Fosfaatmyn: Klaringsertifikaat ís geldig
Regter Ueitele het beslis die minister was verkeerd toe hy die toekenning van ’n omgewingsklaringsertifikaat ongeldig verklaar het.
Augetto Graig - Regter Shafimana Ueitele het Vrydag in die hoërhof in Windhoek beslis in die geskil rondom ’n omgewingsklaringsertifikaat vir ’n ondersese fosfaatmyn waarvoor die minister van die omgewing en toerisme in November 2016 ’n stokkie gesteek het.
Namibian Marine Phosphate (NMP) het teen die minister se besluit geappelleer en na aanleiding hiervan het regter Ueitele die minister se skrapping van die klaringsertifikaat omgekeer.
Die regter het besluit dit was onregverdig van die minister om die mynmaatskappy nie by die oorspronklike appèl teen die klaringsertifikaat te betrek nie.
Die regter sê in sy beslissing die minister kan steeds met ’n verhoor voortgaan, maar hy en sy mederespondent in die saak, mnr. Michael Gawaseb, van die Namibiese Verbruikerstrust, is beveel om die koste van die saak te dek.
Dit sluit in die koste wat die dienste van adv. Reinhard Tötemeyer en adv. Deon Obbes, wat NMP verteenwoordig het, beloop het.
Adv. Vincent Maleka het namens die minister verskyn, terwyl mnr. Uno Katjipuka-Sibolile namens Nixon Marcus-prokureurs vir Gawaseb verteenwoordig het.
Hoewel die omgewingskommissaris, mnr. Theofilus Nghitila, ook as respondent aangedui is, het hy nie aan die saak deelgeneem nie, het die regter gesê.
Volgens NMP se webwerf besit die maatskappy reeds geldige lisensies vir die omploeg van die seebodem wat vereis word vir die toestaan van 'n omgewingsklaringsertifikaat.
NMP, wat in 2010 gestig is, bestaan uit ’n vennootskap tussen die Australiese mynboumaatskappy UCL Resources, Mawarid Mining van Oman, en die plaaslike sakeman mnr. Knowledge Katti se Havana Investments.
NMP beoog om fosfaat sowat 120 km suidwes van Walvisbaai se kus af onder die see te myn en die erts dan op land te vervaardig.
Volgens NMP dek die Sandpiper-mariene fosfaatprojek 'n totale oppervlakte van ongeveer 7 000 vierkante kilometer op dieptes tussen 180 m en 300 m.
Dié mineraalafsetting is volgens NMP van die grootste ter wêreld en deur hierdie myn sal die land in staat gestel word om waardevolle buitelandse valuta te verdien, baie werksgeleenthede te skep en om van die beste tegnologie vir die volgende 20 jaar van die myn se bestaan in te span.
Die projek beoog om 1,8 miljard ton se fosfaatsand teen beleggingskapitaal van ’n beraamde N$5,2 miljard te lewer.
Volgens die projek se finansiële vooruitskouing sal die jaarlikse inkomste daaruit N$4,2 miljard beloop en die jaarlikse beraamde belasting en tantième N$728 miljoen aan die fiskus lewer.
Teenstand teen die projek is nie net van natuurliefhebbers en Namibiese verbruikers afkomstig nie, maar ook van die plaaslike visbedryf wat besoedeling en skade aan visbronne vrees.
Die kabinet het op 17 September 2013 besluit om 'n moratorium van 18 maande op die myn van mariene fosfaat in te stel. Hierdie moratorium het in 2015 verstryk, maar is daarna nooit amptelik opgehef nie.
Intussen het drie verenigings in die plaaslike visbedryf, die Confederation of Namibian Fishing Associations, die Namibian Hake Association en die Midwater Trawling Association of Namibia, die hoër hof ook in 2016 genader om die einste klaringsertifikaat ter syde te laat stel.
Die plaaslike vismaatskappy Omualu Fishing het by hulle aangesluit in die saak wat tans hangend is teen die omgewingskommissaris, die ministers van die omgewing en toerisme, visserye en mariene hulpbronne, asook van myne en energie, die prokureur-generaal en NMP.
Die saak gaan onder leiding van regter Harald Geier voort, wat ook finaal oor die geldigheid van NMP se mynboulisensie sal beslis.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie