Frankryk erken nie aandeel in bloedbad
Frankryk erken nie aandeel in bloedbad

Frankryk erken nie aandeel in bloedbad

Volgens 'n verslag was senior Franse amptenare bewus van die moordplanne teen die Tutsi's.
Waldimar Pelser - Frankryk weier steeds om dokumente vry te stel wat bewyse bevat dat sy amptenare betrokke was by die volksmoord in Rwanda waarin meer as 800 000 mense, meestal Tutsi’s, vermoor is.

’n Amerikaanse regsfirma het Maandag ’n omvattende verslag bekend gemaak oor die rol wat voor en gedurende 1994 gespeel is deur Frankryk, wat ’n vurige ondersteuner van die moorddadige destydse Rwandese leiers was.

In die verslag deur die Washingtonse firma Cunningham Levy Muse, wat opgestel is in opdrag van die regering in Kigali, is bevind dat senior Franse amptenare nie net bewus was van die moordplanne teen die Tutsi’s nie, maar ook aktiewe bystand verleen het aan die sogenaamde génocidaires, wat Rwanda met kapmesse in Afrika se grootste bloedbad omskep het. Die verslag is gegrond op openbare dokumente en ooggetuieverslae.

Franse amptenare het lank voor 1994 al meegedoen aan die “ideologie van volksmoord” deur nie na vyande van die destydse Rwandese regering te verwys as die RPF nie – die Rwandese Patriotiese Front wat Rwanda later ingeval en die volksmoord beëindig het – maar as “die Tutsi’s”.

Dit het haatboodskappe op staatsmedia teen dié etniese groep, wat selfs voor die volksmoord ’n minderheid in Rwanda was, geloofwaardigheid help gee, volgens die verslag.

Al het die Franse regering geweet van massamoorde op Tutsi’s in die vroeë 1990’s deur die destydse regering van Juvénal Habyarimana, wie se dood in ’n vliegramp op 6 April 1994 die sneller vir die volksmoord was, het Frankryk aangehou om die destydse Hutu-regering van wapens te voorsien.

Genl. Jean Varret, wat hoof was van Frankryk se militêre bystand­sending in Rwanda tussen Oktober 1990 en April 1993, het in 1998 al teenoor ’n Franse parlementêre ondersoekspan erken dat die hoof van die Rwandese weermag in April 1993 reeds vir hom oor die Tutsi’s gesê het: “Daar is min van hulle. Ons sal hulle likwideer.” Tog het Franse hulp voortgeduur.

Nadat Habyarimana se vliegtuig neergeskiet is, het Franse amptenare “génocidaires toegelaat om op 8 April 1994 in die Franse ambassade in Kigali te vergader”, skryf die Amerikaners. Die tussentydse regering wat daar op die been gebring is, het opdragte vir die volksmoord gegee.

Franse inmenging, waarvan die doelwit oënskynlik was om Franse burgers te help vlug, het terselfdertyd “ekstremistiese leiers” landuit gehelp.

Baie van hulle is in Frankryk en nog nie vervolg nie.

Al het Franse media in April 1994 oor ’n “volksmoord” teen die Tutsi’s berig, sê Cunningham Levy Muse in hul bevindings dat die Franse regering volgehou het om die konflik liewer as ’n “burgeroorlog” te tipeer.

In verdere militêre operasies, vernaam Opération Turquoise (“operasie turkoois”), het Frank­ryk die opmars van die Tutsi RPF help keer en die Hutu- tussentydse regering in stand help hou al was die volksmoord aan die gang.

’n Franse ondersoekende joernalis het onlangs berig dat Franse soldate in ’n handgeskrewe nota opdrag gegee is: “Herbewapen die Hutu’s.”

Frankryk ontken alle aandadigheid en het die afgelope week eerder voortgegaan om Rwanda se minister van verdediging, genl. James Kabarebe, te dagvaar om Donderdag en Vrydag voor ’n Franse landdros te verskyn oor bewerings dat dit hy en die RPF was wat op 6 April 1994 Habyarimana se vliegtuig neergeskiet het, en só die volksmoord begin het.

Die bewerings is gemaak deur James Munyandinda, ’n voormalige Rwandese soldaat. In ’n brief deur die Rwandese minister se prokureurs, wat in Rapport se besit is, word Munyandinda as ’n “oneerlike en onbetroubare getuie” beskryf.

“Geen Europese prokureur sal die Franse minister van verdediging aanraai om voor ’n Rwandese hof te verskyn om gekonfronteer te word deur ’n onbetroubare getuie nie,” skryf Kabarebe se regspan.

Louise Mushikiwabo, Rwanda se minister van buitelandse sake, het gesê die Muse-verslag is aan die Franse regering gestuur, wat daarop moet “antwoord”. “Dit is ook ’n geleentheid om beter saam te werk met Rwanda in die soeke na waarheid, geregtigheid en verantwoordbaarheid betreffende die volksmoord.”

Die Franse ministerie van buitelandse sake het gesê: “Sonder om verras te wees deur die inhoud van ’n verslag wat opgestel is in opdrag van die Rwandese regering deur ’n private Amerikaanse regsfirma, kan ons bloot wys op ’n aantal onjuisthede.

“Frankryk is ten volle verbind tot die vervolging van diegene wat betrokke was by die Rwandese volksmoord. Sover is 30 sake hieroor geopen in Franse howe. Agt is afgesluit, waaronder drie skuldigbevindings en drie wat verwys is na die Internasionale Straftribunaal vir Rwanda. Twee-en-twintig sake duur nog voort, en nege dagvaardings is uitgereik.”

Die Franse regering het nie op enige van die spesifieke aantygings oor Franse aandadigheid voor en gedurende April 1994 geantwoord nie. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!