Franse berg tap driekampers se kragte
Die Europeërs se krag teen die opdraandes uit, en vernuf teen die steil afdraandes was 'n openbaring.
Andrew Poolman
Die onlangse 70.3 triathlon-wêreldkampioenskap in Nice, Frankryk, was opnuut 'n ongelooflike ervaring vir die drie Namibiërs wat daaraan deelgeneem het.
Sebastian Pahl het in sy uiters kompeterende ouderdomsgroep (25 tot 29 jaar) die 147ste plek uit 273 deelnemers ingeneem. In die algehele mansresies was hy 708ste uit 3261 driekampatlete.
Pahl, van Swakopmund, se eindtyd vir die 1.9 km swem, 90 km fietsry en 21.1 km hardloop was vier ure 53 minute 01 sekonde.
Adelé de la Rey het ook 'n vegtende vertoning gelewer vir 'n 153ste posisie uit 282 deelnemers in die ouderdomsklas 40-44 jaar. In die algehele vroueresies was sy 934ste uit 1778 deelnemers, met haar eindtyd 6:07:30.
Gerrida Uys (ouderdomsklas 35-39 jaar) het in ses ure 06 minute 23 sekondes klaargemaak. Dit het haar 166ste uit 252 in haar kategorie en algeheel 907de uit 1778 vroue geplaas.
De la Rey vertel: “Vir my was die hele ervaring veel anders as die een laas jaar in Port Elizabeth (toe sy 44ste in haar ouderdomsklas was, in 5:22:57).
“Hierdie kompetisie was absoluut gedomineer deur Europeërs. Hulle ken van klim en afdraande.
“Die weer in Nice was baie warm. Aan hitte is ons gewoond, maar daar is lugvogtigheid ook by, wat dit so bietjie anders maak.
“Die swem was in die helder blou see. As swemmers kon ons 'n lyfpak gebruik, maar die mans se swemskof die volgende dag was daarsonder, toe die water se temperatuur hoër was.
“Die totale klimhoogte van die fietsskof was omtrent 1260 meter oor die eerste helfte van 40 km. Hierna het die lang afdraandes met talle draaie, haarnaalddraaie en dorpies vir die volgende 26 km gevolg.
KRONKELDRAAIE
“Hierdie afdraandes het vir my amper soos Us-pas af gevoel – behalwe dat dit vir 26 km aanhou. Hier het die mense wat kon, behoorlik by my verby gevlieg!
“Een van die klimme was 9.2 km lank. Ná elke kilometer is daar 'n bord wat vir jou die grade en die afstande van die klim gee.
“Die klimgedeelte van die roete was vir my lekker en ek het dit lekker gery. Ek is nie iemand wat afdraandes jaag nie, so weet ek het baie tyd daar verloor.
“Die laaste 15 km op die fiets was redelik plat en die roete was baie aanskoulik.
“Die hardloopskof was plat, maar die hitte van sowat 30 grade het my so bietjie begin vang. Ek het maar net vanaf 11 km by elke waterpunt gestop en ys gekry. Ek dink my hardloopskof was so 5 minute stadiger as wat ek beplan het.”
Sebastian Pahl, wat 'n paar plekke verbeter het op sy 162ste posisie in sy ouderdomsklas by verlede jaar se 70.3 wêreldkampioenskap in Port Elizabeth, sê: “Nie alle resiese is dieselfde nie en hierdie was beslis die hardste triathlon wat ek nóg aangepak het.
“Die fietsskof was die hoogtepunt. Ons moes teen 'n baie steil berg uitry en dit is bitter moeilik om jou energievlak te bestuur as jy bykans elke greintjie moet inspan om die fiets aan die beweeg te hou, eerder as om af te klim en te stoot.
“Ek het aanhou probeer oorskakel na 'n laer rat – net om oor en oor agter te kom dat ek geen laer rat meer oor het nie.
“Vir die afdraand wat daarna gevolg het, het ek gelukkig baie oefening gehad toe ek in Freiburg, Duitsland gekuier het, waar my oom woon. Dus het ek dit nogal geniet op die tegniese en supervinnige afdraand.
“Ek is absoluut mal oor die uitdaging wat uithousport inhou en ek beskou myself as baie bevoorreg om in sulke resiese te kan deel.
Gerrida Uys, wat in die Kaap woon, sê: “Die fietsroete was baie tegnies en uitdagend. Dit op sigself het die hardloopskof moeilik gemaak as wat die blote plat oppervlak wys.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie