Fratsongeluk draai in hof
Drie partye is in 'n regsgeskil gewikkel oor skade in 'n ongeluk waarby 'n ligte vragmotor, 'n swaar vragdraer en 'n trein byna twee jaar gelede betrokke was.
Marc Springer – 'n Rare ongeluk op 11 Junie 2019 het in die hoërhof tot 'n dubbele eis teen 'n bekende verspreider van kantoormeubels gelei.
Bulk Mining Explosives Namibia (BME) en TransNamib eis beide hul pond van Cecil Nurse Namibia.
BME vra net meer as N$2 miljoen en die nasionale karweier eis ietwat meer as N$1 miljoen.
In die spervuur is die optrede agter die stuurwiel deur die bestuurder van 'n afleweringswa van Cecil Nurse, mnr. Gideon Iileka.
Die ligte vragmotor wat hy daardie dag bestuur het, het BME se vragdraer getref, wat daarop oor 'n brug gestort het en kort daarna deur 'n trein getref is. Iileka is ook persoonlik as respondent gelys.
Die eisers voer aan Cecil Nurse is aanspreeklik vir hul skade omdat Iileka na bewering nie waaksaam was nie, nie betyds of glad nie rem getrap het nie en moontlik vinniger as die spoedbeperking gery het. Die geld wat hulle eis, beloop die koste van die ongeluk en opruimwerk daarna.
Volgens hofstukke het die voertuig wat Iileka bestuur het BME se vragmotor sydelings getref en het mnr. Petta Beukes, die lorrie se bestuurder, skerp na links geswenk om 'n botsing te vermy. Dit is toe dat die vragmotor deur die brug se relings gebars en op die spoorlyn beland het.
ONTKEN AANSPREEKLIKHEID
Cecil Nurse ontken aanspreeklikheid vir die ongeluk en gevolglike skade en kostes.
Volgens die respondente het 'n band van die ligte vragmotor gebars en kon Iileka nie die ongeluk voorkom nie, omdat hy beheer oor sy voertuig verloor het. Cecil Nurse voer aan Beukes kon sy vragmotor se remme aangeslaan het of die ligte vragmotor ontwyk het.
Hulle beweer ook die vragmotor se bande was seepglad en dat BME dus nie die lorrie behoorlik onderhou het nie.
Cecil Nurse voer aan BME skuld hulle N$170 000 vir hul skade nadat die afleweringsvoertuig afgeskryf is.
Regter Orben Sibeya het die saak vir bemiddeling verwys.
Me. Suené du Plooy verskyn vir BME en TransNamib en mnr. Francois Erasmus vir Cecil Nurse.
– [email protected]
FOTO’s
'n Vragmotor, 'n lorrie en 'n lokomotief is erg beskadig in 'n ongeluk twee jaar gelede. Foto's Verskaf

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie