Franse kunstenaar in aksie
Die Karibib-marmer staan gereed op die terras van die Franko-Namibiese Kultuursentrum en die beitels is uitgehaal om 'n reusagtige renoster ten bate van renosterbewaring te skep.
Francoise Steynberg
Die flambojante Franse kunstenaar, Gé Pellini, het gister sy stryd teen renosterstropery in Namibië begin deur aan sy renosterbeeld te begin beitel.
Dié wêreldbekende kunstenaar kan vir 'n maand in aksie by die Franko-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) gesien word waar hy gratis 'n lewensgrootte renoster uit 'n marmerblok van nege ton ten bate van renosterbewaring gaan skep.
“Namibië het die afgelope paar jare hoë vlakke van renoster- en olifantstropery beleef en die stygende vlak van stropery is van groot kommer vir Namibië en die ministerie. Jul teenwoordigheid hier wys jul toewyding om die ministerie te help om hierdie euwel uit te roei,” het mnr. Colgar Sikopo, direkteur van parke en wildlewe in die ministerie van die omgewing en toerisme, gesê.
Hy het die geleentheid amptelik namens die minister, mnr. Pohamba Shifeta, geopen.
“Dit bring hernude hoop om te sien dat ons pogings teen stropery deur die samelewing ondersteun word. Namibiërs het genoeg van mense gehad wat ons hulpbronne plunder.”
Hy het bygevoeg: “As meer sektore met die ministerie in die stryd teen stropery hande vat, sal die oorlog uiteindelik gewen word. Die stryd teen renosterstropery moet op alle fronte deur alle Namibiërs beveg word.”
Mej. Namibië, Suné January, wat haar ook vir renosterbewaring beywer, was ook teenwoordig en die sanger Elemotho het gaste met sy spesiale liedjie vir renosterbewaring, “Stand together”, vermaak.
“Kuns gaan bydra tot die grootsheid van die renoster. Hou die renoster veilig vir nou én vir die toekoms,” het mnr. Patrick Portes-Gagnol, direkteur van die FNCC en gesant van samewerking en kulturele sake van die Franse ambassade in Namibië, gesê.
Hy het die publiek uitgenooi om te kyk hoe die Franse kunstenaar sy beitels gebruik.
Portes-Gagnol gaan ook 'n mentor wees vir die Namibiese kunstenaar, Kambezunda Ngavee, 'n derdejaar- kunsstudent aan die Kollege vir die Kunste (Cota), wat ook 'n renosterbeeld uit 'n kleiner marmerblok gaan skep.
“Afgesien van die beeldhouwerk uit Karibib se beste marmer, gaan dit 'n reusehoring van drie meter uit aluminium hê. Dit moet ons herinner aan die gierigheid en onkundigheid van renosterstropers.”
Pellini het gesê: “Die reusehoring is 'n simbool daarvan dat stropery gestop moet word en moet van ver af sigbaar wees - van Europa, Asië en Afrika af. Koop liewer hierdie horing.”
Me. Danine van der Westhuyzen, president van die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha), sê Pellini is 'n perfeksionis en is passievol.
“Marmer en renosters is twee van Namibië se bates. Die beeldhouwerk is 'n daad van hoop en wys hoe Namibiërs is,” het Van der Westhuyzen gesê.
Op 31 Augustus sal die renoster by 'n spoggerige galadinee by die Windhoek Buitekluboord saam met ander groot pryse opgeveil word en die opbrengs sal vir teenstropery aangewend word.
Napha se galadinee is ten bate van hul Hunters United Against Poaching-trust.
Vir navrae oor die galadinee, kontak Mona of Maria by 081 162 0977 of 081 474 3960 of per e-pos by [email protected].
Pellini en sy vrou, Arielle, het verlede week ware Namibiese gasvryheid geniet en vir drie dae in die Etosha Nasionale Park by Namibia Wildlife Resorts (NWR) se Halali-oord gekuier.
Hulle was ook op 'n renosterspoorsny-safari saam met die Red die Renosterfonds (SRT) by die Palmwag-toerismekonsessie.
Mnr. Jürgen Rumpf, 'n lid van Napha wat hulle vergesel het, het gesê hulle geniet Namibië terdeë.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie