Frankryk kry sy jongste president nóg

Die gematigde jong ­Emmanuel Macron het Sondag 'n klinkende oorwinning in Frankryk se presidents­verkiesing behaal.
NAMPA
­Met die triomfantlike klanke van die Europese volkslied, Beethoven se “Ode aan die Vreugde”, in die lug het die aange­wese Franse president, Emmanuel Macron, Sondagaand na die verhoog by die Louvre in Parys gestap vir sy oorwinningstoespraak.

Die skare het “Macron, Macron” gedreunsing terwyl Macron na die verhoog gestap het. Sy gesig was ernstig. Toe hy die trappe bestyg, het die gehoor begin jubel en Macron het uiteindelik geglimlag en vir die skare gewaai. Toe hy albei hande omhoog hou om sy toespraak te begin lewer, het die skare steeds gedreunsing.

“Dankie, my vriende,” het hy sy toespraak begin. “Dankie dat julle vanaand hier is. Dankie. Dankie dat julle maande lank met waagmoed geveg het. Wat ons soveel maande gedoen het . . . daar is geen presedent nie. Almal het gesê dit is onmoontlik. Maar hulle ken Frankryk nie. Dankie vir jul ondersteuning en toewyding. Dankie vir die risiko's wat julle geloop het.”

Hy het sy toespraak afgesluit met “lank lewe Frankryk”. Etlike sekondes daarna het sy vrou, Brigitte, haar by Macron op die verhoog aangesluit. Toe het ander familielede en sy kernspan hulle ook op die verhoog by Macron aangesluit. Daarna is die volkslied, “La Marseillaise”, gesing.

Duisende Macron-ondersteuners het van vroegaand af op die plein by die Louvre in Parys saamgetrek om hul kandidaat se oorwinnings­toespraak te hoor.

Die 39-jarige Macron het Sondag­aand Frankryk se jongste president nog geword.

Bernard Cazeneuve, Franse premier, het omstreeks 20:20 Sondag bevestig ­Macron het die verkiesing gewen.

Marine Le Pen, Macron se teenstander, het Macron omstreeks 20:15 gebel om hom geluk te wens.

Dit was nadat drie vooruitskattings, wat uitgereik is net minute nadat stembusse om 20:00 gesluit het, getoon het ­Macron het 65% van die stemme verower teenoor Le Pen se 35%.

Tot voor Sondag was Louis ­Napoleon Bonaparte, broerskind van Napoleon, die jongste president.

Hy was net 40 jaar oud toe hy president geword het.

Ná die Franse Rewolusie in 1848 en die proklamasie van Frankryk se Tweede Republiek het hy 'n staatsgreep uitgevoer en onder die naam Napoleon III regeer.

Die jong Macron het vinnig opgang gemaak in die Franse politiek.

Hy was onder meer minister van ekonomiese sake in die kabinet van die uittredende pres. François Hollande.

Net soos pres. Donald Trump van Amerika het hy tot voor Sondag nog nooit voorheen enige verkose politieke amp beklee nie.

Net 'n jaar gelede het hy 'n onafhanklike politieke beweging, En Marche!, begin.

Een van die nuwe president se eerste uitdagings sal wees om in die algemene verkiesing volgende maand 'n meerderheid in die parlement te kry.

Die onafhanklike, ­sentristiese Macron is sterk ten gunste van Euro­pese eenheid.

Le Pen (48) was ten gunste van Frankryk se uittrede uit die Europese Unie (EU) en nouer samewerking met Rusland.

Volgens die Franse departement van binnelandse sake het net meer as 28% van die stemgeregtigdes teen middagetenstyd gestem.

Dit dui op die laagste stempersentasie sedert 2002 gemeet op dieselfde tyd van die dag.

Ontleders sê die meeste wegblyers is linksgesindes wat teleurgesteld is omdat hul kandidate in die eerste ronde uitgestem is.

In die presidentsverkiesings van 2002, 2007 en 2012 was die persentasie bo 80%.

Die steun vir Le Pen en haar party het verdubbel sedert 2002, die vorige keer dat die party die laaste ronde van die verkiesing gehaal het.

Die groei word beskou as 'n aanduiding van die ontevredenheid onder die burgery met die Franse hoofstroompolitiek.

Talle kiesers het laat blyk dat hulle nie noodwendig 'n kandidaat steun nie, maar dat hulle tot elke prys wou help verseker dat Le Pen uitgeskakel word.

Die prys van aandele op die Franse beurs het dié eerste ronde van die presidentsverkiesing tot die hoogste vlak in nege jaar styg in afwagting op Macron se oorwinning.

“Ons het ons aandeleblootstelling vergroot en 'n paar Franse aandele ingesluit toe dit begin lyk of die gevaar van 'n Le Pen-oorwinning oorwaai,” het Francois Savary, beleggingshoof van die beleggingsonderneming Prime Partners, in Genève gesê.

* Met sy oorwinning het Macron nie al die Franse geskiedenisboeke oor openbare ampte herskryf nie. Koning Louis XIV was net vier jaar oud toe hy die septer in 1643 begin swaai het.– Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!