Fysal-huiskopers ontevrede
Fysal-huiskopers ontevrede

Fysal-huiskopers ontevrede

Die huise se mure het glo binne maande nadat die inwoners ingetrek het, begin kraak.
Kristien Kruger
Tuyeimo Haidula – Die Oshakati-stadsraad se besluit om die name van inwoners op hul behuisingslys aan ontwikkelaars deur te gee, was nie heeltemal geslaagd nie, aangesien die ontwikkelaars daarvan beskuldig word dat hulle “minderwaardige” huise gelewer het nadat inwoners aanvanklik verkies het om hul eie huise te bou.

Die munisipaliteit het in 2018 by monde van hul woordvoerder, me. Katarina Kamari, erwe aan 36 ontwikkelaars toegeken om huise vir diegene op die waglys te bou. Die meerderheid van dié erwe is in Uitbreiding 16 en Ekuku.

Die inwoners op die behuisingslys was ontevrede met die behuisingskoste wat die ontwikkelaars vir hulle aangebied het en het gesê hulle sou verkies om hul eie huise te bou. Dié opsie was egter nie op die tafel nie.

Inwoners van die Ekuku-omgewing in die Oshakatistreek word tans die ergste geraak. Sommige van hierdie huise is in 2019 oorhandig.



HUISE SE TOESTAND

Een van die ontwikkelaars, Fysal Ontwikkelaarsmaatskappy, word daarvan beskuldig dat hul huise nie op standaard is nie en glo begin uitmekaar val het slegs 'n paar maande nadat dit aan die eienaars oorhandig is.

Namibian Sun het die huise gaan besoek om te kyk of die inwoners se klagtes gewig dra.

Die mure en verfwerk is in die meerderheid van die huise nie in goeie toestand nie. Die huise is ook in 'n vloedgebied gebou, maar geen interne waterdreinering is voorsien nie. Sommige van die huise wat nog leeg staan, se mure is reeds gekraak.

“Ons betaal baie geld vir hierdie huise en steeds weier die maatskappy om mense te help wie se huise besig is om in duie te stort. Hulle sê die waarborgtydperk is verby en dat ons self die opknappings moet doen.

“Ons voel dit is onregverdig, omdat die mure reeds begin kraak het slegs maande na ons ingetrek het,” het een van die inwoners gekla.



ONTWIKKELAARS ANTWOORD

Die senior uitvoerende direkteur van Fysal Ontwikkelaars, mnr. Yakeem Peacock, sê hulle is nie genoeg tyd gegee om op Namibian Sun se navrae te reageer nie en dat hulle dit sou verkies om die joernalis te vergesel na die individuele huise om 'n beter verduideliking van die situasie te bied.

Volgens Peacock is die huise op standaard, maar hy erken dat hulle drie klagte in verband met die behuising ontvang het.

“Die meeste van die kwessies, behalwe in 'n paar gevalle, is reeds opgelos,” het hy gesê.

Volgens hom het hulle 95% van die huise oorgeverf as gevolg van foutiewe voorraad en ander aspekte buite hul beheer. Die oorblywende 5% sal hulle klaarmaak wanneer die bouers terug van vakansie is.

“Om te veralgemeen dat hierdie enkele gevalle van toepassing is op al die huise wat gedurende dié tyd gebou is, is ietwat van 'n oordrywing,” het hy gesê.

Peacock ontken dat die huise 'n tekort aan dreinering het.

“Ons huise is toegerus met die dreineringstelsel soos dit vereis word. Ons gaan selfs die ekstra myl deurdat die huise se fondasies gelig word, hoër as enige ander ontwikkelaars in die omgewing. Al is dit 'n duurder proses, is dit van groter waarde vir ons kliënte.”

Hy het bygevoeg dat die kliënte die opsie het om enige bykomende stelsels deur hul maatskappy te laat installeer, of om dit self te doen.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!