G20-beraad goed vir Afrika en Suid-Afrika
G20-beraad goed vir Afrika en Suid-Afrika

G20-beraad goed vir Afrika en Suid-Afrika

Die naweek se G20-leiersberaad het goeie nuus vir Suid-Afrika en Afrika opgelewer, sê pres. Jacob Zuma.
Pres. Jacob Zuma van Suid-­Afrika was na die G20-beraad in Hamburg, Duitsland, vergesel van Maite Nkoana-Mashabane, ­minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Malusi Gigaba, minister van finansies, en Mmamaloko Kubayi, minister van energie.
Verskeie wêreldleiers, onder andere pres. Donald Trump van die VSA, Theresa May, die Britse premier, pres. Wladimir Poetin van Rusland, pres. Xi Jinping van China, Paolo Gentiloni, die Italiaanse premier, en Frankryk se pres. Emmanuel Macron, het die beraad bygewoon.
Angela Merkel, die Duitse bondskanselier, was die gasvrou.
Die beraad is gekenmerk deur gewelddadige botsings tussen die polisie en betogers. Tienduisende mense het teen die beraad betoog.
“Ondanks verskille oor sekere kwessies het die beraad daarin geslaag om oor verskeie ontwikkelingsake te praat wat tot voordeel van Suid-Afrika en die Afrikavasteland sal wees, en daaroor saamgestem. Dit sluit die G20-Afrika-vennootskap in,” het Zuma luidens 'n verklaring van die presidensie gesê.
Dié program sal bydra tot volhoubare, inklusiewe ekonomiese groei en ontwikkeling asook behoorlike werkskepping, ekonomiese voordeel inhou vir vroue en die jeug, en ook help om armoede en ongelykheid te verlig.
Volgens Zuma sal dit onder meer ontwikkelingsprojekte soos die ­G20-program vir landelike jeugindiensneming insluit. Die doel is om teen 2022 1,1 miljoen werksgeleent­hede in Afrika te skep, terwyl sowat 5 miljoen jeugdiges oor die volgende vyf jaar nuwe vaardighede geleer sal word.
Zuma sê baie aandag is ook op die beraad gegee aan die ­internasionale ekonomie, handel en beleggings.
“Die beraad het saamgestem dat hoewel daar verbeterings in handel en beleggings was, is die verspreiding daarvan nog nie regverdig genoeg nie.
“Die leiers het saamgestem dat handel en beleggings die pilare van groei en ontwikkeling is. Daarom is dit belangrik dat 'n vrye omgewing geskep word waar deursigtigheid, wedersydse voordelige handelsverhoudinge en inklusiewe en volhoubare internasionale groei bevorder word,” het Zuma gesê.
Onder die ander sake waaroor daar gepraat is, was volhoubare ontwikkeling, die klimaat en energie.
Hoewel die VSA onttrek het aan die Parys-klimaatooreenkoms, bly die meerderheid leiers verbind tot dié ooreenkoms, het Zuma gesê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!