Fort George en die takbokman

Lloyd Zandberg
Pedro Vorster





Hoe benut ’n mens ’n uitgediende 18de eeuse fort van 40 rugbyvelde groot? Hmm. Maak daarvan ’n toeriste-aantreklikheid en vra ’n stywe toegangsfooi. Iemand moet betaal word om al die grasvelde te sny. Daarby kan jy die fort as militêre basis gebruik en ’n regiment soldate vir 250 jaar blyplek gee, tot vandag nog.

Fort George is strategies uitgesoek en opgerig ’n kort entjie buite die kusdorpie Ardersier, noordoos van die stad Inverness op die Skotse Hooglande.

Vir sowat N$200 word ek tot die fort toegelaat en kry ek ook ’n goeie oudio-apparaatjie met ’n keuse van ses tale wat my inlig waarna ek moet kyk op belangrike plekke.

Op die bastions mik antieke kanonne vreedsaam na vyande wat nooit opgedaag het nie. Die voorloper van die mortier, so ’n vet buksie teen ’n vaste 45 grade gemonteer, wys na ’n oop veld, tans besoekersparkering.

In een vertrek, voorheen kasemat (bomskuiling) word die ontwikkeling van forte uitgebeeld en is dit meteens duidelik dat Kaapstad se ou vyfpuntfort volgens die Europese standaardplanne van die 1650’s gebou is.

Getrou aan Skotse weer reën dit, en al is dit vroegsomer, dis snotneuskoud. Lankal geleer in dié tipe weer is dit dop of sop. Eersgenoemde is uit, want al wat die soldate nodig het, is ’n vrolike Namibiër wat van ’n hoë borswering afvoeter. Dus plastiese poncho uit en soek die menasiekafee op totdat die reën ophou.

Die reuse ou fort bestaan uit enorme grondwerke en minder bekende woorde soos borswering, ravelyn en glacis word opgediep om sy uitleg te verduidelik. Eersgenoemde is die bekendste en is die hoë mure waarop die manne en kanonne staan en mik oor ’n oop skietveld. Ravelyn en glacis is militêre begrippe en het albei met grondwerke met spesiale gradiënte te doen. Dit is ook Afrikaans.

Daar is ’n fabelagtige takbokfiguur wat so kovert hier en daar in Skotland te voorskyn kom. Die geheimsinnige bok wei, van die heraldiese embleem van die inwonende regiment, tot by toeka se wilde blougesig-Skotte.

Die takbokkop op die regimentswapen is eers raaiselagtig, maar die slagspreuk daaronder “Cuidich ’n Rich” beteken gewoonweg “Help die Koning”. Dit verwys na ’n George en daar was ses van hulle.

Hier was perde op stal gehou om die swaar ou wapentuig in posisie te trek en is selfs ’n hondebegraafplaas. Wat sou hulle met die perdkarkasse gedoen het?

In die ontvangswinkeltjie is ’n boekie te koop Die storie van die Eerste Wêreld Oorlog; Vir kinders.

Forte se voorlopers is kastele. Ons woon ’n mark by op die gronde van Cawdor-kasteel in Nairnshire. Shakespeare se Macbeth word in ’n verdigsel aan die kasteel gekoppel en van toe af volg baie bespiegelinge oor bitter min.

Die kasteel het drie tematuine. Bewandel die tuine gratis en betaal om die kasteel se binnekant te sien.

Maar die takbok bly kriewel. My bloedhondneus bevestig my vae vermoede. Daar is meer aan die orde van die bok as “red die koning”. Die takbok is voorheen aanbid vir krag en vrugbaarheid. Sint Augustinus (354-430 n.C.) verdoem die volgelinge se heidense seremonies waar rondgepronk is in bokvelkostuums. Die dier was ’n kragtige koningssimbool en voor hy sy Skotse draai kom maak het, baljaar hy lankal reeds in die vroeëre Germaanse kultuur.

Toe verskyn die figuur heel skugter tydens die naweekmark op die kasteelgronde. Hier staan ’n Duitse ystersmid en moker moeisaam ’n gloeiende metaalstaaf tot dit krul. Saam wil hulle die verlede nuut maak.

Op ’n veilige afstand pluk ’n beeldhouer sy kettingsaag aan die gang en takel ’n stomp dat die spaanders spat. Vaardig skep hy uit geheue in die sagte hout. Om hom staan honde, uile, bere en spesiale versoeke. Takbok iemand?

’n Flou koor probeer in een tent om Leonard Cohen se “Hallelujah” te laat jubel. Hulle moes miskien eers langer gekuier het by die gemmerjenewer-stalletjie.

Buite die hek staan die heidense takbok nog in sy vel en wag. Die gedierte kon glo op magiese wyse tussen twee wêrelde beweeg. Nou sukkel hierdie een met toelating tot ’n naweekmark.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!