Fratswind laat Otji-huis dakloos

Ten spyte daarvan dat eiendom beskadig is, is niemand tydens die voorval beseer nie en sal die skade na verwagting deur
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



'n Frats- warrelwind het die af­gelope naweek groot konsternasie op Otjiwarongo veroorsaak toe dit 'n huis se dak afgeruk het, dit oor die pad gewaai het en die sinkplate glo soos papier rondgestrooi het.

Alhoewel eiendom be­skadig is, is niemand tydens die voorval beseer nie en sal die skade na verwagting deur versekering uitbetaal word.

Me. Petro Feyerabend, wie se man, Chris, die eienaar van die eiendom is, sê sy het groot geskrik toe sy Saterdag op die toneel afkom.

Haar skoonfamlie woon tans in die huis en sy sê die woonstelgedeelte is 'n paar jaar gelede gebou.

Die stoep is ook onlangs eers gebou.

“Ek dink die skok tref my nou eers. Ek voel sommer lam vandag,” vertel Feyerabend. “'n Warrelwind het Saterdag om en by vyfuur die middag deur die huis gehardloop en die dak oor die pad laat vlieg.

“Van die bure sê hulle het gedink dis 'n vliegtuig wat val. Ander het gesien hoe die wind die dak soos 'n stuk papier waai en verfrommel.

“Die een buurvrou sê sy het ver­skeie van die dak se skroewe in haar erf gevind, die balke is in 'n boom gevind en 'n deel van die dak het in ander bure se erf beland,” sê sy.

“Dit moes 'n vreeslike wind gewees het.”

Sy sê hulle is nog besig om die omvang van die skade te bereken, maar die bedrading vir die elektrisiteit sal oorgedoen moet word en dit sal na raming sowat N$20 000 kos.

“Afgesien daarvan dat die dak oorgebou sal moet word, moet die plafon ook oorgedoen word,” het Feyer­abend gesê.

'n Buurvrou, me. Tanya Schietekat, sê sy het Saterdagmiddag 'n geluid gehoor wat klink soos 'n lorrie wat omval. Sy sê hulle bly langs die pad na Okahandja en hoor gereeld hoe lorries oor die spoedbulte aangery kom.

Sy sê toe sy die snaakse geluid hoor, het sy aanvanklik gedink dis 'n lorrie wat in 'n ongeluk betrokke is. Toe sy buitentoe kyk, sien sy hoe die sinkdak met 'n draai oor die straat waai en 'n deel daarvan tot in hul erf waai.

“Ek het net gedink 'my kar, my kar', want hy het buite gestaan. Dit het ons skadunet en muur beskadig – die palissades is letterlik gesny. Gelukkig het niemand seergekry nie.”

Schietekat sê sy het gehoor huisies in die informele dele van die dorp het ook weggewaai.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!