Fordyce dra koors van parkrun oor die grens
Fiksheid
Des Erasmus - ’n Drafskof wat soos ’n veldbrand deur Suid-Afrika versprei, bekend as die parkrun, kom Namibië toe. Dit dien as ’n wieg vir die opkoms van ’n land se langafstandatlete, maar is terselfdertyd gemeenskaps- en toerismegerig.
Bevestiging vir die koms van die drafkoors is deur die wêreldbekende Koning van die Comrades, Bruce Fordyce, in ’n eksklusiewe onderhoud met Republikein gegee.
Die nuwe gier het van Brittanje na Suid-Afrika oorgewaai. Daar is met 26 mense tydens die eerste aanbieding van die Park Run begin. In net meer as twee jaar het die landwye opkoms elke Saterdag op verskillende plekke tot 50 000 aangegroei.
Binne twee tot drie jaar gaan dit 500 000 deelnemers wees en ’n teiken van een miljoen parkdrawwers wink al in die buurland.
Fordyce besoek Swakopmund as gas van die Dome Classic, ’n byeenkoms in die binnenshuise sportkompleks The Dome, wat tot Saterdag voortduur. Onder die ander legendariese sportpersoonlikhede op Swakopmund is Jacques Burger (rugby), Okkert Brits (paalspring), Ebrahim Murat (rugby), Riaan Manser (internasionale avonturier) en Marius Dohne (liggaamsbou).
Fordyce keer môre (Vrydag) na Suid-Afrika terug vir die vestiging van ’n parkrun Saterdag op Worcester. Swakopmund en Windhoek is in dié stadium in ’n wedloop teen tyd om die eerste aanbieders van ’n parkrun in Namibië te wees.
“Dis internasionaal bekend soos rugby, daarom is die naam parkrun veeltalig,” sê Fordyce. “Elke Saterdag kom deelnemers vir ’n uur bymekaar om aan 5 km deel te neem, ongeag of dit draf of stap is. En deelname is gratis.
“Vir deelnemers is ’n Sondag die slegste dag, omdat dit die verste dag van die volgende Park Run op die Saterdag is. Vriendskapsbande en ’n kameraderie word daar gevorm. Paartjies wat mekaar daar ontmoet het, het selfs huweliksmaats geword. Deelnemers kom uit al die sektore van die samelewing en ken geen grense nie. Gevolglik is dit ook aksies ter bevordering van gemeenskapsontwikkeling.
“Deelnemers aan parkrun-byeenkomste in ander sentra kom sluit hulle aan. Sodoende word toerisme bevorder.”
Fordyce sê dit is gemeenskapsverkeer, maar ook ’n geleentheid waar sluimerende talent oor ’n afstand van 5 km uitgeken word. Met sodanige atlete word dan verder op die gebied van atletiek beweeg wat van die parkrun die wieg van kampioene maak.
Dieselfde gier het in verskeie ander lande posgevat waar plaaslike deelnemers aan die parkrun onmiddellik as bekendes verwelkom gaan word.
“Dis soos kerkgangers waar bekendes mekaar elke week ontmoet.”
Dave Hammond, koördineerder van sport en hoof van verkope en bemarking by The Dome, het aan die gesprek deelgeneem en bevestig dat die eerste so ’n byeenkoms waarskynlik al so vroeg soos Maart op Swakopmund gehou gaan word. Dit kan selfs voor ’n soortgelyke byeenkoms in Windhoek wees.
Fordyce het bevestig dat hy by gaan wees wanneer die eerste parkrun hier aangebied word.
Volgens Fordyce wys atlete met ’n tyd van minder as 15 minute vir die 5 km uit dat met hulle verder beweeg kan word. Dit is wonderlike talent wat reeds onder mans- en vroueatlete geïdentifiseer is.
In Durban het ’n jong man die afstand byvoorbeeld in 14 minute 10 sekondes afgedraf. “Op hom wag ’n wonderlike toekoms op die gebied van atletiek.”
In Suid-Afrika het meer as vierduisend vrywilligers hulle reeds aangemeld wat as beamptes en tydhouers tydens die byeenkomste optree.
Die roetes wat gedraf word, word net een keer per jaar omgekeer. Dit is die eerste week van April in die gees van Gekkedag.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie