• Tuisblad
  • Menings
  • Fragmente uit die politieke denklandskap van JWF (Koos) Pretorius (Deel 1)
Fragmente uit die politieke denklandskap van JWF (Koos) Pretorius (Deel 1)
Fragmente uit die politieke denklandskap van JWF (Koos) Pretorius (Deel 1)

Fragmente uit die politieke denklandskap van JWF (Koos) Pretorius (Deel 1)

Dani Booysen
DEUR ANDRÉ DU PISANI

“Ideale is soos sterre. Jy kan hulle nie met jou vingers aanraak nie, maar hulle bly steeds rigting­gewend.” - Onbekend

“Dit is presies in die besef van sy grense dat filosofie bestaan.” - Immanuel Kant (1724-1804)



Alle politieke en filosofiese denke begin deur te wonder oor dinge – die groot, tydlose dinge: die natuur en die kringe in die menslike bestaan – só het Plato en Cicero ons geleer.

Konsepte en idees is die begin van politieke- en filosofiese denke. Die rede stel ons in staat om na dieper waarhede en patrone te soek.

Vir baie filosowe is die rede die vonk wat die ontdekkings moontlik maak. Ander filosowe en denkers het die beperkinge van die rede erken en dan in die geloof, die mistiek, die geskiedenis en met intuïsie verder gesoek op antwoorde en betekenis. Só 'n denker, intellektueel, politikus en mens was Oom Koos Pretorius.

Soos Immanuel Kant (1724-1804), John Locke (1632-1704) en ander filosowe, waaronder die rasionalis filosoof van Joodse afkoms, Benedict (Baruch) Spinoza (1632-77) wat uit die Katolieke Portugal gevlug het om in Amsterdam, Nederland met sy gesin te woon. Vir Spinoza, deur die Britse filosoof Betrand Russell beskryf as “die edelste en mees geliefde van die groot filosowe”, was daar geen twyfel oor die bestaan van 'n God nie.

Vir Kant, byvoorbeeld, was dit noodsaaklik en voldoende om die bestaan van 'n God te aanvaar, maar dit was nie nodig om Sy bestaan prakties uit te leef nie. Vir Spinoza, alhoewel God die oorsprong en oorsaak van alles was, moes sy “totaliteit” verstaan word as 'n sisteem, 'n onderdeel van die wiskunde en die fisika – 'n groot motoriese krag wat deur meganistiese taal en denke vasgevang kon word. Allermins, 'n persoonlike ervaring, realiteit, verlosser en Vader.

Omdat die geskrewe huldeblyk die lewensloop en vormende invloede in die lewe van Oom Koos Pretorius besonder goed en met sensitiwiteit en respek weergee, hou ek my by die lees van die skoenmaker deur 'n kort précis van sy politieke denke voor te hou. My samevatting van sy politieke denklandskap en handeling is niks meer as 'n beknopte ­weergawe van enkele van sy vertrekpunte en sentrale idees nie.



IDENTITEIT EN POLITIEK

Dit is 'n waarheid soos 'n koei dat alle politiek in 'n meerdere of mindere mate identiteit(e) as sluitstuk het.

Trouens, burgerskap en die staat skep identiteit vir bepaalde redes soos om beslag te gee aan politieke/nasionale eenheid, onafhanklikheid, soewereiniteit en om 'n herinneringskultuur te skep wat dikwels polities gedienstig is. Die konstruk van die “nasie” is byvoorbeeld, in die taal van Benedict Anderson, niks anders as 'n “denkbeeldige gemeenskap” (“imagined community”) nie.

In die politiek en in sosiale verband is identiteit altyd veelkantig en veelvlakkig. Só het Oom Koos dit verstaan, uitgeleef en verdedig.

Sy geloof, Christenskap, taal, kultuur, geskiedenis, politiek, lewens- en wêreldbeskouing het onder meer die verskillende lae van sy identiteitskonstruk uitgemaak. Identiteit was die manifestasie van dieper oortuigings, wat hy gewoon beginsels genoem het. Beginsels, anders as beleid, wat 'n pragmatiese raamwerk vir aksie daarstel, het universele geldigheid gehad en verantwoordelikheid aan die draers van sodanige identiteite geïmpliseer. Menslike agentskappe het die identiteit lewendig gehou en geaksualiseer op die kulturele, godsdienstige, intellektuele en politieke terrein.

Die grondstruktuur van sy identiteit en politiek is ontleen vanuit 'n Neo-Calvinistiese beskouiing omtrent “medeseggenskap” binne 'n Christelike staatsidee en normatiewe struktuur waarin die staat en die politiek – vir Oom Koos was die staat die kern van die politiek en politiek was onlosmaaklik daaraan gekoppel – ingebed was.

Die drieledige verbintenis tussen skepping, sondeval and verlossing in Jesus Christus, impliseer 'n tweedeling tussen Skepper en skepping, en 'n afhanklikheid met die wet as grens.

Die ooreenkoms tussen Neo-Calvinisme en Neo-Confusianisme, waaronder veral die etiek van beide vir die politiek en die persoonlike lewe, is interessant en word dikwels misgekyk. Op die metafisiese en etiese vlakke is daar raakpunte, maar dit lê buite die speelveld van hierdie bondige aanbieding. Só skoenmaker hou jou by jou lees!

Logies volg dit dan dat God die ­Almagtige is – die mens die onmagtige. Verder: God is “die oorsprong van alle gesag van mens oor die mede-menslike. Die gesag van die mens is dus afgeleide gesag – 'n begrensde bevoegdheid”.

Filosofies was dit die rede waarom ektreme, oordrewe individuele regte problematies was al was sodanige regte universeel geldig. Elke lewensvorm van die Christelike beskawingsorde funksioneer volgens die skeppingsbeginsel van “soewereiniteit in eie kring”.

Politiek was dus 'n ordeningsproses binne die raamwerk van 'n bepaalde normatiewe struktuur wat erkenning gee aan die begrippe eenheid en verskeidenheid (eenheid ten midde van verskeidenheid) waarbinne die owerheidsgesag 'n afgeleide gesag daarstel, afgelei van die absolute gesag van God.

Anders as in die geval van Thomas Hobbes (1588-1679), die filosoof van die absolute, met sy Leviathan (1651) 'n absolute monarg, het Oom Koos se owerheidsbegrip bestaan uit die gedagte van 'n beperkte owerheid wat onderhewig was aan die oppergesag van God. Nie slegs die soewereiniteit van mense nie.

* Die gedenklesing is op 31 Oktober 2018 by die Erfdeel-kultuursentrum in Windhoek gelewer as deel van 'n huldigingsgeleentheid aangebied deur die Selfhelp Trust. Opvolgdele verskyn in komende uitgawes.

Du Pisani skryf ook: Innige dank aan Polla Steyn, Ernst Stals en die lede van die Self-help Trust wat my toegang tot die Erfdeel-kultuursentrum en sy waardevolle bronne gegee het. Dit was vir my 'n besondere voorreg om in die Erfdeel-kultuursentrum navorsing te kon doen. Ek beveel graag dié adres aan vir ander navorsers wat oor bepaalde aspekte van die politiek in ons land wil navorsing doen.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!