Fredericks open beursie vir Para-helde
Atletiek vir gestremdes
Jesse Jackson Kauraisa – Ananias Shikongo en Johannes Nambala, medaljewenners by die pas afgelope 2020 Paralimpiese Spele in Tokio, het gister ’n eervolle helde-ontvangs tydens die Namibiese span se terugkeer in Windhoek gekry.
Die 35-jarige Shikongo en Nambala (30) is vaandeldraers van ’n goue era in die land se Paralimpiese sport. Beide dié twee siggestremdes het ook by die vorige Spele (Rio 2016) medaljes gewen.
“Wat vir my uitgestaan het van hierdie Spele, was ’n oomblik op die spanbus nadat Ananias sy medalje gewen het. Die spangees en eenheid waarmee die atlete gesing het, was vir my baie treffend en het my laat terugdink aan my eie begindae toe ek ook sukkeltye in Katutura beleef het,” het Frank Fredericks, naellooplegende met vier Olimpiese silwermedaljes, gister in sy toespraak tydens die ontvangs by Hosea Kutako Internasionale Lughawe gesê.
“Ek wil graag die boodskap oordra dat ons moet voortgaan om hierdie atlete te ondersteun. Ek het (deur die Frank Fredericks-stigting) tevore vir Johannes N$250 000 gegee, wat klink soos baie geld, maar as jy dink aan iemand wat vir vyf jaar oefen in die strewe om ’n groot internasionale medalje te wen, is dit maar ’n beskeie bedrag.
“Ek weet hoe dit voel om ná so ’n gebeurtenis by die huis te kom en jou uitgawes te sien wat betaal moet word. Namens myself en die stigting gee ek dus N$20 000 aan elk van die atlete en N$10 000 elk aan die ondersteuningspan (gidshardlopers en afrigters), wat neerkom op ’n totaal van N$100 000,” het Fredericks bygevoeg.
“Ek wil hiermee vir hulle dankie sê vir hul opoffering vir die land en wil ander aanspoor om na ons atlete te help omsien.”
Namens die atlete het Nambala gesê tydens die besoek aan Staatshuis voor hul vertrek na Tokio het president Hage Geingob gesê die span moenie leë hande huis toe kom nie. Hy is dus verlig oor die bronsmedalje wat hy kon behaal, tesame met Shikongo se silwer.
Verteenwoordigers van die Paralimpiese span se hofborg, NamPower, asook hoë regeringslui soos minister Agnes Tjongarero van sport, jeug en nasionale diens en haar adjunk me. Emma Kantema-Gaomas het ook die klein groepie op die lughawe verwelkom.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie