mislei.
Fopnuus maak gebruik van aangrypende opskrifte of totaal gefabriseerde nuusberigte om leserskap, die deel van aanlyn berigte en inkomste uit internetklieks te vermeerder.
Dit ondermyn ernstige mediadekking en maak dit uiters moeilik vir joernaliste om betekenisvolle nuusstories te dek.
Maklike toegang tot aanlyn advertensie-inkomste, toenemende politieke polarisering en die gewildheid van sosiale media, veral Facebook se nuusstroom, het bygedra tot die verspreiding van fopnuus.
Die relevansie van fopnuus het in dié ná-waarheidstyd ’n politieke realiteit geword.
Sewe soorte fopnuus
Volgens Michael Radutzky, ’n regisseur van CBS se 60 Minutes, sê sy program beskou fopnuus as “stories wat vals bewys is, groot openbare belangstelling lok en deur miljoene mense gevolg word”.
Guy Campanile, ook ’n regisseur by 60 Minutes, sê dit is stories wat gefabriseer en uit die lug gegryp is, meestal met opset en wat per definisie ’n leuen is.
Claire Wardle van First Draft News identifiseer sewe soorte fopnuus:
· Satire of parodie: Dit het geen bedoeling om skade te berokken nie, maar het die potensiaal om om die bos te lei.
· Vals konneksie: Wanneer koppe van berigte, beeldmateriaal of byskrifte nie die inhoud weergee nie.
· Misleidende inhoud: Misleidende gebruik van inligting om ’n kwessie of ’n individu voor te stel.
· Vals inhoud: Wanneer werklike inhoud met vals inligting oor die konteks gedeel word.
· Indringer inhoud: Wanneer werklike bronne deur vals versinde bronne verpersoonlik word.
· Gemanipuleerde inhoud: Wanneer werklike inligting of verbeelde inhoud gemanipuleer word om te bedrieg soos met ’n gedokterde foto.
· Gefabriseerde inhoud: Nuwe inhoud wat 100 persent vals is en ontwerp is om te bedrieg en skade te berokken.
Selfs voor die Trump-era was fopnuus al in omloop en in die 2010-verkiesing in Amerika het fopnuus tot groot omstredenheid en argumente gelei. Kommentators het destyds al kommer uitgespreek dat dit tot morele paniek en massahisterie kan lei.
Lakmoestoets
Die internasionale korrespondent Christiane Amanpour het toe sy verlede jaar die Burton Benjamin-gedenkprys vir mediavryheid ontvang het, by medejoernaliste gepleit om hulle opnuut te verbind om feite te verifieër en vreesloos na die waarheid te soek.
As joernaliste, wáre joernaliste wat hul professie eervol bedryf, dié verbintenis tot die waarheid maak, moet die lesers, kykers, luisters en internetgebruikers hulle óók tot die soeke na waarheid verbind.
Dit kan gedoen word deur dieper te delf en wyer te lees.
Facebook het onlangs riglyne gepubliseer om sosialemediagebruikers te help om fopnuus te identifiseer. (Sien die infografiek hiernaas.) Facebook-gebruikers kan fopnuus aanmeld deur op ’n pyltjie regs hoe in die hoek by ’n plasing te klik.
Hierdie is die stappe om te volg in die lakmoestoets vir die waarheid.
As mense dít doen, sal vals nuusmedia dit nie sommer regkry om hulle ’n kous oor die kop te trek nie.
Só gesels kenners by Windhoek Woordfees
In die Filosofiegesprek verlede Vrydagaand tydens die Windhoek Woordfees is sommer lekker oor #Fopnuus gedebatteer.
Die gespreksleier, prof. André du Pisani, het daarna verwys as “skuinswaarhede” en gesê dit is geen nuwe verskynsel nie, maar word net nou vir die eerste keer met die term “fopnuus” as ’n mediaverskynsel erken.
Die gasspreker prof. Herman Wasserman, hoof van die sentrum vir film- en mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad, sê fopnuus word vir propagandadoeleindes as hoofstroomnuus aangebied met die opsetlike bedoeling om te mislei.
Hy sê dit moet onderskei word van satire wat nuus naboorts, maar nie die doel het om te kritiseer en nie om te mislei nie.
Dani Booysen, redakteur van Republikein, sê vanweë gewone mense se toegang tot sosiale media het die mag verskuif. “Hoofstroommedia was altyd die hekwagters gewees, maar enigiemand kan nou nuus skep en daarom sien ons hierdie ontploffing in inligting.
“Die verskil is die etiek wat joernaliste nastreef, maak nie vir die skeppers van fopnuus saak nie. Hulle roem hulle op vryheid van spraak sonder enige verantwoording en verantwoordelikheid.”
Wasserman sê tegnies is fopnuus suksesvol, aangesien dit maklik is om vals webwerwe te skep en voor te gee dit is eg.
Hy meen ook die toename in die verskynsel van fopnuus dui op ’n vertrouensbreuk tussen die verbruikers van nuusprodukte en die hoofstroommedia aangesien hulle al meer verwyderd voel van die ernstige, formele nuus.
Du Pisani sê daar word al gepraat van e-demokrasie aangesien die verkiesingslandskap deur sosiale media getransformeer is en Wasserman en Booysen het saamgestem fopnuus in die toekoms al meer gebruik gaan word om “vuil te speel”.
“Die betroubare media se rol is juis om dit te ontmasker en die waarheid aan die lig te bring,” sê Booysen.
Wasserman meen egter die media se rol in die verkiesings van die verlede moet nie geïdealiseer en verromantiseer word nie. “Mense het maar nog altyd dié media opgesoek wat hulle vooropgestelde idees bevestig het,” sê hy.
Hy meen ook daar is wel positiewe aspekte aan sosiale media wat joernaliste kan gebruik. Voorbeelde hiervan is Julian Assange se Wikileaks en Edward Snowden se openbaarmakings.
“Hierdie is joernalistiek waarby gewone mense betrokke raak en joernaliste moet saamwerk met sosiale mediagebruikers wat aan die kant van die waarheid is.”
Wasserman het ook daarop gewys dat die media juis hard daaraan moet werk om sy bande met mense op voetsoolvlak te verstewig om meer geloofwaadig oor hulle kwessies te berig. Dit sal help om die vertroue in die hoofstroommedia te herstel.
“Uiteindelik is die media en die burgerlike samelewing saam in dieselfde bootjie. Beide wil ewe graag by die waarheid uitkom,” sê hy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie