Fratsongeluk: Vrou verdrink
Fratsongeluk: Vrou verdrink

Fratsongeluk: Vrou verdrink

Tanja Bause
Erwin Leuschner

’n Duitse burger, wat al jare lank in Namibië woon, het Saterdag omstreeks 20:00 in ’n fratsongeluk verdrink.

Die ongeluk het op die C28-grondpad sowat 40 kilometer buite Windhoek gebeur. Die vrou se oorskot is Sondag omstreeks 10:00 gevind.

Volgens ’n betroubare bron wat teenwoordig was, het die 73-jarige Namibiese man saam met sy Duitse lewensmaat in ’n Ford Ranger-bakkie vanaf sy plaas na Windhoek gery.

Sy plaas is sowat 60 kilometer wes van Windhoek geleë. Weens die sterk stortreën die afgelope paar weke het hulle besluit om ’n alternatiewe pad te ry. Teen skemer het hulle op die plaas Aub deur ’n kleinerige rivier gery. Die water in die rivier was sowat 30 cm diep en korter as ’n voertuig se lengte breed.

“Aan die ander kant van die rivier het hulle agtergekom die hek is gesluit en hulle moes omdraai,” het die bron gesê.

Die man het weer deur die water gery wat dié keer ’n bietjie dieper as voorheen was.

Hy het dus baie stadig deurgery.

Toe hulle in die middel van die rivier was, het die plaasdam se wal gebreek.

“Die massa water het die voertuig ingesluk en mens kon amper nie meer die voertuig sien nie.”

Die water het die voertuig gedraai en op sy bestuurskant omgegooi. Hulle was veilig in die voertuig totdat die voorruit gebreek het.”

Beide die man en vrou het met die hond uitgeklim en na die kant geswem. Hulle het mekaar vasgehou.

“’n Boomstomp het die vrou gestamp. Sy het haar houvas verloor en die water het haar weggespoel.”

Die man kon homself red en omstreeks 23:00 het sy seun hom gevind. Die vrou se liggaam is sowat 5 kilometer verder gevind. Die hond is ook gister gevind en hy is oukei.

“Die water was ongelooflik sterk en het oor ’n brug op die plaas Aub geloop.”

’n Boer van die omgewing het gesê dit is ’n baie tragiese ongeluk.

“Dit het baie gereën en hoër op van die rivier het ’n plaasdam gebreek. Die laaste dam was op die plaas Aub en dit was net te veel water wat afgekom het. Dit was ’n fratsongeluk van ’n dam wat breek en die voertuig wat op daardie oomblik in die rivier was. Dis baie tragies en traumaties,” het hy gesê.

Die C28-pad strek vanaf Windhoek – oor die Bosuapas – na Swakopmund.

Teen druktyd gister was die nasionale woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, nog nie van die voorval bewus nie.

“As so iets gebeur het, is dit nie by die polisie aangemeld nie,” het sy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!