Fort Namutoni lyk spiekeries na poets

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg

Fort Namutoni lyk nou weer soos ’n nuwe sikspens ná personeel van Namibia Wildlife Resorts (NWR) met besems, moppe en emmers seepwater ingespan is om die vuil en vervalle fortgebou skoon te maak.

Mnr. Chris Theron, bekende radio-omroeper wat ook verlede jaar betrokke was met die opknapping van die Etosha Nasionale Park se paaie, het Saterdag sy dank teenoor die span van NWR op sy Facebook-blad uitgespreek.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het ook op hul Facebook-blad met foto’s van ’n skoner Fort Namutoni gespog.

Dit volg na ’n oudnatuurbewaarder, Phillip Steyn, onlangs skokfoto’s van ’n vuil en vervalle fort in die sosiale media geplaas het.

In reaksie het die ministerie ten sterkste NWR se “wanbestuur, nalatigheid en ongeërgde houding” veroordeel.

Die ministerie het opdrag aan die adjunkdirekteur van Etosha gegee om te verseker dat NWR die opknapping van die Namutoni-oord, asook die algemene omgewingsbestuur en netheid te alle tye moet onderhou.

NWR het in 'n mediaverklaring gesê die opgradering van Fort Namutoni wat in 2013 reeds toegemaak is, sal N$20 miljoen kos, wat die maatskappy tans glo nie het nie.

NWR se besturende direkteur, dr. Matthias Ngwangwama, het erken die vullis wat in die fort opgehoop het, kan nie verskoon word nie.

Hy het gesê die vervalle struktuur sou onmiddellik verwyder word en die fort sal nou gereeld skoongemaak word.

“Hoekom moet ons mense bedank as hulle die slag hulle werk doen waarvoor hulle betaal word? Sorry Chris Theron, ek weet ek is negatief, maar ek is gatvol. Al wanneer NWR iets doen is wanneer daar publieke druk op hulle geplaas word. En dan word die "resultate" aan die groot klok gehang,” skryf mnr. Leon Kotze op Theron se Facebook-muur.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer