Fotograwe se moenies vir trougaste
Al ooit gewonder wat gee fotograwe die stuipe op troues?
'n Troue is 'n spesiale dag wat maande vooruit beplan word. Familie en vriende kom van heinde en ver om die bruidspaar se groot dag mee te maak. Fotograwe moet vinnig werk om al die regte oomblikke op film te verewig, maar ongelukkig bemoeilik gaste soms hul taak ...
Hier's 'n paar dinge wat fotograwe wens gaste nie by troues doen nie:
1. Slimfone by die seremonie
Dis 'n groot oomblik: die bruid kom in die paadjie afgestap en die bruidegom sien haar die eerste keer. Vir 'n fotograaf is dit een van die belangrikste foto's wat geneem moet word, maar dan kom 'n gas se slimfoon of tablet in die pad.
"Dis 'n doring in my vlees wanneer gaste op hierdie oomblik die bruid met hul slimfoon probeer afneem. Ek moes al menige keer baie vinnig die persoon se aandag trek en hulle vra om net bietjie opsy te staan, sodat hulle nie die helfte van die foto in beslag neem nie," sê Yolandé Marx, 'n fotograaf van Kaapstad. Partykeer is Yolandé minder gelukkig en moet sy agterna 'n gas uit die foto probeer sny.
Adeline Wasserman van Foto Asylum meen gaste moet net die troue geniet. "Sit asseblief die selfone en tablette neer. Niks is slegter as 'n mens nie die gesigte op die foto's kan sien nie, maar net 'n klomp reghoeke van verskillende groottes. Paartjies wil hul gaste se gesigte sien met al die emosies wat gepaardgaan met die dag se gebeure," sê Adeline.
Jenni le Grange van Jenni Elizabeth Photography stem saam: gaste moet eerder die oomblik met hul oë inneem. "Daar gaan nog baie geleenthede op die troue wees waar julle foto's van die bruidspaar kan neem."
2. Groepsfoto's
Fotograwe werk op 'n vaste tydlyn en elemente soos die sonsondergang speel 'n groot rol, sê Jenni. "Gaste is onbewus hiervan en sal soms die fotograaf ignoreer as dit by groepsfoto's kom. Luister na die fotograaf se instruksies, hulle weet wat hulle doen en voer die bruidspaar se wense uit."
En as jy 'n familielid of selfs deel van die gevolg is, moet jy nie wegdwaal nie, sê Adeline. "Om die familiefoto's te neem voel partykeer soos om katte aan te jaag."
3. Los daai selfie
Ná die seremonie wil almal graag vir die bruidspaar gelukwens. Hulle word toegegooi onder drukkies en soene. Maar wag eerder met daai selfie saam met hulle, volgens Yolandé.
"Jy kan dalk die tydlyn vir die dag vertraag want as die ander gaste dit sien, kan hulle dit ook probeer. Neem eerder later met die drankies ná die seremonie of op die onthaal, wanneer dinge effens rustiger is, 'n foto."
Lindy Truter, 'n Kaapse fotograaf, sê gaste moet ook nie te lank met die bruidspaar gesels ná die seremonie nie.
"Dit vertraag die tydlyn en die res van die program moet dan aangepas word. Dit kan beteken die paartjie moet oortyd betaal vir 'n fotograaf se diens."
4. Moenie fotograaf speel nie
Respekteer die fotograaf se spasie, vra Jenni. "Probeer om nie reg langs die fotograaf te staan of oor hul skouer foto's te neem nie. Moenie saamgaan na die paartjie se fotosessie nie, tensy hulle dit versoek. En moenie instruksies van die kant af gee nie, veral as die fotograaf 'n intieme oomblik probeer vasvang."
Adeline beaam dit: "Moet asseblief nie saam met die fotograaf foto's neem nie. Dit is veral 'n probleem met die familiefoto's, want dan kyk almal in verskillende rigtings omdat daar te veel fotograwe is."
En moenie die fotograaf probeer voorsê nie. "Die meeste fotograwe het al 'n paar troues agter die rug en weet gewoonlik wat werk en wat nie. Dit raak vreeslik uitputtend as gaste die heeltyd vir jou probeer vertel waar jy moet foto's neem, hoe mense moet poseer, watter lig hulle dink beter is. Ons verwelkom insette, maar party gaste dink hulle is die kunshoof van die troue," sê Adeline.
5. Moenie by die fotograaf aanlê nie
"Dit is soms iets wat met vroulike fotograwe gebeur: gaste wat orig raak en die fotograwe begin teister. Dit gebeur gewoonlik later die aand, wanneer die drankies lekker gevloei het. Dit is net 'n situasie wat glad nie geduld moet word nie," sê Adeline.
En dit geld ook die assistent, sê Lindy.
6. Onthou julle is die gaste - geniet dit!
Natuurlik is die gaste ook belangrik, sê Jenni. "So vra gerus vir die fotograaf om 'n foto van jou saam met die bruidspaar of saam met jou vriende of familie te neem, kies net jou tyd mooi."
As gaste die troue net geniet, word die mooiste oomblikke vasgevang, sê Adeline. "Ons wil hê gaste moet hulle geniet en inleef in die troue. Want dit is wanneer jy die mooiste foto's met die mooiste emosies vasvang. Los die res vir ons." - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie