FOTO’S: Epiese tog laat ryers diep delf

Die tien ryers was die eerstes wat die 500 km van Lüderitz na Walvisbaai afgelê het.
Andrew Poolman
'n Bevoorregte klein groepie fietsryers het vroeër vandeesmaand 'n epiese sesdaagse toer met dikwiel-bergfietse vanaf Lüderitz via Solitaire tot op Walvisbaai voltooi.

Die idee vir die toer deur die duine is die verwesenliking van 'n persoonlike droom vir Leonard Martin van Walvisbaai, wat nog nege ryers op spesiale uitnodiging saam met hom geneem het.

Die ongerepte roete van 500 ongenaakbare kilometers deur die woestyn se wind en weer is met behulp van Paul Lombard van Travel Uncharted Tours aangepak.

Martin se mederyers was Robert Schaaf, Leon Smit, Tobie Gerber, Leslie Bosman, Martin Freyer, Jürgen Sander, Peter Pahl, Frans-Anthonie Gerber en Pierre Knoetze.

Martin is 'n kranige atleet in uithou­sporte, wat behalwe sy karate-prestasies as gewese wêreldtitelhouer ook al 'n paar keer bergfietsuitdagings soos die Nedbank Desert Dash (solo), Munga en Munga Grid voltooi het.

Lombard het met drie bakkies en een Jeep vir die ondersteuningsgroep gesorg.

Frans-Anthonie Gerber vertel: “Die helpers het elke dag kamp opgeslaan, terwyl die fietsryers en die Jeep begin ry. Die bakkies het gery tot waar middagete gehou word, kamp opgeslaan, stoele uitgesit en etes reggekry vir die ryers. Ná middagete het die ryers en die Jeep aanbeweeg. Die res het kamp opgeslaan en beweeg na waar die oornagkamp sou wees. Daar het hulle weer alles reggekry vir die ryers. Windskerms, warm stort, mobiele toilet, kombuis en braai-area.

“Ons as ryers het dan net ons fietse reggekry vir die volgende dag, tente opgeslaan, gestort en om die vuur gesit vir die dag se grappe, huil en volgende dag se beplanning. So het dit elke dag gegaan.”

“Die roete het behels om so ver as moontlik op die strand te bly, hoewel die getye dit nie altyd toegelaat het nie. Oor rotsagtige strande moes jy met fietsryskoene oor die rotse klim en jou fietsie dra. Party kere het die see tot teen die duine gegaan, en dan is jy met fiets teen die duin op, en dan word daar bo-op die duine gery.

“Die meeste van die tyd was ons baie gelukkig met die suidwestewind van agter, maar een dag met die noordewind van voor. Dan sukkel die spoed, en probeer jy wegkruip agter die Jeep waar die Jeep wel by ons is. Of, ons ry in pelotonformaat en elkeen kry 'n beurt om voor te werk.

“Een dag was ons in gevaar, met dehidrasie op hande. Ons kon nie radiokontak met die Jeep maak nie. Die strand was te laag, en die duine te hoog. Ons het op die strand gebly, en ná ses ure nog geen kontak met die Jeep nie. Water het opgeraak, met elke ryer op sy laaste slukkie.

“Ons ry toe boonop solidly in 'n rotswand vas en kon nie verder nie. Ons moes met fatbike op die rug en fiets­skoene die 200 meter hoë duin uitklim. Ons het nogal bekommerd begin raak. 'n Uur later het ons darem die voertuie gekry en kontak gemaak.

“Op elke dag het ons tussen ses en agt ure beweeg, waarvan vyf tot ses ure in die saal rytyd was; tussen 70 en 110 km per dag.



UNIEKE ONDERVINDING

“Ons het ongelooflike areas en natuurskoon gesien, en om te weet ons was die eerste mense daar. Ons het al die skeepswrakke gesien, ons het die diamantmyndorpies met huise bedek met sandduine deurgery, en al die geskiedkundige plekke gesien. Paul Lombard het ongelooflike kennis van die area en die geskiedenis en het op elke plek vir ons alles vertel wat gebeur het en wie betrokke was.”

Ryers was dit agterna eens dat die fisieke en emosionele uitdaging 'n besonder unieke ondervinding in hul lewens was, met die vriendskapsbande tussen die tiental en die bewondering vir die natuurskoon van die Namibiese kusstreek wat 'n blywende impak gemaak het.

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 25° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 22° | 30° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 18° | 30° Tsumeb: 20° | 24° Otjiwarongo: 17° | 27° Omaruru: 19° | 30° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 19° | 29° Henties Bay: 17° | 18° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 19° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 18° Mbabane: 19° | 21° Maseru: 17° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 18° | 20° Maputo: 24° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 19° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!