Futiliteit van oorlog en misterie van liefde
Futiliteit van oorlog en misterie van liefde

Futiliteit van oorlog en misterie van liefde

Lloyd Zandberg
Laat ek wegval met ’n aantal clichés oor oorlog:

Om die veldslag te wen, is een ding; om die oorlog te wen, is iets heeltemal anders. My terroris is jou vryheidsvegter. Noudat jy die oorlog gewen het, vertel my hoe jy die vrede gaan wen?

Wat mens bring by die vraag: Hoe sinvol of sinloos is oorloë dan?

In die tagtigerjare was Suid-Afrika in ’n fel stryd gewikkel teen vyandelike magte in Angola.

Destyds het seuns met ’n knop op die maag hul matriekeindeksamen afgelê. Nie omdat die vraestelle noodwendig so uitmergelend was nie, maar omdat hulle toe reeds hul oproepinstruksies ontvang het vir militêre diensplig.

Om te weier kon jou in die tronk laat beland het. Hulle was niks minder of meer as kanonvoer nie.

Met Marita van der Vyver se jongste roman, Grensgeval, verkry daardie gewraakte woord wat kanonvoer is, name en gesigte. Wat verreken word, is die gevolge van oorlog lank ná die afloop daarvan.

Theresa Marais se huwelik met Theo van Velden het ses jaar gehou. Twintig jaar later het die lewe sy loop geneem en Theo het onlangs haar oorlede eksman geword.

Haar lewe sonder hom is geanker met gevestigde roetines. Teleurstelling het aanvaarding geword. Woede het plek gemaak vir vrede. En die wonder oor die man wat voor haar oë in ’n ander mens verander het, wat sy greep op die lewe verloor het, het ’n tipe wete geword dat die man vir wie sy eens lief was die slagoffer van donker spoke uit sy verlede was.

Waarop sy nie voorbereid is nie, is die ontdekking van weermag-memorabilia uit Theo se dienspligdae in ’n skoenboks wat ’n notaboek en ’n brief insluit. Die verlede meld hom met hierdie artikels genadeloos by Theresa aan en niks wat was of is, sal ooit weer dieselfde wees nie.

Die outeur van hierdie brief wat in Spaans geskryf is, ’n brief waarvan Theo nooit ontslae kon raak nie, is kennelik iemand wat aan die “ander kant” geveg het. ’n Terroris, die vyand dus.

Met die vertaling van die brief dring ’n verstaan tot Theresa deur wat haar blik op die verlede, die oorlog waarvan sy op ’n afstand bewus was, die sogenaamde vyand en haar man omvergooi. Dit is ’n brief wat ’n pa aan sy dogter geskryf het met die hoop dat sy dit eendag sal lees.

Vir Theresa is dit ’n uitgemaakte saak dat sy alles in haar vermoë moet doen om die brief van die gestorwe soldaat by die dogter te kry. Kort voor lank bevind sy haar op ’n vlug na Kuba met ’n allesoorheersende hoop om haar op te spoor.

Die handelsmerk wat Marita van der Vyver is, is op ’n manier uniek. Nie alleen is sy ’n gewilde skrywer wie se werk wyd gelees word nie, haar werk dwing ook respek af omdat dit belanghebbend is. Haar nis is dus die hoofstroom met genoeg letterkundige meriete vir die ernstige leser.

Met Grensgeval gaan Van der Vyver ’n stap verder omdat dit ’n volbloed- politieke stelling is. Weer eens egter vergesel van ’n diep menslike storie wat die leser boei van begin tot einde. Die verhaal funksioneer op drie vlakke. Dit is ’n reisverhaal wat ’n eksotiese landskap oopskryf. Die leser klim saam met Theresa Marais in ’n 1958-Plymouth Fury om Kuba met al sy verleidelike klanke, kleure en geure te verken en te beleef. Daar is ook die pynlike belewenis van ’n revolusie wat nooit die beloofde utopia voortgebring het nie.

Dit is ook ’n innerlike reis van ’n middeljarige Afrikaanse vrou wat gedwing word om haar jeugjare en haar huwelik in heroënskou te neem. En getrou aan die Van der Vyver-handelsmerk is dit ’n storie oor die liefde.

Dit is juis die lyflikheid, die sensualiteit van Van der Vyver se prosa wat weer eens nie teleurstel nie. ’n Beleë liefdesverhaal wat die perke wat ouderdom, ras, afstand en tyd soms op ons wil afdwing, met deernis opsy stoot.

Oudergewoonte put die leser weer veel genot uit al die letterkundige en kunsverwysings, asook haar woordvaardigheid wat so eie aan Van der Vyver is.

Oudergewoonte put die leser weer veel genot uit al die letterkundige en kunsverwysings, asook haar woordvaardigheid wat so eie aan Van der Vyver is.

Die eksistensiële essensie van Munch se skreeuende vrou, byvoorbeeld, pas perfek in hierdie verhaal om die rowe en letsels wat oorloë by mense agterlaat, aan die bod te bring. ’n “Opgefokte komvandaan” is so ’n lekker stelling in hierdie verband.

Grensgeval ontlok tans lewendige debat omdat Van der Vyver ’n besliste standpunt oor die Grensoorlog inneem. Soos die skrywer is hierdie resensent ook geheel en al gekant teen verpligte militêre diensplig.

Of die Grensoorlog vermy moes gewees het, verdien weliswaar om van verskillende kante af belig te word.

Met Grensgeval span Van der Vyver ’n besonder wye doek om ’n onvergeetlike verhaal oor oorlog en die liefde te vertel – die futiliteit van oorlog en die ontwykende misterie wat die liefde dikwels is.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!