• Tuisblad
  • Menings
  • Fragmente uit die politieke denklandskap van JWF (Koos) Pretorius (Deel 3): Pluralisme
Fragmente uit die politieke denklandskap van JWF (Koos) Pretorius (Deel 3): Pluralisme
Fragmente uit die politieke denklandskap van JWF (Koos) Pretorius (Deel 3): Pluralisme

Fragmente uit die politieke denklandskap van JWF (Koos) Pretorius (Deel 3): Pluralisme

Dani Booysen
• DEUR ANDRÉ DU PISANI

Teen die agtergrond van voorgenoemde opmerkings was dit duidelik dat Oom Koos 'n pluralis van 'n bepaalde tipe was.

Toegegee, sy denke was in bepaalde opsigte meer ortodoks as dié van ander meer oop/meer verdraagsame “verligte” (?) pluraliste soos die historikus Hermann Giliomee, die filosoof Johan Degenaar, en die skrywers Van Wyk Louw, André Brink en Karel Schoeman, om 'n paar name uit te sonder.

In die konteks van ons land, het ander Afrikaners, soos Bryan O'Linn, byvoorbeeld die idee van 'n geografiese federasie voorgestaan. Oom Koos het sterk klem gelê op die idees van etnisiteit as 'n kulturele sisteem, lotsgebondenheid en volksgevoel.

Die kulturele habitat van die Afrikaner was veral belangrik soos blyk uit sy eie betrokkenheid op politieke, literêre en in breër kultuurverband. Die vele boeke en dokumente in die Erfdeel-kultuursentrum getuig daarvan dat Oom Koos veel meer was as 'n verskraalde denker en partypolitikus. Hy het wyd en met aandag gelees – die vele kantaantekeninge getuig daarvan - letterkunde, poësie, politiek, geskiedenis, biografie, landbou, ideologie en die natuur - en oor veel nagedink en so neem ek aan, gebid.



VORME VAN VRYHEID

Oom Koos het die klem laat val op die filosoof Isia Berlin se invloedryke onderskeiding tussen “negatiewe” en “positiewe” vryheid. Vir Berlin was “negatiewe vryheid” die vryheid van eksterne inmenging. “Positiewe vryheid' vir Berlin was die vryheid om 'n spesifieke lewe te kan lei – om vryheid te kan geniet in terme van die volgende vrae: Wat is ek vry om te doen of te wees? Deur wie word ek regeer?

Toe Berlin eindelik negatiewe vryheid bo positiewe vryheid verkies het in sy bekende professorale intree­rede van 1958, het die filosoof Michael Sandel later 'n ander interpretasie aan die twee vryheids­domeine gegee.

Sandel het die gedagte van “positiewe vryheid” gesien as deel van “maatskappy-/samelewingskritici” se probleem met moderne (regsgebaseerde) liberalisme wat individuele regte bó die algemene of openbare belang verhef. Verder, politieke instellings en ordening sonder die algemene belang en doelstellings is moreel verdag.

Die definisie van die individu is slegs betekenisvol met verwysing na sy/haar rol as burger en deelnemer in 'n gemeenskaplike, gedeelde lewe met ander mense.

Oom Koos sou geargumenteer het, slegs binne groeps-, etniese en kulturele verband. Etniese lidmaatskap, byvoorbeeld, het 'n kulturele sisteem daargestel, wat belangriker was as die uitoefening van individuele regte en vryhede soos vervat in dié land se Grondwet. Eersgenoemde konsep, “negatiewe vryheid” was vervat binne sy idee van vrye en vrywillige assosiasie.

Dit verklaar deels sy verskille met Blanke opposisiepolitici en partye en sy beklemtoning dat aangeleent­hede soos onderwys en kultuur op tweede/etniese owerheidsvlak tuisgehoort het.

Die mees geskikte politieke model om veelvolkigheid te kon akkommodeer was Oom Koos se voorstel vir 'n konfederale politieke bestel – 'n etniese federasie wat binne die spelrëels van akkommodasie, die erkenning van die beginsels van minderheidsregte, eenheid binne verskeidenheid en vrye assosiasie moes werk.



DIE VERBROKKELING VAN ­MENSLIKE SOLIDARITEIT

Politiek en identiteit is op komplekse maniere met mekaar verbind.

Die “politiek van identiteit”, as ek dit só mag noem, kan beide positief en negatief werk. Positief in die sin dat dit byvoorbeeld deur die kiesstelsel minderhede kan bevoordeel, vertroue kan inboesem in die spelrëels van die politiek, bepaalde belange rekflekteer wat die demokrasie meer verteenwoordigend en in beginsel meer toerekenbaar kan maak – dink byvoorbeeld aan die verteenwoordiging van vroue en minderheidsgroepe in die politiek - en algemene openbare dienslewering verbeter.

Die “politiek van identiteit” kan ook bepaalde nadele inhou as dit oorspeel word ten koste van die groter geheel en sosiale geregtigheid. In die huidige tydsgewrig toon politici in sommige lande soms oordrewe sensitiwiteit ten opsigte van bepaalde etniese, religieuse en seksuele oriën­tasies. Self in politieke taalgebruik is daar tans 'n debat, byvoorbeeld in Duitsland oor “mikro-aggressies” – die onvergeeflike “sonde” om na bepaalde minderheidsgroepe in “negatiewe” (lees “politiek verkeerde/onaanvaarbare terme”) te verwys.

Hierdie vorm van post-moderne identiteitspolitiek is die gevolg van neo-liberale politiek en ekonomie met hul ingeboude ongelykhede. Die Amerikaanse filosoof, Nancy Fraser, beskou post-moderne identiteitspolitiek as die uitkoms van wat sy beskryf as “progressiewe neo-liberalisme” – 'n oordrewe beklemtoning van individuele regte – dié nuwe vorm van identiteitspolitiek is aldus haar teorie die kulturele agenda van “progressiewe neo-liberalisme”.

Fraser se teorie word deur minstens twee argumente ondersteun: Eerstens, die oorbeklemtoning van individuele identiteit en vryheid gee aanleiding tot grootskaalse menslike vervreemding en die fragmentering van menslike solidariteit. Diegene wat ekslusief aan hul eie identiteit dink, raak betrokke in 'n kompetisie van “slagoffers” (“victimhood”) en poog om mekaar te troef deur die post-modernistiese begrip van “inter-seksionaliteit” (“intersectiona­lity”), wat hulle verder vervreem van ander landsburgers.

Die politieke taalgebruik van “witheid” (“whiteness”) byvoorbeeld, wat in Suid-Afrika en hier plaaslik gehoor word, druis in teen die idee van 'n beskaafde middelklas en die beginsels van die oppergesag van die reg (“Rule of Law”) en gelykheid voor die reg. Dit is 'n ander vorm van post-moderne identiteitspolitiek.



MODERNE VOORBEELDE

Die tweede rede waarom identiteitspolitiek sterk na vore kom, is die feit dat die sosiale en ekonomiese stand van die middelklas in baie lande soos die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Italië en die VSA kennelik verswak het. Dit is die agtergrond tot Brexit – die ontkoppeling van die Verenigde Koninkryk uit die Europese Unie (EU) – en die politiek van Donald Trump in die VSA met sy credo “Amerika Eerste”.

Vroëere emansiperende intellektuele denkstrome soos die neo-Marxisme, feminisme en anti-rassisme het almal toenemend in die kulturele sfeer inbeweeg, wat hulle vloeibaarder gemaak het met navorsingsagendas soos dekonstruksie, geslagstudies (“Gender Studies”) en post-koloniale studies. Die gevolg hiervan was dat hierdie denkstrome al abstrakter geword het, soos hulle teoretiese gesofistikeerdheid toegeneem het en intellektuele elite die septer geswaai het. Vir die werkersklas en die gewone burgery is daar min waarde in hierdie teoretiese vooruitgang.

Die geskiedenis en politiek is dialektiese prosesse. Die pendulum swaai, soms op verassende wyse.

Pluralisme is nie dood nie. Die erkenning van identiteit, verskeidenheid en vryheid leef voort, maar daarvoor soos die Amerikaanse filosoof Jean Bethke Elshtain skryf, het ons die politieke vryheid nodig ten einde, oor tyd, groter gelykheid en regverdigheid vir almal te kan realisee.

Oom Koos se denke en werk was nie verniet nie. Sy beginselvastheid bly 'n voorbeeld vir baie mense in hierdie onsekere tye. Hy het 'n diep spoor getrap in die harte van vele, hier in ons mooi land met sy mooi mense.

* Die gedenklesing is op 31 Oktober 2018 by die Erfdeel-kultuursentrum in Windhoek gelewer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!