Franse kenners sal help met waterbronbestuur
Franse kenners sal help met waterbronbestuur

Franse kenners sal help met waterbronbestuur

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - ’n Samewerkings­ooreenkoms vir wetenskaplike en tegniese meewerking is Donderdag by die Franse ambassade in Windhoek deur die ministerie van water, landbou en bosbou en die Franse Geologiese Opname (BRGM) onderteken.
Hiervolgens sal die twee lande saamwerk met die verkenning en bestuur van ondergrondse waterbronne in Namibië.
Mnr. Abraham Nehemia, adjunk- permanente sekretaris van landbou, water en bosbou, het gesê spesifieke aktiwiteite wat in die ooreenkoms geïdentifiseer word, sluit in opnames van ondergrondse water in Namibië, uitruilbesoeke van weten­skaplikes en spesialiste, die deel van wetenskaplike en tegniese kennis en die opleiding van individuele wetenskaplikes deur samewerkingsprojekte tussen die twee lande.
“Die lande sal ook gesamentlike konferensies of seminare hou en meer gebiede vir samewerking kan later deur die betrokke partye geïdentifiseer word,” het hy gesê.
Volgens hom sal die be­skikbaarheid van water ’n uitdaging vir Namibië bly, met veral die kus wat bykans geen ondergrondse waterbronne het nie. Hy sê die Omdel- en Kuiseb-akwifers word tans waarskynlik ‘gemyn’, maar dat die samewerking met BRGM die regering sal help om die waterbronne beter te monitor.
Volgens hul ambassadeur in Windhoek, me. Jacqueline Bassa-Mazzoni, het Franse maat­skappye soos Saint-Gobain ook reeds ’n voorstel oor hoe Namibië watersekerheid op lang-, medium- en korttermyn kan bewerkstellig deur sekere pyplyne onmiddellik op te knap en tot 20% water te bespaar.
“Een van die mees belowende maniere om kommer oor water in Namibië permanent uit die weg te ruim, is om die probleem volgens die sogenaamde ‘gemengde water-beginsel’ te benader,” het sy gesê.
“Mnr. Jean-Philippe Rançon, direkteur van BRGM, kan Namibië op medium termyn help om uit die greep van water­skaarste te ontsnap. BRGM geniet interna­sionale erkenning as deskundige van ondergrondse waterkwessies en het al voorheen in Namibië gewerk. Hy het spesifiek ervaring in die verkenning en bestuur van water,” het Bassa-Mazzoni gesê.
Sy het gesê die projek sal binnekort begin wanneer ’n tegniese kenner van BRGM Namibië vir die uitvoer van ’n haalbaarheidstudie besoek. Die besoek sal deur die Tegniese Fondsfasiliteit moontlik gemaak word, wat deur die EU-afvaardiging gesteun word en deur die Nasionale Beplanningskommissie bestuur word.
“BRGM kán Namibië help om sy waterbronne te bestuur – veral ondergrondse water. Ons sleutelfokus is waterbronbestuur, die bestudering van hidrostelselfunksies en die beskerming daarvan, die identifisering van onontginde waterbronne asook hoe klimaatsverandering waterbronne beïnvloed,” het Rançon gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!