Fort val op Otjimbingwe
Een van Namibië se oudste geboue en eerste nasionale monumente word tans onwettig afgebreek.
Ronelle Rademeyer – Die geskiedkundige kruittoring op Otjimbingwe wat in 1872 as wapenvesting opgerig is om die sendinggemeenskap teen aanvalle te beskerm, word die afgelope week deur plunderaars afgebreek.
“Ek voel baie hartseer. Elke hamerslag slaan op my hart,” het ’n ontstelde mnr. Hendrik Kumundu (81) gister telefonies gesê.
Hy het gereël dat een van die jonger inwoners met ‘n slimfoon foto’s neem en dit aan Republikein whatsapp.
“Julle moet asseblief help. Eers was daar net so drie mense wat die toring afgebreek het, maar nou is hulle baie. Hulle vat die planke en die stene vir hulle eie huise,” het hy gesê.
Kumundu sê hy woon sedert 1965 op Otjimbingwe en dit “pynig” hom om te sien hoe die “geskiedenis” vernietig word.
Die kruittoring is nie net een van die oudste geboude strukture in die land nie, maar is ook een van die eerste geskiedkundige geboue wat monumentstatus gekry het.
Dr. Andreas Vogt, kultuurhistorikus en skrywer van die boek National Monuments of Namibia, sê dit is op 3 Oktober 1950 tot ’n nasionale monument verklaar.
“Dit was een van die eerste proklamasies van die destydse Monumentekommissie. Dit getuig van hoe belangrik die bewaring van hierdie vesting uit die voor-koloniale tyd vir die kommissie was,” sê hy.
Die Nasionale Erfenisraad van Namibië was teen gister nog onbewus van die plundering die afgelope week op Otjimbingwe.
Mnr. Jurgen Kuhanga, die beampte vir erfenisgeboue by die raad, het geskok gesê die polisie sal versoek word om die skuldiges te vervolg.
“Die Wet op Nasionale Erfenis, Wet 27 van 2004, bepaal erfenisgeboue mag nie afgebreek word nie. Geen veranderinge mag sonder toestemming aangebring nie.”
Sulke geboue mag trouens nie eens geverf word sonder om by die raad die nodige toestemming te kry nie, sê hy.
“Ons moet ons erfenis bewaar sodat ons weet waar ons vandaan kom,” sê Kuhanga.
Vogt sê tussen 1860 en 1870 het die Oorlam-leier, Jan Jonker Afrikaner, Otjimbingwe gereeld aangeval. Op 22 Desember 1867 is só ’n aanval suksesvol deur die Rynse sendeling, dr. Carl Hugo Hahn, en die handelaar, ene Green, by Anawood afgeweer.
“Uit vrees vir weerwraak deur Afrikaner het die Herero-gemeenskap die gebied verlaat en die handjie vol Europese sendelinge en handelaars het alleen agtergebly.”
Hy sê die fort is gebou as stoorplek vir kruit, ammunisie en kosvoorrade. “Anders as byvoorbeeld die Alte Feste of die fort by Namutoni, is hierdie ‘n rare voorbeeld van ‘n fort wat deur ’n gemeenskap gebou is en nie deur die koloniale owerheid as militêre vestig opgerig is nie,” verduidelik Vogt.
Kumundu sê inwoners het ook die heining om die ou kliniek, wat later as pastorie ingerig is, afgebreek en die een symuur van die motorhuis vernietig.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie