“For duck’s sake, don’t COP out!”
Dit was een van die treffendste plakkate wat die wêreld se jeug – ook Namibiërs - in protes in die strate van Glasgow tydens die onlangse klimaatberaad in Skotland rondgeswaai het: “For duck’s sake, don’t COP out!”
Jongmense wat grootmense soebat om nie langer voor Mammon te buig nie. Om te rebelleer teen die daaglikse dolle gejaag werk toe op snelweë vol uitlaatgasse vir ‘n maandellikse tjekkie terwyl die een persent vet bonusse in hul bankrekeninge, luukse huise, karre en weelderige vakansies inpomp.
Óns kinders wat pleit vir ‘n groen revolusie eerder as die Greenback, en ja, groen Witboois. Nie net in Amerika en Namibië nie; die geldgod is slinks: 23% van alle note in die wêreld se geldeenhede is immers groen.
Dit moes rooi gewees het.
Want mense – én die aarde – bloei. Ons verwaarloos ons kinders, skeep onsself af en almal vir wie ons lief is. Om van ons medemens en die werkloses op straat nie te praat nie. Hulle is lankal die slagoffers van blinde werkers wat die vet katte se gierigheid onverpoos voer sodat ons net kan oorleef.
Mensekapitaal, noem hulle dit. Want dis wat werkers geword het, net nóg ‘n kommoditeit. Soos olie, goud, koper en die magdom sogenaamde skatte wat ons al dieper uit die aarde delf om op aandelebeurse mee te dobbel. Ratte in die groot geldmasjien.
Als in die naam van vooruitgang en ontwikkeling, natuurlik. Só is ons generasie ‘n rat voor die oë gedraai. Gebreinspoel dat balans oudtyds is. Dat ‘n titel en ‘n salaris hoër as die hongerloon van duisende ander ‘n teken van sukses is. Dat jare se sweet en swoeg die enigste manier is om ‘n toekoms vir ons kinders te verseker.
Wat ‘n blink toekoms het ons kinders nie! Hulle ken ons nie en ons ken hulle nie. Die sogenaamde gelukkiges onder ons kan ons kinders na private skole toe stuur. Waar hulle saam met ander afgeskeepte kinders vervulling in die materiële kan soek: selfone en rekenaars, klere met die regte handelsmerke, matriekafskeidrokke teen ‘n ontwerpersprys, limo’s wat gehuur word.
Dis alles aardste goed, het my ma altyd gesê. Jy was verkeerd, Mamma, weet ek nou.
Aardse goed is nie geldgoed nie. Aardse goed is die mooi van die aarde – van die léwe – waarmee ons ons kinders moet ryk maak.
Dis koffie met kondensmelk maak en saam op die stoep sit en die eerste druppels reën op die aarde ruik. Dis selfone afsit, ‘n vuurtjie aansteek, gesels en lag. Dis almal in die kar stop, die grondpad vat en mekaar se siel uittrek. Dis om arms-om-die-skouers te kyk hoe die son oranjepienk in die Khomas-hoogland sak.
Dís aarde goed. En Mamma, ‘n mens kán dit saamvat. Dis herinneringe wat ‘n mens deur die swaar dae dra. Dís wat ons kinders met hulle moet saamvat sodat hulle onthou om dieselfde oomblikke met húl kinders te bou.
Want net as ons tyd vir onsself en ons liefmense het, kan ons die mooi op die aarde sien. En baklei om dit so te hou. Dit nie verder in die naam van geld te vernietig nie.
Die aarde is leeg. Óns is leeg.
Tye het verander: Kinders móét gesien en gehoor word.
Vir die jeug by COP26 én hier wat baklei vir ‘n voller môre wil ek in jul jongmenstaal sê: “Respek.”
“Aluta continua!”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie