Fragmente uit die politieke denklandskap van JWF (Koos) Pretorius (Deel 2): Selfbeskikking
• DEUR ANDRÉ DU PISANI
Die beginsel van “soewereiniteit in eie kring” was nie net 'n teologiese konstruk nie, maar ook 'n politieke idee wat organies beslag gekry het binne die begrippe “veelvolkigheid” en “veelrassigheid” deur middel van die selfbeskikkingsreg van veral minderheidsgroepe en volke.
In 'n regsmening, deur 'n senior advokaat van die voormalige Hooggeregshof van Suid-Afrika in 1984, in opdrag van die Uitvoerende Komitee van die Blankes, word selfbeskikkingsreg gesien as “die aanspraak van groepe (“peoples”) om hulle eie politieke toekoms na te strewe en ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkeling te verwesentlik”.
In dieselfde regsmening tref die skrywer 'n belangrike onderskeid tussen “eksterne” en “interne” selfbeskikking, en voeg hy by: “… Dit wil voorkom dat ras, kultuur, taal, godsdiens gesamentlik maar selde as enkele geïsoleerde faktore, sterk aanduiders vir groepsidentifikasie ten opsigte van selfbeskikking kan wees”.
Die konteks van die regsmening is belangrik: Dit is geskryf in opdrag van die Uitvoerende Komitee van die Blankes, en het tot die gevolgtrekking gekom dat die Blankes regverdiging vir “die handhawing van 'n selfbeskikkingsreg minstens op interne terrein het”. Dié regsmening het afgesluit met 'n interessante idee, sonder om in besonderhede in te gaan, naamlik: “Dat die Blanke tweedevlakowerheid oorweging daaraan skenk om minstens 'n federale karakter aan die selfbeskikkingsreg se handhawing in Suidwes-Afrika te bied (sou verder ondersoek moet word).”
Die regsmening deur advokaat W.H. Olivier het aanklank by Oom Koos gevind, veral omdat dit teruggegryp het na 'n veel ouer tradisie van politieke denke en argumentering: die idees van Johannes Althusius. Althusius se vorm van “Christelike realisme” is verder afgerond en uitgebou deur die akademiese geskrifte van prof. Leendert Roeleveld, oud-hoogleeraar in die regsgeleerdheid aan die voormalige Universiteit van Durban-Westville in Suid-Afrika.
Oom Koos het vanaf Julie 1981 met hom gekorrespondeer. Roeleveld se navorsing en akademiese geskrifte oor die “Selfbeskikkingsreg van die Volkere met betrekking to Suidwes-Afrika” wat in twee volumes saamgevat is, het in Julie 1983 verskyn. Vir Oom Koos was dit soos die musiek van die eerste druppels somerreën op 'n warm sinkdak!
Althusius se beklemtoning van die regsbeginsel van jus regni – letterlik die reg om gesag binne 'n afgebakende ruimte uit te oefen – en die waarde wat hy aan verkose plaaslike owerhede geheg het wat op die basis van konsensus en inspraak besluite kon neem, het gestrook met Oom Koos se begrip van die selfbeskikkingsreg van groepe en hul aanspraak op basiese regte en vryhede en groter outonomie binne die staat.
DIE GESKIEDENIS
Benewens die regsfilosofie van Althusius en Roeleveld, was daar 'n ander draad wat Oom Koos se politieke denke geanker het, en dit was sy begrip van die geskiedenis.
Soos die Duitse filosoof Oswald Spengler (1880-1936) aangevoer het, was die geskiedenis nie 'n liniêre proses nie, maar eerder die verhaal van selfgedrewe kulture wat aan kwasie-biologies patrone van groei en verval blootgestel was. Spengler se relativisme, in terme waarvan elke korpus van idees of waardes, kultureel bepaal is, het aanklank by Oom Koos gevind.
Gevolglik was die idee van universele menseregte met die individu as enigste verwysingspunt – wat op die ouer fondament van morele en negatiewe regte staan – soos byvoorbeeld in die liberale denke van John Locke (1632-1704) onaanvaarbaar en niks minder as 'n mite nie. Oom Koos het gewoon nie die universele, maar veral nie die dominante aanspraak op individuele regte erken as die enigste geldige benadering tot menseregte nie; en dit ten spyte van Locke se idees oor toleransie en die Verenigde Nasies se 1948 Universele Verklaring van Menseregte.
Kulturele en etniese groepe moes stemreg hê ten einde hulle verkose leiers te verkies en om hulle te verskans teen die oormag van die meerderheid. Die tirannie/dwingelandy van die meerderheid was 'n inherente onreg en magsvergryp, wat teen die beginsel van geregtigheid ingedruis het.
Hierin was Koos nie alleen nie, dink maar aan die idees van die liberale Britse filosoof John Stuart Mill (1806-1873) soos uiteengesit in sy invloedryke werk On Liberty (1859) waarin hy veral die vryheid van spraak en die pers op die voorgrond gestel het.
Alexis de Toqueville se invloedryke werk “Democracy in America” wat in 1911 verskyn het praat van die “tirannie van die meerderheid”. De Toqueville was die vader van die denkskool wat die belangrikheid van georganiseerde heterogeniteit beklemtoon het as balans teen die tirannie van die meerderheid en die gevolglike vervreemding van die individu.
INHERENTE SPANNING
Die Amerikaanse politieke filosoof, Martha Nussbaum wat in 1947 gebore is, herinner die leser aan Aristoteles se siening van politiek as die “kuns en praktyk van vrye assosiasie”. Vir Aristoteles en Nussbaum is die sin van die politiek om die voorwaardes te skep waarin elke lid van die gemeenskap sy/haar vrye keuses kon uitoefen ten einde te kan ontwikkel – 'n idee wat deur die Indiese ontwikkelingsekonoom Amarthya Sen as van kardinale belang beskou word ten einde die “goeie lewe” gegrond op menswaardigheid te bekom.
Oom Koos was deeglik bewus van die inherente spanning “tussen die selfbeskikkingsreg van die individu en die selfbeskikkingsreg van volke en minderhede”. Vir hom was die praktiese politieke uitdaging “om 'n balans tussen die twee te vind”.
Sy antwoord om dié teenstrydigheid op te hef was die beginsel van “vrye assosiasie” of soos hy dit ook genoem het, “vrywillige assosiasie”, 'n begrip wat in 1982 amptelik in 'n Kongresbesluit van die Nasionale Party van Suidwes-Afrika omskryf en onderskryf is. Die oorhoofse doel van “vrye of vrywillige assosiasie” was om “die verabsolutering van individuele regte” te voorkom en om politieke en kulturele ruimtes vir minderheidsgroepe te skep waarin hulle belange en kulturele waardes verskans kon word. Die mees geskikte politieke akkommodasie van etniese en kulturele verskeidenheid was 'n onderhandelde vorm van konsosiasiepolitiek of konfederalisme.
In reaksie op Oom Koos se verstaan van die verhouding tussen die regte van 'n meerderheid en dié van 'n minderheid, kan daar aangevoer word dat die beskerming van minderhede nie noodwendig teenstrydig met meerderheidsdemokrasie is nie, maar dat die twee begrippe aanvullend tot mekaar kan funksioneer. Wat wel belangrik is, is die vraag hoe die regte van minder- en meerderhede prakties deur die staat beskerm word? Verder, hoe minderheidsgroepe omskryf en verstaan moet word.
'n BROSE VERHOUDING
Dat die verband tussen demokrasie en individuele vryheid broser is as wat baie denkers besef, blyk die geval te wees. Soortgelyke idees is vroeër uitgespreek in byvoorbeeld die werke van T.H. Green se “Principles of Political Obligations” wat in 1886 die lig gesien het en in Bernard Bosanquet se “The Philosopical Theory of the State van 1899”.
Daar was dus 'n direkte verband tussen die minderheidstatus van die Blankes, veral van die Afrikaners, en die idee van “vrye of vywillige assosiasie” as 'n politieke modus vivendi om hulle aansprake – hulle jus regni of soewereiniteit - binne die staat en die uitwerk van hul toekoms binne Namibië te kon moontlike maak.
In een van sy vele omvangryke toesprake oor die onderwerp, “insake die einddoel” van Suidwes-Afrika, het Oom Koos geargumenteer dat selfbeskikking nie noodwendig onafhanklikheid van die gebied beteken het nie. Sy vertolking van die Mandaatooreenkoms van 1920 was dat die voormalige Suidwes-Afrika 'n integrale deel van Suid-Afrika was.
Hy het sy toespraak van November 1974 in die Wetgewende Vergadering afgesluit deur uit die 1967 S.W.A Survey wat deur Departement van Buitelandse Sake van die regering van Suid-Afrika in Maart van daardie jaar gepubliseer is, aan te haal om sy argument te staaf: “. . .Aimed at the emancipation and self-determination of all the population groups of South West Africa, of whatever racial or ethnic origin”.
* Die gedenklesing is op 31 Oktober 2018 by die Erfdeel-kultuursentrum in Windhoek gelewer. Die slotaflewering verskyn in môre se uitgawe.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie