Foto's, marmer en 'n John Lennon-'painting'
Foto's, marmer en 'n John Lennon-'painting'

Foto's, marmer en 'n John Lennon-'painting'

Lloyd Zandberg
'n Pap wiel is eenvoudig soos 'n vlieg in 'n bierglas.

Al maak jy hoe, dis iets wat jou onmiddellike aandag vereis. Maar as daar iets erger as 'n pap wiel is, veel erger, is dit 'n pap wiel in die middel van die dag, in die middel van 'n grondpad, in die middel van Namibië. Ek vermoed 'n troue sonder 'n dansvloer is nie eens so erg nie.

Teen die einde van verlede jaar reis ek en my oupa, 'n geoloog, deur die noordweste van Namibië. Hy kap klippe en ek neem foto's.

Nou kyk, ons weet Namibië het van die mooiste natuurskoon ter wêreld, maar ek dink die kern van hierdie estetiese vreugde is in daai deel van my geboorteland.

Niemand het al ooit daar gery of getoer en teruggekom en gesê dit was nou aaklig, nee, siesa, ons wil nooit weer teruggaan nie.

Die noordweste van ons dorre land beskou ek as een van my gunstelingplekke op aarde. Ek was nou nog nie op Mars nie, maar ek glo vas ons sit met meer poskaartplekke as hulle. Die absolute afwesigheid van lewe in Kaokoland is wat die plek vir my so lieflik maak.

Ons toer skop in die hoofstad af, soos meeste toere maar doen. In Windhoek koop ons die laaste koop, laai die bakkie, maak seker die bande is reg, trek die seil vas en begin die heerlike reis deur sentrale Namibië tot by Noordweste. Weens die verskillende roetes om by dié deel van die land te kom, en my voorliefde vir fotografie en braai en braaivleis en wildkamp, ry ons die agterpad, die minder bekende een.

Windhoek, Otjiwarongo, Outjo, Kamanjab, oor daai berg wat van ver af soos 'n oorgewig olifant lyk, verby Palmwag tot in die Hoanibrivier se sitkamer. Dis waar ek wil foto's neem en waar my oupa marmer of graniet soek.

Iemand het my nou die dag gevra waar is die begin en einde van Damaraland en wanneer gee hy die leisels aan Kaokoland oor. Geografies is dit moeilik om uit te wys, maar my pa het een aand langs 'n braaivleisvuur vertel: “Net ná die klein dorpie Khowarib (ek sê nou maar dorpie, maar die hele dorpie sal op 'n ysskaatsbaan kan pas) loop die Hoanibrivier oor die pad.”

Ek ken daai riviertjie. Ons het as kinders modderpoedings en strandhuise daar vir die waterhonde gebou.

“Dit word beskou as die grens tussen Kaokoland en Damaraland,” sê my pa terwyl die skaapvet op sy ken soos 'n springbok langs 'n grensdraad pronk.

Ek wonder toe of dit dalk net sy verklaring is. En of dit werklik die grens is. Nietemin, Pa ry al vir 30 jaar toere. Ek glo hom.

Met ons reise wat veel langer as die normale tyd duur (ek neem foto's van alles en Oupa wil elke klip onder sy vergrootglas ontleed), bereik ons op dag een daai grensrivier waarvan my pa praat.

Ek gewaar hom al in die verte. Dis 13:30. Ons het nog net 30 km om na Sesfontien te ry as ons deur die rivier is. Ek en Oupa gesels dik stukke in die bakkie. Ek oor my maagrol en my liefde vir McDonald's, hy oor die soeke na waarheid, soos wat ná die dood met jou gebeur.

“Ek wonder waar wil hulle hê ek moet aanmeld ná ek gaan groet?” vra hy uit die hoek van sy mond. Die ander hoek knyp die rookding vas.

“Wie is hulle en waar gaan jy?”

“As ek verval, aanbeweeg,” sê hy.

Ek sê: “Moenie sulke goed vra nie. Dis aardig.”

“Which is fair,” antwoord hy.

Toe raak dit stil in die kar, ongemaklik. Soos wanneer iemand per ongeluk die p-bom uiter en niemand het dit verwag nie.

En toe hoor ons 'n klapgeluid. Dis so hard soos 'n 9 mil-skoot in 'n koshuisgang. Ons wag vir 'n soort gilgeluid. Niks, maar die kar ploeg in 'n oeroue kameeldoringboom in.

Ek skreeu: “As ons vandag verval, wie gaan jou John Lennon-painting in die kombuis erf?!”

Die kar gly op die pad, wat intussen soos seep geraak het. Ek hou die stuurwiel styf vas, dat dit voel of 'n elektriese kabel my skok – van my pinkie tot by my nek. 'n Wyle later kom ons tot stilstand. Die snoet van die bakkie druk teen die boom se jaarringe.

“Maak toe jou ore, Oupa,” sê ek met 'n bewestem. “Ek gaan lelik vloek.”

“Daar sit 'n vlieg op jou lip,” antwoord Oupa.

En toe vloek ek laat die vlieg hom boeglam skrik.

Oupa steek 'n skyf aan en blaas die rook teen die voorruit was. Ek maak my deur oop en klim uit. Die agterwiel het die gees gegee. Die slierte swart rubber lyk soos liquorice in 'n corner shop en in die pad lyk dit of iemand die fondasies vir 'n tweeslaapkamerwoonstel gegrou het.

Ek laai twee kampstoele, ons hout, die kampyskas, 'n opsaaltafel en twee glase af. Ek maak 'n pak chips oop. Ek bou vir ons 'n klein lodge. Iewers kry ek 'n handdoek in die hande, dit raak die tafeldoek en ons vertoef.

“Laat ek maar die wheel nuts begin losmaak.”

“Kaokoland is nie grappies nie,” bieg hy.

“Ons is nog nie eens daar nie,” antwoord ek. “Ons moet eers deur daai riviertjie ry waarvan Pa praat.”

“Die boom kom asof hy geroep is,” sê Oupa.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!