Fosfaatbeleggers stel hul saak
Augetto Graig - Die regering se moratorium op ondersese fosfaatmynbou staan in die pad van ’n reusebelegging van N$25 miljard.
Hans Hückstedt, die projekbestuurder van LLNP se mariene fosfaat-mynbouprojek het onlangs tydens die Mynbou Ekspo in Windhoek die maatskappy se saak aan die land se mynbougemeenskap gestel. Hy verwag die projek sal die regering sowat N$50 miljoen per jaar in tantième in die sak bring. Dit sal N$3 miljard per jaar tot Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) bydra, direkte belastinginkomste van N$500 miljoen per jaar genereer en boonop voltydse werk vir 2 000 Namibiërs skep, sê Hückstedt.
Fosfaat word gebruik om ’n groot verskeidenheid produkte te vervaardig - van koeldrank tot sop, tandepasta, seep, vleisprodukte en skoonmaakmiddels. Die mineraal word ook in kosmetika, fotografie, sement, medisyne en tekstiele gebruik. Volgens Hückstedt lê die groot waarde van fosfaat egter in die vervaardiging van kunsmis.
Fosfaatreserwes en kunsmisproduksie is tans net in ’n handjie vol lande gekonsentreer: Marokko, China en Rusland. “Politieke onstabiliteit en uitvoerbeperkinge maak die voortgesette produksie ’n risiko. Namibië is stabiel en is in ’n posisie om dié risiko’s vir die streek en verder te neutraliseer,” sê hy.
Wêreldwyd groei die vraag na fosfaat teen 2% per jaar en die 0,3 miljoen ton wat LLNP elke jaar sal vervaardig, is maar 0,7% van dié vraag, sê hy.
Die projek sal die fosfaat myn en ten volle tot kunsmisprodukte verwerk. Die fosfaat in die ML159-lisensiegebied is meer as 2,2 miljard ton, wat die myn ’n leeftyd van meer as 500 jaar sal bied. Die projek sal sy eie varswater verskaf deur van seewater en kondensasie gebruik te maak. Dit behels ook ’n 74MW-kragstasie, waarvan 47MW aan die nasionale netwerk beskikbaar gestel sal word.
Voorts sal die konstruksiefase, wat 3 000 werkgeleenthede sal skep, ook die bou van ’n toegewyde haweterminaal by Angra-punt in Lüderitz insluit. Dit sal die eerste deel van Lüderitz se nuwe diepsee hawe-uitbreiding vorm.
Toetsfasiliteite is klaar op Lüderitz gebou waar data vir ’n volledige omgewingsimpakstudie versamel word. Die maatskappy het reeds ’n geraasopname, gasuitlating- en liggehalteopname gedoen, asook opnames vir vaste- en vloeibare-afvalbehandeling. Die maatskappy se nuwe tegnologie verwerk die fosfaat op so ’n manier dat gips ’n byproduk is, wat weer verkoop kan word. Hückstedt sê die hele proses is veilig en geen vlugtige oplosmiddels word gebruik nie.
Die impak op die seebodem is ook veel minder as wat baie verwag het, sê hy. Die mynvoetspoor sal net vier vierkante kilometer per jaar wees en net die boonste 0,3 meter word opgesuig na die skip toe voordat dit na die fabriek geneem word.
“Die gebied van moontlike lewensvatbare mynbou is minder as 0,5% van die Namibiese seebodem,” sê hy. Dit val ook oos van die tradisionele Namibiese visvangwater, sê hy.
“Ons is nou besig met die uitvoerbaarheidsproses. Sodra dit klaar is, sal ons na die N$25 miljard kapitaal kyk. Ons het klaar ’n vennoot wat saam met ons werk,” sê Hückstedt.
“Onthou: Geen ander ondersese fosfaat word elders in die wêreld gemyn nie. Dit is baanbrekerswerk, net soos die ondersese diamantmynbou wat in Namibië begin is. Ons het nou die tegniese vernuf en die vermoë om dit te doen. Ons kan nie wag dat ander ons voorspring om dan eers te volg nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie